Kunstenaar van die week: MD Greyling

6 snare en MDMD Greyling is geen onbekende in die musiekbedryf nie. Op ’n vroeë ouderdom het MD al die liefde vir klavier en kitaar ontwikkel; dit was egter sy skryfwerk en stem wat hom na hoë vlaktes gelei het. MD is deur meeste van ons top sangers al genader om as agtergrondsanger en harmoniseerder op hulle albums te werk. Wat harmonieë en verwerkings van melodieë aanbetref, is MD sekerlik een van ons bestes. MD is tans een van Suid-Afrika se gewildste liedjieskrywers wat al vir menige kunstenaars, soos Theuns Jordaan, al geskryf het. Sy unieke styl laat jou dadelik dink aan die John Lennons, Billy Joels en Elton Johns van die wêreld. Buiten MD se besondere skryftalent, is hy ewe gemaklik agter die klavier en kitaar, waarin hy ook kennis opgedoen het by die destydse Technikon van Pretoria se Jazz departement. MD is nie net bekend as solokunstenaar en skrywer nie, maar is ook deel van die suksesspan van die talentvolle 6 Snare-groep waar hy een van die ankerlede is. Met ’n skrywer en sanger soos dié in ons bedryf sien ons uit na ’n rooskleurige toekoms vir die Afrikaanse musiekbedryf.

Kom ons leer MD Greyling ken deur vyf vrae wat ek aan hom gestel het.

  1. MD, jy is reeds ’n bekende sanger en liedjieskrywer. Watter raad kan jy vir opkomende kunstenaars gee om dit te maak in die industrie?

In my opinie gaan dit oor oorspronklikheid. Daar is baie kunstenaars wat probeer klink soos iemand anders. Doen waarin jy glo en waarvoor jy lief is.

  1. Waarvan hou jy die meeste? Om te skryf, op te neem of lewendige optredes?

Dit is moeilik om te kies, maar daar is min dinge so lekker in die lewe soos om op ’n verhoog te wees en met mense te kommunikeer, hetsy dit nou in die vorm van ’n liedjie of net gesels is. Die lewe is nie altyd maklik nie, en ons almal sit maar met ons eie probleme, maar om iemand vir ’n uur of twee te kan laat vergeet van dit wat hom pla, is iets wat ek nie kan beskryf nie.

  1. Jy is ook deesdae deel van die formidabele Pretoria FM-span. Wat is jou rol daar?

Ek is ’n omroeper by Pretoria FM (Klankkoerant, laat-middag, weeksdae tussen 16h00 en 18h30). Radio het die manier om diep in jou are in te kruip en is een van die wonderlikste maniere van kommunikasie. Om saam met so ’n dinamiese span by Pretoria FM te werk, kweek ’n natuurlike positiewe gesindheid en gee my genoeg rede om elke dag met ’n glimlag op te staan.

  1. Jy is ook deel van die bekende kitaargroep 6 Snare. Waarna kan die gehore volgende uitsien? (Is daar ’n CD of DVD op pad?)

Met ons splinternuwe konsert Back to Basics keer ons terug na die musiek wat ons inspireer. Ons stof van die grootste treffers af en “versnaar” dit sodat dit inpas by dit wat ons die beste op die verhoog kan doen.

  1. Wat gee jou tans die meeste vreugde in jou lewe?

Ek lewe vir my pragtige vrou, Denise, en ons 3 maande oue seuntjie Divan. Die hoeveelheid vreugde wat hy vir ons bring, maak my soms blind vir die besige lewe daar buite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.