Kunstefees bring ‘die hele ketoetie – allésaam’

“Platform 9: Homecoming” met Theodore Jantjies en Maurice Paige, is op pad Kaap toe van Johannesburg en wag op die platform. Verskeie karakters kruis hul pad. Die stuk is Kaapse komedie op sy beste. (Foto: Clifford Roberts)

“Vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) het ons almal se verwagtinge oortref met inspirerende artistieke inhoud van hoogstaande gehalte en bywoning wat die 2019-fees verbygesteek het.”

So sê Hugo Theart, artistieke direkteur en uitvoerende hoof van die KKNK, wat Sondag 9 April op Oudtshoorn tot ’n einde gekom het.

“Die KKNK het weer aan Oudtshoorn ’n broodnodige ekonomiese hupstoot gegee en dit was voorwaar ’n fees vir almal. KKNK is terug en die sukses van dié moederfees lei ’n belowende terugkeer vir volbloed kunstefeeste in Suid-Afrika in.

“Vanjaar se KKNK, geborg deur Absa, was die eerste volwaardige nasionale kunstefees wat na die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika aangebied is. Dit lei ’n nuwe era in, want die bedryf, die dorp en ons samelewing is nie dieselfde as voor die pandemie nie. Hierdie fees is die fondasie waarop ons bou en ons sien uit na die komende feeste, veral in die opbou tot die 30ste KKNK wat in 2026 aangebied word.”

Vanjaar se tema vir dié fees was “Die ketoetie – allésaam”.

Alles word ingespan om gehore te trek. Hierdie tyd en pyltjie het mense om die draai gelok vir ʼn musiek-uitvoering in die straat. (Foto: Clifford Roberts)

Vyf mense is vereer vir hul bydraes tot die kunste en ontvang KKNK-toekennings: Dawid Minnaar vir vertolking; Refentse vir ʼn jong stem; Early B vir die Kruispunt-toekenning; die voormalige hoof van RSG, Magdaleen Krüger, vir haar lewensbydrae tot kuns en kultuur; en Liza Grobler as amptelike feeskunstenaar. Vir haar uitstalling, Inkommers, laatkommers en laatlammers, wat in die Prince Vintcent-gebou uitgestal is, het sy met die hekelaars van ReWOLusie en die krale-kunstenaars van Qaqambile Bead Studio en die span van die Karoo Kaarte-projek saamgewerk.

Haar uitstalling kombineer visuele elemente uit die omliggende Klein Karoo met mondelinge oorvertellings uit die streek. Die narratief is gebaseer op die waarheid losweg verweef met verdigsels. Want wat anders is waarheid en leuen as twee perspektiewe op dieselfde saak?

Een van die Klein Karoo-ervarings, was die bierproe saam met Thorny Creek Brewery. Drie biere van dié boetiekbierbrouery in die hartjie van die Klein Karoo is saam met drie verskillende kase en tuisgebakte brood gekombineer. Een bier was ʼn heuningbostee Ale en die ander twee was ʼn Duitse Weiss en Imperial Stout. Jy kon self proe hoe die kompleksiteit van ʼn bepaalde bier by die intensiteit van ʼn bepaalde kaas pas.

Die gesprekreeks het ʼn wye reeks onderwerpe aangespreek wat onder meer van die toestand van die kunste tot die onderwys en klein ondernemings se toekoms ondersoek het.

Van die straatteater- en musiek-uitvoerings in Baron van Reedestraat – al vir jare die spilpunt van die KKNK – het onder meer optredes van Dirkie en Calvin ingesluit. Een van die komieklike uitstallings daar, was klere wat teen ʼn wit heining in die vorm van plaasdiere opgehang is.

Een van die Klein Karoo-ervarings was die bierproe saam met Thorny Creek Brewery. Drie biere van dié boetiekbierbrouery in die hartjie van die Klein Karoo is saam met drie verskillende kase en tuisgebakte brood gekombineer. (Foto: Clifford Roberts)

Die klug, Afval, het gehore laat skaterlag en is ontwikkel as deel van die Universiteit Stellebosch se dramadepartement se Première Teaterfees en deel van die KKNK se Teksmark in 2022. Dis ʼn malle geklap van deure, ontsnapte slagoffers, misverstande en besoekende diakens wat ʼn huis rot en kaal steel. Een van die komiese opmerkings kom van die diaken, wat verklaar: “Die kerk loop leeg en ons moet nou ander maniere vind om fondse in te samel. Ons het eers gedink dis die nuwe regering se skuld, maar dit blyk nie die rede te wees nie. Ons gee nou al twee glasies Nagmaalwyn en ʼn hele sny brood, maar die mense bly weg.”

Die stuk was die wenner van beste teks, beste ontwerp en beste ondersteunende aktrise by die Première Teaterfees in 2022.

Elsabé Zietsman was te sien in Femme is fatale met geslagsgeweld waarna niemand luister nie en het ook ʼn stalletjie op die fees gehad. Sy het vertel dat sy vir Wessel Pretorius ná afloop van My hart is ʼn muurbal (en ander gedagtes) waarvan hy die regie, stel-, en beligtingontwerp behartig het, ʼn boodskap gelos het om te sê as dit is wat jongmense met teater doen, is die toekoms van teater in goeie hande. Femme is fatale is benoem vir ʼn 2023 Fiësta vir beste musiekgedrewe produksie.

Die komediant Rob van Vuuren hou sy lyf kamma ghoeroetjie in Namaste Bae – Blessings and Kombucha. Hy help die gehoor met ʼn vyf-stap meditasie- en verligtingswerkswinkel. Hy gooi sy “heilige” water uit ʼn botteltjie oor die gehoor uit en met spa-musiek as agtergrond moet die gehoor in sy rituele deel, saam geluide maak en beweeg. Alles was toegeskryf aan die Moeder Skobi en die gehoor speel verbasend goed saam en lag – meestal goed op hul senuwees omdat hulle voortdurend iemand op die verhoog nooi om (onwillig) deel van die verrigtinge te wees.

Een van die komieklike uitstallings in Baron van Reedestraat, was klere wat teen ʼn wit heining in die vorm van plaasdiere opgehang is. Dit was deel van die straatkuns by die fees as deel van die hele ketoetie – altesaam, vanjaar se feesslagspreuk. (Foto: Clifford Roberts)

Platform 9: Homecoming met Theodore Jantjies en Maurice Paige, is op pad Kaap toe van Johannesburg en wag op die platform. Verskeie karakters kruis hul pad. Voor die vertoning hoor ek twee vroue sê hulle moet gou badkamer toe, want “ons gaan nou lekker lag en daarvoor moet ons blase leeg wees”.

Die stuk is Kaapse komedie op sy beste en steek die draak met verskeie onderwerpe en kondig onder meer aan: dat almal op die platform, dames en here en dié wat nie identifiseer met dames of here nie, ook welkom is. Daar is stereotipiese karakters en sêgoed soos: “Hy is nie nie-geweldadig nie, hy is net bang”, “as jy nie ʼn rol in 7de Laan kry nie, doen jy oudisies vir Suidooster, want daar kry almal rolle”. Die gehoor het vir 65 minute geskaterlag – nie net vir die manewales van die akteurs nie, maar vir die raak beskrywings van wie ons almal in die reënboognasie is.

In Bul met René Cloete, Wian Taljaard, Wynand Kotze en Peggy Tunyiswa, is dit ʼn gestoei van die eerste waters om gewild te wees; die baas se witbroodjie te wees; en jou werk te behou. Die blaremuur en oerwoudklanke voorspel onheil vir een “swakker” werknemer wat die trekpas moet kry, maar voor dit kan gebeur, moet sy twee kollegas hom eers afbreek en verneder.

Van die straatteater- en musiek-uitvoerings in Baron van Reedestraat – al vir jare die spilpunt van die KKNK – het onder meer optredes van Dirkie en Calvin ingesluit. (Foto: Clifford Roberts)

Ernstiger stukkie soos Die Moeder, Die fel omstrede kroon van Edward III en Gaveston, ʼn Akkerboom, Die goeie pa, Kamphoer: Die verhaal van Susan Nell en My kroon se krank, het sale volgehou.

Kunsuitstallings is regoor die dorp in sale, winkels en gastehuise gehou en het werke van die South African Pavilion at La Biennale Arte in Venesië 2022 tot Aardling (erdewerk), Die Inkarnasie van vrouwees, ʼn Goeie dag vir ʼn slag (oor die Slag van Bloedrivier) en Transparent (plekspesifieke muurskilderye rondom die dorp in die veld) ingesluit. Verskeie visuele kuns-rondleidings is ook aangebied. By Rosenhof Country House kon feesgangers selfs werke van Hardy Botha, Jan Vermeiren en Breyten Breytenbach besigtig. Lisl Barry het ook haar ateljee vir feesgangers geopen, terwyl sy geskilder het.

Jy kon ook na stoepstories met bekendes luister; leer hoe om te grimeer met Willem Botha; meer leer oor blydskap saam met Johannes de Villiers en die mooie fotografie met musiek deur Coenie de Villiers en woorde deur Deon Meyer ervaar.

Verskeie tente en sale is deur uitstallers oorgeneem en het lekker blaaskansies tussen vertonings gebied. By die Van Loveren-stalletjie in die feesmark kon wyne geproe en gekoop word en daar kon ook lekker met pizza en wyn in die middel van die saal gekuier word. (Foto: Clifford Roberts)

“Om weer al die getroue feesgangers in die strate raak te loop en kunstenaars te sien gloei omdat hulle weer voor en vir gehore kan optree en doen waarvoor hulle lief is, was wonderlik. Ek is verlig dat ons vanjaar al hierdie elemente kon aanbied en baie trots op die hele KKNK-span. Ons kon ten spyte van uitdagings soos beurtkrag en ekonomiese druk ’n kunstefees aanbied wat seepglad verloop het,” sê Theart.

Crispin Sonn, voorsitter van die KKNK, sê die beplanning was intens en die afwagting op hoe feesgangers op die eerste vollengte nege dag kunstefees na die Covid-19-pandemie sou reageer, was baie groot.

“Soos ons jaar na jaar leer, as ons gefokus bly op topgehalte inhoud en verskeidenheid, bly ons feesgangers lojaal en lok ons meer en meer nuwe feesgangers na Oudtshoorn. Ons is dankbaar dat Oudtshoorn en ons borge ons so gewillig ondersteun en aanmoedig. Nogtans gebeur ’n kunstefees soos hierdie nie sonder die ongelooflike passie en insig van ons uitvoerende span en ons personeel, wat ’n jaar werk om die gehalte van so ’n fees te verseker nie. Dit is dus met groot trots dat ek en ’n dankbare en opgewonde direksie kan sê: ‘Welgedaan, ons is trots op die 2023-kunstefees.’ Die KKNK is terug met ’n oorverdowende bang,” sluit Sonn af.

  • Blok nou al jou kalender uit, want die KKNK word aanstaande jaar van 23 tot 31 Maart op Oudtshoorn aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.