Kurt Cobain se kitaar opgeveil vir $6 miljoen

Kurt Cobain (Foto: Facebook)

ʼn Kitaar wat deur die Nirvana-voorsanger Kurt Cobain bespeel is tydens ʼn rare akoestiese konsert, is Saterdag vir $6 miljoen (sowat R105 miljoen) in Beverly Hills, Kalifornië, opgeveil.

Cobain het die retro akoesties-elektriese 1959 Martin D-18E tydens ʼn MTV Unplugged-vertoning in 1993, slegs vyf maande voor sy dood, bespeel.

Volgens Julien’s Auctions, wat die veiling behartig het, is dit die duurste kitaar wat nog ooit op ʼn veiling verkoop is. Die bieëry het by $1 miljoen begin en die bod is toegeslaan op Rode Microphones-stigter Peter Freedman.

Nirvana se akoestiese vertoning vir die MTV Unplugged-reeks op 18 November 1993 word nou beskou as een van die beste regstreekse vertonings in die geskiedenis. Cobain het op 5 April 1994 in Washington op die ouderdom van 27 gesterf.

Freedman het gesê hy beplan om die kitaar op ʼn wêreldwye toer te neem en alle opbrengste sal aangewend word om die kunste te bevorder.

Volgens Julien’s Auctions het hy die aankoop van die kitaar beskryf as ʼn “eens-in-ʼn-leeftyd-geleentheid”. Die kitaar se kas is deur Cobain versier met ʼn plakkaat van die groep Poison Idea se 1990-album Feel the Darkness.

David Gilmour van Pink Floyd se Fender Stratocaster-kitaar is in Junie 2019 vir sowat $4 miljoen tydens ʼn liefdadigheidsveiling opgeveil.

Die kitaar wat Kurt Cobain (voor) in hierdie akoestiese konsert bespeel het, is vir $6 miljoen opgeveil. (Foto: Skermgreep uit video op YouTube)

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.