Kunstenaar van die week: Wouter van de Venter

Wouter van de Venter

Foto verskaf aan Maroela Media

Wouter van de Venter is ’n ou bekende in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. So lank as wat hy kan onthou, was hy maar ’n liedjieskrywer. Wouter het ná skool sy graad in jazz aan die destydse Technikon van Pretoria voltooi.

Hy het aanvanklik net in Engels geskryf tot 1995, toe sy eerste Afrikaanse liedjie die lig gesien het. In die beginjare raak hy bevriend met Jannie du Toit en ’n lewenslange vriendskapsband word gesmee.

Danksy Wouter se meesterlike kitaarspel en naam as ghoeroe-liedjieskrywer, word hy ook deur Laurika Rauch genader. Hy begelei haar op die kitaar vir drie jaar. Hulle het onder meer by die Royal Albert Hall en Wembley in Engeland opgetree. Die topteaters in Suid-Afrika het ook vir Laurika met Wouter en sy span gehuisves. “Dit was die beste drie jaar van my lewe,” beaam Wouter.

Daarna word sy tweede album, Donkerkant, vrygestel en opgehemel in die media. As toonaangewende liedjieskrywer was Wouter ook agt jaar betrokke by die ATKV se liedjieskryfskool. Hy was een van die stigterslede van die kitaarsensasie Ses Snare.

Wouter werk tans aan sy langverwagte derde album, terwyl hy ook sy eie ateljee, Fine Tune, saam met die sangpaar Wynand en Cheree aan die Weskus in Langebaan bedryf. Daar word terdeë uitgesien na Wouter se nuwe materiaal. As liedjieskrywer van formaat, is daar baie jong opkomende skrywers wat kan leer uit Wouter se werk.

Vrae aan Wouter van de Venter:

  1. Wat was jou eerste bekende lied wat jy geskryf het?
  2. “Sonder jou”. Dit was my eerste musiekvideo wat Select Music vir my gemaak het en MK het dit stukkend gespeel. Maar “Pretoria Prinses” van Dozi is seker maar die een wat die meeste mense ken.

  3. Jy het lank saam met Laurika Rauch gewerk. Wat was jou rol saam met haar?
  4. Ek het vir haar kitaar gespeel en die voorreg gehad om ’n hele klomp internasionale vertonings saam met haar te lewer, soos onder meer by die Royal Albert Hall en Wembley. Sy het ook twee van my liedjies, “Ek roep jou naam” en “Beste vriende” (’n duet wat ek saam met haar gesing het), opgeneem.

  5. Vir watter mense het jy al geskryf?
  6. Ses Snare, Theuns Jordaan, Dozi, Laurika Rauch, Sarah Theron, Mathys Roets, Pieter Smith, Jaco Labuschagne, MD Greyling, Wynand Strydom, Die Broers en heelwat ander.

  7. Sal jy ooit weer die Weskus vir Gauteng verruil?
  8. Nee, nie maklik nie.

  9. Hoe komponeer jy? Op klavier of kitaar? Melodie of liriek eerste?
  10. Ek skryf op kitaar en doen melodie en liriek van die begin af saam. Vers vir vers, koor vir koor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.