Kupido sterf op 62

Kupido

Foto: vetseun.co.za

Sanger en liedjieskrywer Kupido (Johan Wessels) is Maandagoggend vroeg in die ouderdom van 62 oorlede. Volgens Alan Ladd, Kupido se broer, is hy aan hartversaking dood tydens ʼn besoek aan sy suster op Middelburg. “In alles is daar iets om voor dankbaar te wees, want hy het nie gely nie,” het Ladd gesê. “Hy het gaan slaap en net nie weer wakker geword nie.”

Ladd meen die verhoognaam Kupido is nie deur Wessels self gekies nie, maar deur Cora Marie se man, Corrie Myburgh. “Hy was een van Corrie se kunstenaars gewees, en die naam Johan Wessels het nie genoeg ‘flair’ gehad nie.”

Kupido se bekendste liedjie, “Was ek maar ʼn digter”, word as een van die mees romantiese Afrikaanse liedjies beskou, en juis oor dié rede was die naam Kupido baie gepas.

Kupido het meer as 400 liedjies geskryf en Ladd meen sy broer was een van die grootste liedjieskrywers in Suid-Afrika. Hoewel Kupido ʼn bekendheid verwerf het vir sy musiek, sê Ladd dat dit is net ʼn klein onderdeel van wie sy broer was.

“Hy was ʼn saggeaarde mens wat voluit geleef het. Hy het voluit gelag, voluit gehuil, en in liefde met almal om hom geleef. Hy het passievol deelgeneem aan alles wat hy gedoen het. Hy was my musiek-mentor en ons gesin se ouboet. Maar bowenal was sy stryd tussen goed en kwaad die grootste stryd wat hy gevoer het. En dis hoe ek hom sal onthou – hy het God in alles geken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Tina ·

Baie hartseer. Hy was een van my gunsteling sangers. ‘Was ek maar ‘n digter’ is ‘n liedjie wat nooit oud sal word nie.

tamboti ·

Baie jammer, ‘n amper vergete kunstenaar, ek het glad nie gehoor op radio nie. Baie dankie Maroela, sterkte aan sy vrou en familie.

tamboti ·

Jammer as ek aangeneem het hy laat vrou agter, ek sien geen vermelding daaran in berig.

Chris W ·

My no.1 gunsteling Afrikaanse liedjie is “Was ek maar ‘n digter” !Dit bly ‘n wenner!Ai dis hartseer om van sy heengaan te lees.Die man was besonder talentvol.Ek sal hom altyd onthou en na sy baie besonderse liedjie luister.My simpatie en meegevoel met al sy familie.

Gesiggie ·

So jammer om te verneem, voorwaar n legende in musiek, onthou nog so goed… Cora- Marie en Kupido – was ek maar n digter, ek was n klein meisie van 12 toe sing ek die lied vir mense by wie ons gekuier het. Een van my gunsteling. RIP Kupido, ons sal jou onthou vir die goeie stem en mens wat jy was,.

Marianne ·

DIE HEMEL KOOR HET ‘n WARE ENGEL BYGEKRY.
Aan al Kupido se familie en vriende – ons innige simpatie.
Ons dank God dat Hy so helder ster en wonderlike mens aan ons geleen het.
RUS IN VREDE

Jacques (Twappie) ·

Rus in Vrede Ouboet. Jy los vreeslike leemtes in ons harte, en ek sal jou altyd onthou vir die wonderlike mens wat jy was, en die insae wat jy gelewer het wanneer ek dit die nodigste gehad het. Ons aanvaar die Hemelse Koor het ‘n Koor Meester nodig, en jy moes gaan. Tot ons weer ontmoet, rus sag en in vrede.

Martin ·

Rus in Vrede Kupido. Jy was n legende en jou musiek sal vir altyd voortleef. Sterkte vir die familie.

Lee ·

Dis nou meer as ‘n week gelede, en ek lees nou eers die berig raak. Hier waar ek sit is my hart erg seer om van Kupido te hoor. Sy groot treffer: Was ek maar ‘n digter” was my man se gunsteling liedjie jare terug. Met my man se afsterwe meer as 16 jaar gelede het ek gewonder wat om op sy grafsteen te skryf, en toe onthou ek! ‘n Groot gedeelte van die lied se woorde is toe op die grafsteen geskryf…vir my man.. “Vir ewig Liefling, sal ek jou liefhê”. Nou is my hart weer van voor af seer, al is dit jare later. En ou Cora, was my ma se gunsteling en werksvriendin gewees. Verlang ek nou sommer na hulle ALMAL. Dankie vir al die pragtige musiek. RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.