Kyk: Helpende Hand-liedjie se video gee ’n blik op werklikheid

Riaan Beandé (Foto: Willem Botha)

Die musiekvideo van die liedjie wat die Afrikaanse sanger Riaan Benadé spesiaal vir Helpende Hand geskryf het, is pas bekendgestel en gee kykers ’n blik waarmee dié welsynsorganisasie op ’n daaglikse grondslag te doene kry.

Helpende Hand is Afrikaans is Groot (AiG) se gemeenskapsvennoot en amptelike liefdadigheidsbegunstigde wat deur AiG se platforms en kunstenaars die publiek meer bewus maak van die werk wat Helpende Hand doen. Helpende Hand het ook pas sy #Helpmekaar-veldtog van stapel gestuur om die publiek aan te moedig om te help waar hulle kan.

Die liedjie, Helpende Hande, is amptelik op 30 Oktober bekendgestel kort voor die versamelalbum Afrikaans is Groot Volume 12 op die winkelrakke en digitale mediaplatforms verskyn het. Benadé het daarna ’n dag saam met Helpende Hand deurgebring om inhoud vir die video te skiet. Om die koste van die produksie van die video tot ’n minimum te beperk het Benadé saam met Helpende Hand-personeel werklike plekke besoek wat ondersteun word.

“In plaas daarvan om geld aan ’n spoggerige video te bestee, het ek besluit om eerder die helpende hande sterker te maak as die hande wat vra deur ’n dag saam met die mense agter die skerms deur te bring en dit op video vas te vang vir almal om te sien,” sê Benadé.

“Om ’n dag deur te bring saam met die mense agter Helpende Hand het my oë net weer laat oopgaan vir hoe belangrik dit is dat ons agter die organisasies staan wat klaar ’n verskil maak. So broodnodig soos Helpende Hand is vir dié in nood, is ons wat bydra net so broodnodig vir Helpende Hand. Die hart agter hierdie beweging is wat my hart oorreed het om meer betrokke te raak,” voeg hy by.

‘Afrikaans is Groot Volume 12’ is van vandag, 1 November, op vooraanstaande CD-winkels se rakke beskikbaar. Foto: Verskaf.

Benadé verduidelik daar is ʼn Bybelse trek reg deur die liedjie.

“Ek het gegaan spesifiek vir die storie waar Moses sy arms opgehou het om die oorlogsveld aan die Israeliete oor te gee. Maar hy kon nie sy arms self so lank ophou nie, want hy moes dae lank so gestaan het; daarom het Aaron en Hur sy arms kom ophou. Vir my is dit soortgelyk aan wat Helpende Hand probeer doen, hulle hef hul arms op en probeer help in die stryd teen honger en armoede, maar hulle kan dit nie alleen doen nie. Hulle word moeg, partykeer word hulle nie genoeg gehelp nie, partykeer het hulle nie genoeg hulpbronne nie. Ek voel dit is veel beter as mense saamstaan deur ʼn organisasie te help wat klaar die werk doen, wat klaar weet hoe die situasie werk,” sê hy.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, sê die liedjie en video som die doel van die #Helpmekaar-veldtog perfek op.

“Elkeen van ons kan ’n verskil maak, al is dit hoe gering – jy kan ’n positiewe invloed op iemand anders se lewe hê. Bietjie vir bietjie maak baie en ons almal weet dat die krag van saamwees beter is as die krag van alleenwees – dit demonstreer gemeenskapskrag. Helpende Hand is ’n gemeenskapsorganisasie waar mense wat omgee vir minderbevoorregtes en hul gemeenskappe hande kan vat om ’n verskil te maak. Daarom stuur ons die #Helpmekaar-veldtog van stapel, om mense aan te moedig om betrokke te raak by hul plaaslike Helpende Hand-tak of om een van Helpende Hand se vele nasionale projekte te ondersteun,” sê Noëth.

Helpende Hande is nou beskikbaar op Afrikaans is Groot Volume 12. Ondersteun die #Helpmekaar-projek deur jou CD vandag nog te koop of aanlyn te luister by https://AfrikaansIsGroot.lnk.to/Vol12.

Hier volg Benadé se video van Helpende Hande:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Donene Diedericks ·

Daar is nie afrikaans vir ‘well done dude’ nie!! Jy is legend en jy is ‘n inspirasie. Yes, kom ons help net daar waar ons is en waar ons kan, so maak ons elkeen n verskil!

Marlene ·

Asemrowend. Dankie Riaan. Jy moet asb so nederig bly soos jy is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.