Kunstenaar van die week: Wynand & Chereé

Wynand&ChereeCOVER

Foto verskaf aan Maroela Media

Suksesvolle duetpare in Suid-Afrika is so skaars soos hoendertande, maar tans kan ons bedryf wel spog met die glanspaar Wynand en Chereé. Die sangpaar wat ook getroud is, is al die afgelope paar jaar ’n sterk span om mee gereken te word.

Van hulle albums soos Dit is ons lewe en Ons gunsteling duette het groot sukses behaal onder die publiek. Dit was egter hul country-album, The Highwaymen, waarin hulle liedjies vertolk het van Willie Nelson, Kris Kristofferson, Johnny Cash en Waylon Jennings, wat groot opslae gemaak het en hierdie sangpaar as van die beste in ons bedryf gevestig het.

Hul duetvertonings is ook ’n groot gunsteling by feeste en ander optredes waar hulle groot gehore trek, voorwaar ’n paartjie wat al ’n huishoudelike naam in ons land geword het. Toe Wynand, wat eers in Gauteng gewoon het, vir Chereé ontmoet, het hy sy tuiste vir die Kaap verruil waar hulle nou hul pragtige kinders grootmaak en ook ’n ateljee bedryf in die mooie Langebaan aan die Weskus.

Hulle is tans besig met hul volgende duetalbum. “Ons beplan om 15 Afrikaanse liedjies op te neem,” sê Chereé. Die volgende album van hierdie sangpaar is voorwaar iets om na uit te sien. Twee is altyd beter as een en hierdie twee mooi sangers het dit aan die publiek bewys.

Vyf vrae aan Wynand en Chereé

  1. Wanneer is daar weer ’n duetalbum op die rakke?

Ons is tans besig met ’n nuwe duetalbum. Dis tyd! Ons kry baie goeie terugvoering by die optredes oor ons sang saam, so ’n duetalbum is nou nodig! Ons laaste twee albums het treffers van ander kunstenaars bevat (dus cover albums). Ons sien dus uit om 15 nuwe Afrikaanse liedjies hierdie keer op te neem. Die album sal bestaan uit vyf Wynand & Chereé-liedjies, vyf Wynand-liedjies en dan vyf Chereé-liedjies. Ons werk al lank aan die handelsmerk van Wynand en Chereé en tog is daar nog mense daarbuite wat vra wanneer neem ons weer “ietsie solo” op. Hierdie album gee ons daardie geleentheid. Ek en Wynand se solomusiekstyl is nie ver verwyder nie; in werklikheid hou ons baie van dieselfde soort musiek, maar tog het ons albei dit ook nodig om ons eie identiteit te behou. En so hou ons almal gelukkig!

  1. Wie skryf die meeste liedjies tussen julle twee?

As dit kom by liedjieskryf, moet ons eerlik erken dat dit nie altyd so maklik is nie. Ek dink as ons een ding al geleer het, is dit om tyd te maak vir liedjieskryf. Maar tussen ons twee sal ek beslis sê dis ek (Chereé) wat meer liedjies skryf … om die waarheid te sê, ek skryf baie … as ons in die kar klim om op reis te gaan, het ek my dagboek en pen by my. Ek hoor partykeer die liedjies in my kop en wens ek kon alles onthou, maar ja, dis makliker vir Wynand om mooi woorde te skryf, want hy het ’n gawe met woorde. Hy het al ’n klomp gedigte geskryf, nog altyd, vandat hy ’n tiener was, ek nie. Ek was altyd in die bevoorregte posisie om onder die vlerk te wees van twee uitstekende liedjieskrywers, Tony en Clive Ridgway – hulle het my bederf met liedjies. Tog dink ek dit was ’n leerskool vir my, want ek skryf baie soos hulle … eerlik. Ek het eers liedjieskryf ernstig begin opneem toe ek vasstel ek is swanger met my oudste. Ek het ’n liedjie vir haar geskryf en dit was soos om ’n kraan oop te draai. Ek het natuurlik al my liedjies met Tony Ridgway gedeel, want as hy dink dis goed, dan is ek op die regte pad. Maar liedjieskryf is ’n persoonlike ding vir my. Vir ander nie. Ek en Tony het ook al ’n paar fantastiese liedjies saamgeskryf. Ek sien daarna uit om hierdie liedjies en van my eie op ’n country-album op te neem, dalk later vanjaar.

  1. Chereé, jy is bekend as countrysangeres. Saam met wie sal jy graag eendag nog wil opneem?

Dis ’n moeilike vraag, daar is so baie, maar as ek twee kan uitsonder … internasionaal is dit beslis Blake Shelton – sjoe, toe ek sy musiek ontdek, was ek behep met hom. Ek is mal oor die moderne soort countryliedjies wat hy sing, asook daardie meer tradisionele country wat hy inbring, en sy stem is ongelooflik mooi.

Dan, plaaslik gaan ek moet sê Tony Ridgway. Ek en hy het al ’n paar liedjies opgeneem en ons gaan nog eendag ’n album uitbring, maar ek sal saam met hom wil sing, want ons stemme smelt so mooi saam. Ons ken mekaar al so lank, vandat ek ’n baie jong meisie was. Ek het so baie geleer by Tony as dit kom by musiek, ek voel dat dit net reg sal wees as ons saamwerk. Die album wat ons saam wil uitbring, is net so terloops getiteld mentor & muse.

  1. Wynand, wat of wie is jou inspirasie as jy skryf?

Dinge na aan my hart. Die bosveld, my kinders en familie, sekere ervarings in my lewe. Ek sukkel nog elke nou en dan met die liedjieskryf, want anders as Chereé, het ek nie grootgeword met liedjieskrywers en musiek om my nie. Ek was soos enige gewone kind wat in my kamer musiek geluister het – ander kinders het na Metallica geluister en vir my was dit altyd Koos Doep, Stef Bos, Laurika Rauch, Anton Goosen … Dis hulle wat my geïnspireer het om gedigte te begin skryf. Ek het ’n laai vol gedigte wat ek al geskryf het van my tienerdae af … wie weet … dalk moet ek hulle gaan afstof en liedjies daarvan maak! Ek skryf saam met Kobie van Vonk ook – ons verstaan mekaar en as dit kom by musiek, het ons baie dieselfde musieksmaak.

  1. Hoe lank tree julle al as ’n duetpaar op?

Ons het in 2006 verlief geraak en van daardie oomblik af het ons besluit ons wil saam sing. In 2007 is ons eerste duetalbum, Dit is ons lewe, vrygestel deur Leo Musiek. Dit was ’n manier om daardie tyd vir almal te laat verstaan dat ons graag saam wil optree, maar dat mense ons as een kan bespreek en tog drie optredes in een kry – dit is Wynand & Chereé, Wynand Strydom en dan Chereé. So het ons seker gemaak dat ons nie gereeld sonder mekaar hoef te reis nie. Ons wil saam wees, want ons verhouding is vir ons die heel belangrikste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bessie ·

Nee wat. Hierdie twee is wanna-bees wat regtig soos kindertuin sing. Weet nie hoe hulle tot so ver gekom het nie. duette is by tye vals en naar op die oor

marius ·

die liedjie “come and lay down by my side”moet nie gesing word nie,die woorde”let the devil take tomorrow” gee aan hom reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.