Laai jou tas

Hugo

Kitskos met ‘n karton-nasmaak of tradisionele, tuisgekookte boerekos wat die hongerpyne stil… As die musiekbedryf met kosmaak vergelyk kan word, sal ‘n mens die Vanderbijlparkse sanger Hugo in die boerekos-afdeling vind. Sy musiek en storie-liedjies het vleis om die been en bied ‘n vars verskeidenheid wat uitstyg bo die soveel van vandag se doef-doef-deuntjies.

Laai jou tas, Hugo se derde vollengte-album en sy eerste uitreiking sedert 2006 se Hartland, is ‘n versameling van 13 nuwe liedjies wat sy oorspronklikheid en musikale diversiteit ten volle illustreer. Bekend om onder andere die treffer Deur die Straights het Hugo hier ‘n reeks onweerstaanbare liedjies byeengebring, soos Faantjie en sy John Deere, Al die paaie in die wêreld en die titelsnit, Laai jou tas.

“My liedjies moet sin maak… ‘n storie hê om te vertel. My songs vind aanklank by mense wat hulle vereenselwig met die storielyne. Dit is ook die rede hoekom ek elke vier jaar ‘n album uitreik,” vertel die musikant wat tydens sy laerskooldae die senter was wat klavierlesse geneem het. “Ek het egter eers in my matriekjaar die kitaar opgetel en nooit weer teruggekyk nie. Dit was 21 jaar gelede!”

Faantjie en sy John Deere en Kaptein Castle, wat hy saam met MD Greyling geskryf het, het albei voetejeuk-ritmes met ‘n bietjie sakkie-sakkie. Laasgenoemde is reeds volksbesit, verseker hy! Langpad en Laai jou tas verken ‘n reis-tema wat deur “old school” rock en vurige kitaarklanke aangedryf word. Cindy is ‘n roerende Engelse ballade met ‘n country-gevoel, terwyl Christina die hartsnare roer met ‘n klavier en bekfluitjie wat die luisteraar meevoer.

Hugo het saam met altesame tien musikante aan Laai jou tas gewerk en selfs sy musiekvriende Anton Goosen, Bok van Blerk en Dozi ateljee toe genooi vir Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein, een van die Liedjieboer se skeppings. En Anton Myburg wat vir hom Deur die straights geskryf het, het drie van Hugo se nuwe liedjies vir hom geskryf.

Die “singende entrepreneur” soos hy homself beskryf omdat hy naas sing ook ‘n paar “ander ysters” in die vuur het, doen steeds houtwerk as hy nie op die verhoog staan saam met sy orkes nie. “Ek is nie ‘n aandagvraat wat in die bedryf is vir die verkeerde redes nie. Ek maak musiek, doen my shows en geniet die lewe soos dit hoort.”

Hugo hoef ‘n mens nie twee keer met Laai jou tas te nooi nie. Dit is ‘n album vir saamry, saamneem, saamdra en luidkeels saamsing. En saamkou, herkou en onthou… Musikale kos vir die hart, oor en skoffelende voete. (Vonk Musiek)

Speellys

  1. Laai jou tas
  2. Al die paaie in die wêreld
  3. Faantjie en sy John Deere
  4. Kaptein Castle
  5. Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskiet
  6. Ons gaan rugby kyk
  7. Langpad
  8. Christina
  9. Trek aan jou trui
  10. Goudstad
  11. Cindy
  12. Wiegeliedjie
  13. Weer
  14. Hier is ‘n mens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.