Kurt Darren word 45 jaar oud

Kurt-Darren-se-Lied-vir-die-Vrou

Kurt Darren vier sy 45ste verjaardag op 19 Februarie. Foto: Argief.

Die Afrikaanse sanger Kurt Darren vier vandag sy 45ste verjaardag.

Kurt se debuutalbum, For your precious love, het al in 1995 verskyn, en kort daarna het hy sy debuut op Noot vir noot gemaak, waartydens hy ‘n keurspel van Elton John se treffers gesing het. Drie verdere albums het gevolg, maar hy kon nie regtig ‘n indruk op die plaaslike musiekbedryf maak nie. Toe verskyn Net jy alleen in 2001; hy begin Afrikaans sing en Meisie meisie word sy eerste groot treffer. Hierdie album word in 2002 heruitgereik met Meisie meisie as titelsnit. Die res is geskiedenis.

Sy volgende album, Sê net ja, lewer drie groot treffers op, naamlik die titelsnit, Loslappie en Hemel op Tafelberg. Hierdie album haal die eerste plek op RSG se Top 20; destyds ‘n ongewone prestasie vir ‘n Afrikaanse album. Die titelsnit van die volgende album, Staan op, word ‘n treffer, asook Wil jy, En ek mis jou en Ek laaik haar.

Op sy volgende album, Vat my, maak my joune, span hy saam met Nicholis Louw vir die duet-treffer Mamma, wat in Engels en Afrikaans opgeneem word. Die titelsnit en Alleen leen leen is nog twee van die treffers vanaf hierdie album. Een van Kurt se groot deurbrake kom in 2006 met sy album Lekker lekker. Hoewel die titelsnit ‘n treffer, Ek sit en verlang en Kom laat ons dans treffers word, haal hy die nr. 1-posisie op die treffersparade Take 40 SA, wat op Highveld Stereo uitgesaai word, met Standing on the edge. Dit stel sy musiek bekend aan ‘n groter gehoor as die Afrikaanse publiek, onder wie hy toe reeds ‘n superster was. Na sy volgende album, Voorwaarts mars, kom die hoogtepunt in sy loopbaan tot dusver. Met Uit die diepte van my hart behaal hy nie net die algehele eerste plek op RSG se Top 20, gegrond op werklike albumverkope nie, maar Kaptein word sy grootste treffer tot dusver, te midde van ander treffers soos Af en af, Bloubergstrand se sonsak en Papsopwinterwaternat. Kort voor die wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 stel Kurt Kom bietjie hier vry; ‘n Afrikaanse weergawe van Mafikizolo se treffer Ndihamba nawe. Benewens die Afrikaanse album waarop hierdie liedjie ingesluit word, Die beste medisyne, verskyn sy eerste Engelse album in byna tien jaar, naamlik Siling back at me, ook in 2010. Hierop kom baie van sy vorige Engelse opnames voor, asook die nuwe treffer, Sunday. Dit was seker onafwendbaar dat ‘n versameling van Kurt se grootste treffers vrygestel sou word, en in 2011 het dit gebeur. Kaptein se grootste treffers is ‘n dubbele versameling waarop al Kurt se grootste Afrikaanse- en Engelse treffers tot op daardie stadium ingesluit is.

Nadat hy verdere sukses behaal met In jou oë; waarop die treffers Heidi en Stoomtrein voorkom, beland Kurt in ‘n ernstige motorongeluk. Nogtans word sy album Seerower in 2013 vrygestel, en dit lewer die treffers Rebel en rats en Beautiful op. Kurt se mees onlangse album, Lied vir die vrou, verskyn teen die einde van 2014, en tot dusver was Cowboys en crooks, Dans op die tafels en Saggies praat die treffers vanaf dié album.

Benewens sy suksesvolle sangloopbaan het Kurt ook al in vier rolprente opgetree, naamlik Liefling, The race’ist, Susanna van Biljon en Ek lief jou, waarin hy die hoofrol vertolk. Hy tree ook op as aanbieder van die televisieprogram Jukebox op kykNet en as radio-omroeper op Jacaranda 94.2. Hy is op 8 Januarie 2011 met Dunay Nortjé getroud, en ‘n video van die troue is saam met die spesiale uitgawe van sy album Oos wes tuis bes ingesluit.

Kurt is een van ‘n handjievol kunstenaars wat hard gewerk het om bo uit te kom, en hoewel nie almal van sy musiek hou nie, is hy ongetwyfeld een van ons land se supersterre.

Hier is die musiekvideo van nog een van Kurt se treffers, Loslappie:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.