Kurt, Elandré, Van Coke hou aanlyn konsert

Afrikaanse musiekvermaak kan nou, makliker as ooit tevore, vanuit die gemak van jou rusbank geniet word. Bekendes soos Schalk Bezuidenhout, Anna Davel en Elvis Blue het reeds gewys dat dié virtuele konserte uiters gewild is tydens die staat van inperking.

Ander bekendes soos Kurt Darren, Elandré en Francois van Coke bied ook nou vermaak vanuit hul huise.

Deur middel van die nuwe aanlyn konsertreeks, My Hart Klop Teater, kan aanhangers binnekort na konserte deur Kurt Darren, Elandré en ander kunstenaars kyk.

Kurt sal op Vrydag 24 April om 19:00 die reeks afskop met ʼn konsert vanaf sy huis waar hy sy tien gunstelingliedjie van alle tye sal opvoer.

“Dit bly ʼn eer vir my om saam met van die beste musikante in Suid-Afrika op te tree, maar om dit te doen met my gunsteling oorspronklike liedjies, en in isolasie, gaan vir altyd ’n hoogtepunt in my loopbaan bly,” sê Kurt aan Maroela Media.

Elandré (Foto: Verskaf)

Kurt sê My Hart Klop Teater gaan ʼn lewendige gevoel hê omdat elke liedjie net een maal gesing gaan word, so al die blapse en foutjies sal ingesluit word sodat die eindproduk so naby as moontlik aan die werklikheid sal wees.

Die Hartklop-teater is die breinkind van Sony/Select-musiek se algemene bestuurder, Ernst Kleinhans, om kunstenaars se toekoms in hierdie vreemde tyd te ondersteun.

Die “Vuur op die water”-sanger, Elandré Schwartz, sal ook op 1 Mei as deel van My Hart Klop Teater aanlyn optree.

Kaartjies vir dié vertonings is hier beskikbaar en kos R40 per toestel. Slegs een kaartjie is nodig vir die hele gesin om saam konsert te hou. Vir meer inligting klik hier.

Francois van Coke het ook pas aangekondig dat hy aanlyn ʼn konsert genaamd “Francois van Coke: Stripped Down in Lockdown” sal hou om die musiek wat hy oor die afgelope 17 jaar geskryf, te vier.

Van Coke gaan op Dinsdag 28 April om 20:00 ʼn regstreekse vertoning hou vanuit sy huis in Bellville.

Francois van Coke (Foto: Hayden Phillips)

Dit sal die eerste keer in tien jaar wees dat Francois 100% op sy eie ’n vertoning aanpak – net hy en sy akoestiese kitaar, sonder enige bystand van Jedd Kossew, Die Gevaar, Fokofpolisiekar of Van Coke Kartel.

“Ons kan nie live speel nie en dit los nogal ’n gat in my. Ek speel nou al vir die afgelope twintig jaar live shows op ’n gereelde basis – dis so ʼn groot deel van my lewe. Dis voel vreemd om dit nie te doen nie, so ek het ’n plan gemaak,” sê Francois.

“Die hele ding is ’n bietjie angswekkend vir my, nie net om op my eie te op te tree nie, maar ook om die klank en tegniese aspekte te hanteer.”

Maar Francois sê hy is nie bang vir ʼn uitdaging nie en dat die beste ding omtrent hierdie regstreekse webvertoning is dat al sy ondersteuners van reg oor die wêreld op dieselfde tyd saam na sy vertoning kan kyk.

Kaartjies vir “Francois van Coke: Stripped Down in Lockdown” kan hier gekoop word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.