Kyk: Voortrekkers se nuwe video spog met monument

Adam Tas. (Foto: Facebook)

Om vanjaar die Voortrekkers se 90ste bestaansjaar te vier, het die sanger Adam Tas ʼn liedjie getiteld “Die spore wat ons los” uitgereik.

Die liedjie, wat deur Johan Vorster en Jacomien de Villiers geskryf is, spog nou ook met ʼn splinternuwe musiekvideo deur Dapper Media.

Die video is opgeneem in en om die Voortrekkermonument in Pretoria. “Ons het soveel moontlik eienskappe en dele van die gebou probeer gebruik. Van die tonele wat nie by die monument self geskiet is nie, is rondom Pretoria verfilm,” sê Pieter Strauss, vervaardiger van die video.

Conrad Theron, ook van Dapper Media, het die regie, kamerawerk en redigering behartig.

“Ons wou met die video ons waardering vir wat die Voortrekkers nagelaat het, uitbeeld,” sê hy.

Volgens Tas is dit ʼn groot voorreg om “Die spore wat ons los” te sing. “Ek is ʼn groot voorstander daarvan om jou kinders te leer van die geskiedenis. Jy moet weet waar jy vandaan kom om te weet waarheen jy op pad is.”

Hy vertel hy was self as kind deel van die Voortrekkers. “Daarom is die voorreg om vandag oor dié jeugorganisasie se 90ste bestaansjaar te sing, nog soveel groter vir my. Die Voortrekkers is in my gegrond,” sê Adam.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, sê die Voortrekkerspore is in die kontoere van die Drakensberg gekerf – eers in 1837 deur die eerste Voortrekkers en daarna in 1968 en 2016 deur hedendaagse Voortrekkers.

“Die lied is toekomsgerig, want ons storie word steeds in Afrika uitgekerf en die toekoms wink vir ons. Die lied bevestig die Voortrekkers se geloofsgrondslag, maar ook die Voortrekkerkarakter soos integriteit (ʼn Voortrekker se woord is sy eer), dade van durf en diensbaarheid. Dit is die spore wat ons wil los. Die lied roep Voortrekkers op om steeds die Voortrekkerfakkel veilig na môre te dra,” sê Langner.

“Met hierdie lied bevestig die Voortrekkers nie net die ononderbroke rol wat dié jeugorganisasie vandag nog speel nie, maar soek ook die verband met die verlede op deur erkenning te gee aan die spore van gister.”

Luister op dié platforms na “Die spore wat ons los”.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Annatjie ·

Jak de Priester se liedjie is pragtig en dit is goed as ons afrikaanse kunstenaars ons geskiedenis deur die voortrekker beweging ondersteun.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.