Laat U wil geskied- Amen

Dit lyk asof daar ‘n oplewing in Afrikaanse Christelike musiek is, aangsien verskeie nuwe kunstenaars en groepe besig is om tot hiedie genre toe te tree.

Een van die jongste groepe wat besluit het om op daarop te konsentreer, is Amen, wat bestaan uit Bernhard Faasen, Frank Panaou en Renier Bester. Hul eerste album, Laat U wil geskied, is pas vrygestel.  Die eerste snit, Dagbreek, het reeds radiolugtyd gekry, en is deur Neil Schoombee en die wenner van Ons soek die sanger, Pierre Rossouw, geskryf. Virt ‘n welkome verandering is dit ‘n lekker oorspronklike liedjie tot eer van die Here. Maak oop die deure is nog ‘n baie goeie oorspronklike snit wat beslis ‘n treffer kan word.

Wat ‘n Vriend het ons in Jesus sal jou dadelik laat saamsing, maar die woorde is ‘n bietjie verander, en ‘n nuwe refrein is bygevoeg. Dit kan van voor af gewild word. Tot Hy weer kom klink vaagweg bekend, en dit is inderdaad ‘n oorsese melodie waarvoor Neil Schoombe die Afrikaanse woorde geskryf het. Koning van liefde het ‘n lekker saamsing-refrein, en verdien beslis om ‘n treffer te word. Op Ken jy my word ‘n mens gekonfronteer met die vraag of ‘n mens die Here regtig ken en of jy Hom net aanroep as jy in die moeilikheid is. Nog ‘n snit wat die luisteraar konfronteer, is die titelsnit. Ons bid so maklik “Laat U wil geskied”, maar hoeveel mense bedoel dit regtig?

Daar is een bekende snit op die album. Hulle het die pragtige aanbiddingslied Come now is the time to worship ingesluit en hul opname is so goed soos enige ander een wat al voorheen verskyn het, indien nie beter nie. Vir my is nog ‘n baie goeie snit met ‘n lekker saamsing-refrein.  In Eendag sing hulle van die vooruitsig van die Wederkoms, en weer eens is dit een van die beste snitte vanaf die album. Renier Bester het die aanbiddingslied Heilig is die Heer geskryf, en hy kan gerus weer so maak. Nog ‘n groeplid wat hom as komponis onderskei, is Bernhard Faassen en weer eens is dit ‘n uitstekende oorspronklike komposisie. Die laaste snit, U glo in my, word in Engels en in Afrikaans gesing, en dis moeilik om te verstaan hoekom. Dit is egter die enigste kritiek wat ‘n mens teen die album kan lewer.

Dis wonderlik om te sien dat soveel nuwe kunstenaars na vore tree wat nie bang is om die Woord van die Here deur middel van hul musiek te verkondig nie.  Amen is beslis een van die opwindendste nuwe groepe wat hulle op Christelike musiek (ek wil nie die woord Gospel gebruik nie) toespits, en omdat hierdie album ook deur ‘n vooranstaande platemaatskappy versprei word, is die kanse goed dat hulle kommersiële sukses sal behaal. Dit sal goed wees, nie net sodat die Evangelie al hoe wyer verkondig kan word nie, maar ook omdat dit ‘n uitstekende album is wat enige tyd met enige ander Afrikaanse album kan saamgesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.