Kunstenaars gryp in om ouetehuis te help

prime circle

Prime Circle. (Foto: Facebook)

ʼn Groep Suid-Afrikaanse kunstenaars, onder wie die rockgroep Prime Circle en die folk-musiekgroep Die Coffee Snobs, vat eersdaags hande in ʼn poging om geld in te samel om ʼn ouetehuis op Marble Hall in Mpumalanga se deure oop te hou.

Colene Fourie, beheerliggaamlid en projekkoördineerder van die Loskopvallei Rusoord, het aan Maroela Media gesê die ouetehuis het die afgelope paar jaar geen subsidie van die staat af ontvang nie en is afhanklik van die gemeenskap se aalmoese om nie die deure te sluit nie.

“Die rusoord is ʼn niewinsgewende organisasie en die skuld het ná vier of vyf jaar sonder enige hulp met finansiering van die staat so opgehoop dat ons sukkel om kop bo water te hou,” het Fourie gesê.

“Die staatsubsidie wat die oord vir baie jare gekry het, is teruggetrek. Dit het gelei tot verhoogde tariewe en daarom is die tehuis meer afhanklik van skenkings,” het Fourie verduidelik.

Die Coffee Snobs. (Foto: Verskaf)

Sy en die beheerliggaam het verlede jaar met die idee van die konsert vorendag gekom toe hulle begin planne beraam het om geld in te samel sodat hulle die wa deur die drif kan trek.

“Ons weet nie wat ons met ons mense sal doen as die deure moet toemaak nie. Sommige van hulle het nie eens kinders nie!”

Nadat Prime Circle ingestem het om op te tree, is die besluit geneem om die konsert “Prime Circle is Coming to Town Musiekfees” te doop. Die Verweg Orkes, Die Coffee Snobs en Andries Potgieter gaan ook ʼn draai op die verhoog maak.

“My hart gaan uit na ons mense en ek hoop opreg ons kan genoeg mense trek om darem net van hulle skuld wat oor die jare opgehoop het, te delg,” het Fourie bygevoeg.

Ross Learmonth, voorsanger van Prime Circle, het aan Maroela Media gesê die groep het besef ouetehuise “kan ʼn eensame plek wees”. “ʼn Rock-vertoning kan weer lewe in die plek blaas en die opbrengs van die konsert gaan die tehuis soveel baat. Ons sien baie uit daarna om op te tree,” het hy gesê.

Die musiekfees Prime Circle is Coming to Town vind op 17 Maart plaas by die Chris Wiid-rugbystadion in Groblersdal.

Kaartjies kos R160 en is beskikbaar by Quicket.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Brenda Slabbert ·

Dankie en sterkte aan almal wat bydrae lewer om Rusoord oop te hou. (Marble Hall is in Limpopo. )

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.