Kunstenaar se droom lei tot groot konsert

Te danke aan Drihan du Plessis – skrywer, musikant en argitek – se droom word die eerste SING, HOOP, WEERKLINK-konsert op 30 November deur Solidariteit Helpende Hand by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied. (Foto: Verskaf)

ʼn Kunstenaar se droom, wat ʼn voorbode van ʼn geliefde se dood was, het gelei tot ʼn groot konsert met die doel om hoop te skep en mense met gestremdhede, asook Jan Alleman bymekaar te bring.

Te danke aan Drihan du Plessis – skrywer, musikant en argitek – se droom word die eerste SING, HOOP, WEERKLINK-konsert op 30 November deur Solidariteit Helpende Hand by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets, Ricus Nel en Vernon Barnard gaan by die geleentheid optree en Du Plessis sal ook sy lied “Sing, Hoop, Weerklink” bekendstel.

Volgens René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, is die doel van die konsert onder meer om geld vir Helpende Hand in te samel. Dit sal dan aangewend word vir volhoubare aksies en projekte wat ʼn verskil in mense met gestremdhede se lewe maak.

“Drihan, wat self gestremd is, het vroeër vanjaar die saadjie van dié konsert in Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Helpende Hand, se kantoor geplant,” sê Roux.

Du Plessis vertel hy het gedroom die Here praat met hom. Die Here en sy oom het vir hom gesê hoe hulle ʼn groot gehoor van hoop hoor weerklink. Ná hierdie droom het Du Plessis met ʼn gevoel van moedigheid wakker geword. Kort daarna het sy geliefdes hom laat weet dat sy oom oor wie hy gedroom het, in die hospitaal waar hy vir Covid-19 behandel is, oorlede is.

Roux sê Drihan het nie dadelik sy droom verstaan nie, en hy het ook nie dadelik geweet wat om van die gesprek met die Here te maak nie. Hy het net begin skryf en aanhou skryf. Hy het ʼn lied, “Sing, Hoop, Weerklink”, geskryf wat die stilte verbreek en deur die plundery en onluste skeur.

“Hierdie hoopdroomlied sluit aan by Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsaksie om holisties na die welstand van ons gesinne, kwesbares en mense met gestremdhede om te sien. Ondanks al die hekkies waaroor Drihan al in sy lewe moes spring, het hy besluit om vorentoe te stap en te sê: ‘As ek kan, kan jy. Wat is jou verskoning?’ Dit is die saadjie wat ons in ons gemeenskappe wil plant,” vertel Roux.

Kunstenaars soos Demi Lee Moore, Mathys Roets en Ricus Nel is by die eerste SING, HOOP, WEERKLINK-konsert te sien. (Foto’s: Verskaf)

Helpende Hand bedank graag die borge wat hierdie geleentheid moontlik maak. Die hoofborge is Virseker en Dapper Media, asook Maroela Media wat die mediavennoot is. Die ander groot borge is Yolande van der Westhuizen Oudioloë, Marius Prinsloo Ortotika en Prostetika en Monument Toyota Wes-Rand.

Daar is slegs ʼn beperkte aantal kaartjies vir die konsert by die Voortrekkermonument beskikbaar. Mense wat egter nie self daar kan wees nie, kan dit ook aanlyn kyk. Besoek www.weerklink.co.za vir meer inligting of om kaartjies te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.