Kwaggabees put inspirasie uit ware lewensverhaal

Righard van Heerden, ook bekend as die sanger Kwaggabees, het die baie persoonlike verhaal agter sy jongste twee liedjie met Maroela Media gedeel. (Foto: Verskaf.)

Righard van Heerden, oftewel Kwaggabees, vertel hy het al aan die begindae van sy musiekloopbaan, in sy hoërskoolloopbaan, dit geniet om sy kitaar te gryp en ʼn emosie in ʼn liedjie te omskep.

Dit is waarom hy ook sy hart en siel in liedjies kon uitstort vir sy seuntjie Meyer (5) wat op 22 weke gebore is nadat Kwaggabees se vrou kritieke komplikasies met haar swangerskap ontwikkel het. Sy moes ʼn noodkeisersnit ondergaan om haar en hulle seuntjie se lewe te red. Meyer het by geboorte slegs 650 gram geweeg en was net solank soos ʼn Bic-pen.

“Crazy mal oor jou” en “Skadu’s wat dans” is beslis nie net nog twee soetsappige liefdesliedjies nie. Albei snitte is gegrond op ʼn ware verhaal wat ʼn mens se hart laat krimp.

“Ek het ‘Crazy mal oor jou’ vyf jaar gelede vir my seun geskryf want ek het nie vir een dag ʼn oomblik se twyfel gehad dat hy dit nie sal maak nie.

“Gebedsversoeke vir hom het soos ʼn veldbrand versprei en mense het wêreldwyd vir hom gebid. Dit is net daar waar ek besef het ʼn mens kan nie bekostig om nie in wonderwerke te glo nie,” vertel Kwaggabees.

Dié sanger onthou ook die drie maande wat hy en sy vrou elke dag van Parys, hulle tuisdorp, na Potchefstroom gery het om by hulle seuntjie in die intensiewesorgeenheid te gaan kuier. Dit was ook die ervaring wat as die inspirasie vir sy jongste enkelsnit “Skadu’s wat dans” gedien het, wat in Januarie uitgereik is.

“‘Skadu’s wat dans’ het ek geskryf oor daardie ure wat ons laatnag by die huis kom, minstens veilig, maar by ʼn woonplek wat leeg staan omdat ons bondeltjie liefde in ʼn hospitaal in ʼn ander dorp lê.

“Dit is ʼn opvolg vir Meyer waarin ek maar net my liefde aan my seun wil uitspreek. Ek dink ook hierdie sal die laaste lied wees wat ek vir hom uitbring. Dit is maar net my manier om dankie te sê vir hierdie hele proses wat ons deurgegaan het met hom en dat alles so suksesvol verloop het, want dit alles kon so anders verloop het.”

Kwaggabees sê dit gaan deesdae baie goed met sy seuntjie, wat nou perdfris en gesond is. “Hy is ʼn regte klein hoofseun. As ek vertonings doen, en hy kom saam, sal hy sommer die hele show oorneem en die dansery aan die gang sit.”

“Ek is 35 en my seuntjie is nou vyf jaar oud. Op ʼn manier kyk ek op na hom; hy is ʼn inspirasie vir my.”

  • Volg Kwaggabees op Facebook vir die jongste nuus oor sy musiek, of waar hy volgende optree.
  • Kwaggabees het in Maroela Media se ateljee kom kuier en gesels oor sy musiek. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig en bly ingeskakel want ons speel uit met sy jongste enkelsnit “Skadu’s wat dans”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.