Kunstenaars span saam vir unieke musiekkonsert

Die Musiek soos Grond-kunstenaars (Foto: Hendri van Skoll Photography)

Die nuwe musiekkonserte, getiteld Musiek soos Grond, is die heel eerste van sy soort in Suid-Afrika en wil sorg vir ’n musiekervaring wat jy nie wil misloop nie.

Dié twee konserte is daarop gemik om vir kontemporêre kunstenaars ’n platform te gee om hulle lirieke, lewensverhale en veelsydigheid op die verhoog met gehore te deel.

Villa Avianto in Bloemfontein en The Big Red Barn in Pretoria gaan binnekort die tuistes wees van dié unieke musiekkonserte, wat beloof om aangrypende musiek en van die beste talent in Suid-Afrika ten toon te stel.

“Die idee om ’n platform vir onafhanklike Afrikaanse kunstenaars te skep waar hulle unieke musiek en woorde ten toon gestel kan word, broei al ’n paar jaar in my hart,” het Rupert van Vuuren, die besturende direkteur van Musiek soos Grond gesê.

“Toe Joshua na die Reën vir my vra om saam met hom hierdie platform te skep, kon ek nie vinnig genoeg ja sê nie. Elke Musiek soos Grond-aand gaan uniek, kosbaar en onvergeetlik wees. Dit is ’n voorreg om die pad te kan stap saam met hierdie dinamiese groep kunstenaars.”

Joshua na die Reën, Kaleidoskoop, Len Muller, Leon Gropp, Lizandra Winter en Liani Reynolds gaan almal die verhoog deel en nie net hulle eie verwerkings opvoer nie, maar ook saam musiek maak en mekaar begelei.

“Ek het eendag besef dat mense in die gehoor, by konserte, soos grond is waarop musiek val. Elkeen ervaar dit anders en uit daardie belewenis groei daar iets unieks. Daarom wil ons by elke vertoning ’n afwagting, eerder as ’n verwagting skep, sodat almal saam met ons kan kom ervaar hoe die aand uitdraai,” het Joshua na die Reën, wat die musiekproduksie gaan behartig, gesê.

“Die vertonings gaan ’n baie vloeibare formaat hê en hopelik ’n geleentheid skep vir luisteraars om weer die dieper aspekte van musiek en lirieke te waardeer,” het hy gesê.

Hoewel die idee agter elke geleentheid dieselfde is, kan diegene wat dit bywoon, uitsien daarna om aangenaam verras te word, want nie een van die twee gemengde konserte gaan dieselfde wees nie.

“Die idee het ontstaan toe ’n paar van ons begin gesels het oor die feit dat daar nie regtig ’n platform is vir ‘dieper’ Afrikaanse musiek, sonder balrokke en vuurwerk én met meer vleis om die lirieke, nie.”

“Die konsep van die vertonings is om iets heel vars, outentiek, eg, organies, akoesties en eerlik op die planke te bring. Daar sal geen agtergrondmusiek wees nie, net werklike instrumente, stemme en opregte harte,” het  Anique Jordaan van Kaleidoskoop gesê.

Die Musiek soos Grond-kunstenaars (Foto: Hendri van Skoll Photography)

“Ons wil vir mense wys dat daar iets anders is as wat die hoofstroom bied en wil opkomende onafhanklike kunstenaars inspireer en aanmoedig om getrou te bly aan hulself en hulle musiek,” het Jordaan gesê.

Joshua na die Reën het gesê dié konsert is spesiaal omdat almal wat daarby betrokke is, dieselfde hart vir musiek het en dat ʼn sameloop van omstandighede hul paaie laat kruis het. Die span wil graag hê die konsep moet verder groei sodat daar in die toekoms meer van dié konserte kan wees.

Die groep musikante gaan ook saam ’n nuwe enkelsnit, “Lugballon”, opneem. Dié lied is ’n kontemporêre hartsliedjie met die boodskap dat jou uitkyk op die lewe dikwels bepaal hoe jy situasies hanteer.

“Ons is almal saam met ’n groep mense op reis deur die lewe. Maar wat sien jy wanneer jy van bo af kyk? As jy in ’n spesifieke situasie is, voel jy soms oorweldig. Wanneer jy dit egter van bo af ervaar, lyk jou probleme klein en kan jy die positiewe raaksien,” het Joshua na die Reën vertel.

“Daar is baie negatiwiteit in ons land, maar as ons bereid is om dit uit ’n ander hoek te beskou, sal ons sien hoe mooi dit is en hoe ons soms die mooi in ander mense miskyk.”

Dié enkelsnit sal binnekort bekendgestel word.

Afgesien van topgehaltemusiek, sal gaste ook bederf word met gourmet-geregte, lekker wyn en goeie koffie om die geleentheid mee af te rond. Konsertgangers kan ʼn piekniekkombers, kussings en kampstoele saambring om hulself gemaklik te maak.

Musiek soos Grond vind op 27 April in Bloemfontein plaas en op 4 Mei in Pretoria. Vir meer inligting, besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AB ·

Ek dink musiek word uitgevoer, nie opgevoer nie. Operas, operettes en dramas word opgevoer…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.