Kurt Darren laat die dansvoete jeuk met nuwe CD

Foto verskaf aan Maroela Media

Foto verskaf aan Maroela Media

Die afgelope paar jaar kon liefhebbers van Afrikaanse musiek een ding as vanselfsprekend aanvaar, naamlik dat Kurt Darren teen die einde van die jaar ’n nuwe CD sou vrystel.

Verlede jaar het daar egter niks gebeur nie, behalwe dat hy ’n nuwe treffer, “Ek wens vir jou”, uitgereik het. Nou hoef sy aanhangers egter nie langer te wag nie, omdat sy nuwe album, Sal jy met my dans?, pas verskyn het. In ’n onlangse televisie-onderhoud het Kurt gesê dat mense deesdae nie meer gereeld dans nie en dat hy dit wil verander. Die vraag is of hy dit gaan regkry en of hierdie album net so suksesvol soos sy voriges sal wees.

Met die eerste snit, “Soos ’n leeu gaan ek brul”, kom jy al agter wat om te verwag; Kurt gaan die partytjie gou aan die gang kry. Kurt het die Afrikaanse liriek vir hierdie snit geskryf. Die volgende snit gaan die Afrikaanse treffer van die jaar wees. “Kaalvoetsokkie” word reeds gereeld oor die radio gehoor en klim omtrent teen al wat ’n trefferlys is uit. Hierdie liedjie gaan Kurt se kritici nog lank irriteer.

Die titelsnit is nog ’n moontlike treffer; dalk die volgende een vanaf die album. Kurt het “Ek wens vir jou” saam met die grootbase van sy platemaatskappy geskryf en hy dra dit aan sy dogtertjie op. Met hierdie snit kom jy agter dat Kurt ook daartoe in staat is om liedjies te skryf wat iets om die lyf het en dit verdien om ’n groot treffer te word. “Engel ek sal jou saamvat” is ’n versugting om net weg te kom van die gejaagde lewe. “Vlinders” is een van die mooiste snitte op die album en behoort ook ’n treffer te word. “In jou atmosfeer” is ’n komposisie van Loki Rothman, en dis goed dat Kurt nuwe talent inspan om vir hom te skryf.

Kurt het “Dan soen ek jou” saam met Neil Schoombee en Don Kelly geskryf, en hierop gee hy sy aanhangers wat hulle wil hê. “Ek kan nie langer wag nie” is nog ’n snit wat ’n treffer kan word. “Wen of verloor” is dalk een van die beste snitte op die album, weer eens het Kurt dit saam met Neil Schoombee en Don Kelly geskryf.

Soos gewoonlik het Kurt weer ’n paar bekende snitte ingesluit, en die eerste hiervan is ’n baie goeie weergawe van Tracy Chapman se treffer, “Baby can I hold you?” Hierdie opname kom toevallig kort nadat Jasmine Thompson ’n skitterende opname van Tracy se ander groot treffer, “Fast car”, vrygestel het. Dis egter moeilik om te sê of dit blote toeval is. “My hele lewe” is nog ’n moontlike treffer; dit is ’n snit wat die dansvloere sommer gou vol sal kry. “Dinge raak warm” sal veral by jonger aanhangers aanklank vind; dit val amper in dieselfde kategorie as “Dans op die tafels”.

Enigiemand in die musiekbedryf kan hulle met die liriek van “Warm reën” vereenselwig; hopelik sal dit ook een van die enkelsnitte vanaf die album wees. Die laaste oorspronklike Afrikaanse snit, “Wat is die kans?”, is nog ’n moontlike treffer. Kurt was goed bevriend met Fredi Nest, wat in Julie verlede jaar aan kanker oorlede is. Hierdie album is Kurt se eerste een sedertdien, en daarom is dit geen verrassing dat hy Fredi se uitstekende komposisie, “To earn the glory”, ingesluit het nie.

Kurt was al ’n gas op Karen Zoid se geselsprogram Republiek van Zoid Afrika; die keurspel van haar treffer, “Engel”, en sy treffer, “Hemel op Tafelberg”, uit hierdie program is op die album ingesluit. Die laaste snit is ’n mega-keurspel van sy treffers, “Dans op die tafels”, “Rebel en rats”, “Cowboys en crooks”, “Dans” en “Saggies praat”. Kurt se aanhangers sal hom ewig dankbaar wees daarvoor.

Daar is geen twyfel dat Kurt weer die kol met hierdie CD getref het nie; dis goed dat dit eers later vrygestel is, want vir ’n verandering het mense weer na ’n nuwe vrystelling van sy kant af uitgesien. Hoewel Kurt altyd sy kritici sal hê, gaan hierdie album beslis een van vanjaar se grotes wees en behoort hy die trefferlyste lank te oorheers!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.