Kurt wys land se mooistes uit op Top-20

Volgens Kurt Darren se jongste enkelsnit is daar ʼn plek waar jy die mooiste meisies in die land sal vind en dit is “Meisiesfontein”.

Dié tipiese sokkieliedjie uit Kurt se pen betree vandeesweek die Maroela Media Afrikaanse Top-20 in die 14de plek.

Eloff, wat ook bekend staan as die Prins van Potch, neem weer vandeesweek die no. 1-posisie op die top-20 in met “Johnnie Blou”. Sy jongste enkelsnit, “Geheueverlies”, styg twee plekke en is tans in die tiende posisie.

Dit beteken Riaan Benadé en Jay se “Rowwe bliksem” is vir die eerste keer sedert dit weke gelede op die Top-20 verskyn het, onttroon en is nou in die tweede plek.

Franja du Plessis, wat verlede week skrams die topposisie gemis het en in die tweede plek verskyn het met “Bring dit”, val vandeesweek ʼn paar plekke is nou in die sewende posisie.

In vandeesweek se Maroela Media Afrikaanse Top-20 is daar ses snitte wat styg, sewe wat daal, ses wat onveranderd bly en een nuwe toetrede.

  1. Eloff – “Johnnie blou”
  2. Riaan Benadé ft Jay  – “Rowwe bliksem”
  3. Irene-Louise van Wyk — “Tekkies brand”
  4. Ruhan du Toit – “Ter wille van ons kinders”
  5. Riaan Benadé – “Spontaan”
  6. Brendan Peyper – “Stop die wêreld ek wil afklim”
  7. Franja du Plessis – “Bring dit”
  8. Appel – “Dina”
  9. Riaan Benadé – “Vat ’n bietjie”
  10. Eloff – “Geheueverlies”
  11. Demi Lee Moore – “Wie se hart breek jy vanaand”
  12. Bernice West – “Dink aan jou”
  13. Reën – “Vakansie op die platteland”
  14. Kurt Darren – “Meisiesfontein”
  15. Bernice West – “Hemel op aarde”
  16. Demi Lee Moore  – “Kan jou nie my maak liefhê”
  17. Wikus Botma – “Brannewynlippe”
  18. Franja du Plessis – “My lief”
  19. Demi Lee Moore & Riaan Benadé – “Kannie sonder jou nie”
  20. Ricus Nel – “Ploeg jy”

* Die Maroela Media Afrikaanse Top-20 word saamgestel deur enkelsnituitreikings en verskeie datafaktore word in ag geneem: Apple Music en Spotify-stromings, YouTube-kykbeurte (spesifiek week-tot-week-data) asook radiospeeltyd. Fisieke albumverkope het geen invloed op dié treffersparade nie.

Nuwe musiek:

Ruan Greeff, onder meer bekend as vervaardiger, musikant en kitaarspeler vir Jo Black, het pas sy eerste enkelsnit as solokunstenaar onder die naam SHY! bekend gestel.

SHY! se debuutenkelsnit, “Ewekansige gedagtes”, kom uit sy eie pen en handel oor iemand met wie hy in ’n verhouding was wat hom baie geïnspireer het.

“Die tema van my debuutenkelsnit en ander liedjies wat ek geskryf het gaan oor die liefde en God,” sê hy.

“Vashou”, die jongste enkelsnit wat onlangs deur die duo Jacques en Liezel bekendgestel is, gaan oor hoop in moeilike tye.

Hulle sê hulle is self deur diepe waters tydens die inperking weens die pandemie en het besef dat God die enigste anker is waaraan jy kan vashou in sulke tye.

“Daar is mense wat so baie verloor het in hierdie afgelope twee jaar, maar ten spyte van wat die lewe na jou kant toe gooi wil ons graag vir mense sê dat as jy vir God het, jy alles het wat nodig is,” sê die duo.

Ander liedjies wat ook vandeesweek uitgereik is sluit in Juanita du Plessis, Franja du Plessis en Ruan Josh se “Trapkap”, Jemma Catherine se “Alles gee” en Dewald du Plessis se “Vergeef”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.