Kyk Johan Anker se jongste musiekvideo hier

Johan Anker het bekendheid in die eerste seisoen van ‘The Voice SA’ verwerf met sy ligte klassieke musiek maar vandag slaan hy ʼn nuwe rigting in. (Foto: Verskaf.)

Johan Anker, wat bekendheid in die eerste seisoen van The Voice SA verwerf het met sy ligte klassieke musiek, slaan vandag ʼn nuwe rigting in met die musiekvideo van sy eerste kontemporêre enkelsnit wat uitgereik word.

Maroela Media se lesers kry natuurlik ook die kans om ʼn eksklusiewe eerste kykie na die musiekvideo van “My arms” op die webwerf te kry waar hy teenoor die aktrise Nadia Herbst speel. Herbst het bekend geraak vir haar rol as Olivia Greyling in 7de Laan, en is binnekort ook in die sepie Suidooster te sien.

Anker sê dit was vir hom wonderlik om saam met Herbst te kon werk in sy musiekvideo. “Dit help as jy saam met ʼn aktrise kan speel wat nie net mooi is nie, maar jou help om ʼn storielyn te vertolk en uit te bou. Dit bied mens soveel om mee te werk.”

Die musiekvideo vertel die storie van ʼn liefdesteleurstelling. “Jy sien hoe die paartjie die klein oomblikke beleef, soos om saam tande te borsel, of om daardie eerste koppie koffie van die dag saam te geniet. Hierdie is die soort oomblikke wat ʼn mens dikwels as vanselfsprekend aanvaar, en die meeste mis as dit nie meer daar is nie. Die oomblikke word in die video gekontrasteer met die meisie wat nie meer daar is nie.”

Anker beskryf sy musiekstyl as effens swaarder as pop, maar nie heeltemal só klassiek soos Pavarotti nie. “As ek dit regtig moet vergelyk, sal dit soortgelyk wees aan die musiek van iemand soos Josh Groban,” vertel die sanger wat reeds van 9-jarige ouderdom sing.

Johan Anker (Foto: Facebook)

Hy vertel dat hy sedert sy deelname aan The Voice hom toegespits het op musiek in die gospelwêreld. “Dit is waar die deure eerste vir my oopgegaan het, want my eerste album, Hoop en bid, was ʼn mengsel van gospel en pop-opera. Ek het my toegespits op die Hoop en bid-toere waar ek gemeentes bedien het en my getuienis gelewer het van wat die Here al vir my in my lewe beteken het.”

Anker spot egter dat hy eintlik die lewe van ʼn dubbele agent lei. “Bedags is ek onderwyser en dit is eintlik die leerders wat dit vir my gesê het, want ek moet soms voor die laaste periode in my verhoogklere spring. As daardie klok aan die einde van dag lui, moet ek in my motor spring en na ʼn vertoning jaag.”

Hy sê die voorkomingsmaatreëls vir die nuwe koronavirus (Covid-19) wat nou na ʼn tydperk van algehele afsondering verskerp is, het nie net sy loopbaan as onderwyser geraak nie, maar ook as sanger.

“Ek glo egter daar is steeds veel meer aan die lewe as Covid-19. Ons moet net nie nou ophou hoop en moed verloor nie. Dit is so maklik om in die tyd mismoedig te word met die vrees wat jy het vir die onbekende. Ek dink almal moet nou vashou aan hul geloof, en hoop in hulle harte behou, want dit is ons beste wapen om ons deur hierdie moeilike tye te dra.

“My ouers het my altyd geleer vrees kom nie van die Here af nie. Ek dink ʼn mens moet dit nou meer as ooit besef: Hy is die oorwinnaar en as jy hieraan vasklou, het jy reeds alles oorwin.”

Skuif nader, en geniet Ankers se musiekvideo van “My arms” saam met Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.