Kyk: Afrikaans is Groot in foto’s

Jo Black. (Foto: Albert Bredenhann/Pixel Pro Photography)

Vanjaar se Afrikaans is Groot-konsertreeks, wat weer in die Sun Arena by Times Square in Pretoria plaasvind, het die land aan die gons. Die konsertreeks is hierdie naweek in sy laaste pylvak en konsertgangers wat reeds die produksie gesien het, is vol lof oor die kwaliteit van vanjaar se skouspelagtige produksie.

Karlien van Jaarsveld en Riana Nel, wat albei met swanger magies op die verhoog spog, sing saam met Snotkop, Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Jay du Plessis, Theuns Jordaan, Ricus Nel, Ruhan du Toit, Bok van Blerk, Karen Zoid, Demi Lee Moore en Tarryn Lamb van die grootste Afrikaanse treffers.

Elandré het vanjaar vir die eerste keer op die Afrikaans is Groot-verhoog opgetree en Jo Black het ook die gehoor met ʼn wêreldklasvertoning verras.

“Black was nie deel van enige bemarking van die konserte nie en die vervaardigers het daarin geslaag om aanhangers onkant te betrap met dié verrassingselement,” het Barry Pretorius, vervaardiger en regisseur van die Afrikaans is Groot-konserte, gesê.

“Ons probeer altyd om ons lojale ondersteuners te vergoed met ’n produksie wat groter is as voorheen en wou hulle bederf met die verrassing van Jo Black wat ook deel is van die konsert.”

“Dit bly ʼn ongelooflike voorreg om te kan skep, en as jy dit boonop in jou eie taal kan doen, soveel te beter,” het Pretorius bygevoeg. “Vanjaar se konsertreeks is werkliks iets besonders en dit was amper vir my anders as ander jare om dit te kon vervaardig. Dis asof daar ʼn onbeskryflike liefde tussen die kunstenaars en die gehoor is. ʼn Energie wat ek nie regtig in woorde kan omsit nie.”

Die Afrikaans is Groot-verhoog. (Foto: Henry Engelbrecht)

Die Springbokke het vanjaar die Webb Ellis-trofee huis toe gebring en dié gesogte beker is te sien in die arena. “My groot uitgangspunt met dié item was eenheid. Dat die beker en die Bokke ʼn baken van hoop en eenheid vir alle Suid-Afrikaners is. Dat ons op hierdie wyse ons land en al sy mense kan vier.”

Dié konsertreeks vind in Maart 2020 in Kaapstad plaas en Jo Black sal ook daar in aksie wees terwyl Van Jaarsveld en Nel wat op hul pienkvoete wag nié deel van dié konserte in Kaapstad gaan wees nie.

Kaartjies vir al nege Afrikaans is Groot-konserte in Pretoria is uitverkoop, maar jy kan ook dié konsert in Kaapstad bywoon. Dit vind op Saterdag 21 Maart om 13:00 en 19:30, en op Sondag 22 Maart om 13:00 by GrandWest plaas. Kaartjies vir dié konserte is by Computicket beskikbaar. Bespreek jou kaartjies hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fan ·

Ek het dit twee gekyk….. Dis so goed. Dis asemrowend. Wel gedaan Barry en AIG mense. Love dit. Dankie ook vir Maroela wat dit borg en Helpende Hand wat wys hoeveel kinders hulle elke dag help. Baie trots op almal en Trots Afrikaans!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.