Kunstenaars in Bloem vind baat by musikant se hartsprojek

Jacobus Silwer en sy vrou, Lizamé Coetzee. Hul eersteling, Emmalé Judith Coetzee, maak in Augustus haar opwagting. (Foto: Urban Photography)

Jacobus Silwer en sy vrou, Lizamé Coetzee. Hul eersteling, Emmalé Judith Coetzee, maak in Augustus haar opwagting. (Foto: Urban Photography)

Die musikant Jacobus Silwer en sy vrou, Lizamé, is trotse Bloemfonteiners wat ʼn behoefte en ʼn gebrek aan kennis oor die musiekwêreld onder onafhanklike kunstenaars in dié Vrystaatse hoofstad raakgesien het.

Daarom het hulle besluit om die ‘Al die pad van Bloem’-projek van stapel te stuur. Dié projek het ten doel om kunstenaars wat nie aan platemaatskappye verbonde is nie toe te rus met die nodige kennis en vaardigheid om onafhanklik van ʼn platemaatskappy sukses in die vermaakbedryf te behaal.

Jacobus vertel hy was vir drie jaar betrokke by ʼn platemaatskappy. “Toe ek daar uitstap, het ek absoluut niks geweet nie. Ek moes self inligting bekom oor hoe om ʼn kwaliteit-album te maak, iets wat regtigwaar ʼn ordentlike produk is.

“Ek het ook vinnig besef as ek nie ʼn goeie maatskappy het wat my bemarking kan behartig nie, kan ek sing tot ek blou is in die gesig, maar ek het bemarking nodig. Ek het agtergekom dat daar baie ander talentvolle kunstenaars is wat ook nie weet waar om hierdie inligting te kry nie.”

Een van die kunstenaars tydens die Vrystaat Kunstefees. (Foto: Patrick Foster)

Een van die kunstenaars tydens die Vrystaat Kunstefees. (Foto: Patrick Foster)

Volgens Jacobus loop die vermaakbedryf en die sakewêreld hand en hand en daarom was dit vir hom en Lizamé belangrik om ʼn platform te skep vir ander onafhanklike kunstenaars om sake-advies te bekom.

“Die groot platemaatskappye het die hef in die hand en dié maatskappye verskaf leiding aan hul kunstenaars wat die administratiewe kennis wat ʼn kunstenaar nodig het om sukses te behaal, sonder om hul toe te rus met die kennis.

“Die ‘Al die pad van Bloem’-projek gee aandag aan aspekte soos sosialemediabemarking, voorkoms en administrasie,” sê hy.

Hy vertel terwyl hy aan die jaarlikse Passiespele gewerk het, het Lizamé agter die skerms aan die ‘Al die pad van Bloem’-projek begin timmer. “Ons het oor ʼn tydperk van 18 maande al ons inligting versamel en ons leer nog steeds. Vir ons is dit die belangrikste om vir ʼn kunstenaar wat tot sy volle reg moet kom, die gereedskap te gee om dit mee te doen.”

Die hart van die projek is oorspronklike musiek en komposisies. “Musikante van alle ouderdomme kon liedjies in enige van die 11 amptelike landstale inskryf. Van daar het ons ʼn album opgeneem met die liedjies en dié album is tydens vanjaar se Vrystaat Kunstefees by die Kovsie Kopanong-gebou op die universiteitskampus bekendgestel. Die gehoor was gaande daaroor en die terugvoer was ongelooflik.”

Hy sê hy en Lizamé beplan om die projek vir nog drie jaar te laat aangaan. “Ons hoop dit beleef ʼn oplewing in belangstelling. Ons beplan om ʼn webwerf op die been te bring waar die inligting wat ons versamel het vir enige kunstenaar beskikbaar sal wees, maar die hartjie van die projek bly in Bloemfontein.”

Tydens die Vrystaat Kunstefees. (Foto: Patrick Foster)

Tydens die Vrystaat Kunstefees. (Foto: Patrick Foster)

Volgens Jacobus verdien hy en sy vrou geen inkomste uit dié hartsprojek nie. “Daar is so baie mense in Bloemfontein wat nie sukses behaal nie, bloot omdat hulle nie weet hoe nie. So ons almal werk saam hieraan as ʼn musiekgemeenskap in Bloemfontein, en die plaaslike ouens ondersteun mekaar geweldig baie. Herman Lombaard van Legacy Invest het ʼn ongelooflike bydrae tot die projek gemaak.”

Hy vertel dat ʼn voorkomskonsultant van Posh Lab, Sharlien Wentzel, haar dienste gratis aangebied het tydens ʼn werksessie waar die deelnemende kunstenaars geleer is hoe hul voorkoms by hul vertonings kan pas. “Sy is so goed en het regtig die kunstenaars se karakters na vore gebring.”

ʼn Plaaslike sosialemediabemarkingsmaatskappy het ook handjie bygesit tydens die werksessies. “Hulle het vir die kunstenaars kom leer hoe om die algoritmes te vermy en ʼn goeie impak te maak op sosiale media. Tydens die beginnerswerksessie het hulle die basiese beginsels van aanlynbemarking vir die kunstenaars kom verduidelik.”

Die sanger en sy vrou is dit eens dat die hart van die projek nie ʼn wenner uitwys nie. “Wanneer die projek tot sy volle reg gekom het, sal ons graag vir elkeen sy eie platform wil skep en nie net enkeles uitsonder nie.”

ʼn Musiekvideo, wat geborg is deur Francois Slabbert van Palm Photography, word op 2 Augustus in Bloemfontein geskiet. “Ons sal uiteindelik op die punt wil kom waar ons vir elke ou wat deel is van die projek, sy of haar eie musiekvideo wil gee.”

Die egpaar, wie se eersteling Emmalé Judith Coetzee in Augustus vanjaar haar opwagting maak, sê inskrywings vir volgende jaar sal in September vanjaar weer open. “Dit is wat ons beoog. Ons sal dan weer die musiek laat hoor op die Vrystaat Kunstefees, net soos wat ons vanjaar gedoen het. Dis belangrik dat musikante weet: Niks keer ons nie. Ons wil graag sien hoe outentieke kunstenaars die erkenning kry wat hulle verdien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.