Luister: Lance James se ouwêreldse sjarme bekoor steeds

Die legendariese Lance James kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Hy’s statig. Warm. Waardig.

Lance James is Suid-Afrikaanse country-bloubloed en hy het ʼn diepe respek en waardering vir die duisende aanhangers wat hom al soveel jare lank op die verhoog hou.

“As ek op ʼn verhoog stap, dit maak nie saak of dit ʼn kerksaal, ʼn skoolsaal, ʼn stadion met 50 000 mense is nie – vir my om uit te stap op die verhoog en jy sien glimlagte, glimlaggende gesigte, soms ʼn traan … Vir my is dít baie belangrik. Dit beteken baie. Dit beteken jy maak kontak met die mense. Dis uiters belangrik om kontak te maak met die gehoor,” sê die veteraansanger in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Ek is geëerd om te doen wat ek doen, om vir mense op te tree. As ek op ʼn verhoog stap en ek sien daar is mense wat daar sit en ek weet hulle het geld uit hulle sakke gehaal om ʼn kaartjie te koop om na my of my kollegas te luister, dan wíl ek vir hulle sing. Hulle wil na my luister en ek gaan my bes doen om hulle te vermaak terwyl ek op die verhoog is.”

James staan al jare lank bekend as Big Daddy, ʼn naam wat die sanger Tommy Dell aan hom gegee het weens sy onbaatsugtige betrokkenheid in die musiekbedryf en by sy medekunstenaars.

Die rakleeftyd van moderne musiek is beduidend korter as dié van jare gelede, en dit is nie elkeen wat kan sê ʼn liedjie wat hy 50 jaar gelede vir die eerste keer opgeneem het, bly vandag steeds gewild nie.

James se treffer, “Dankie”, is een so ʼn lied. “Ek het seker honderde gunstelingliedjies, maar die heel belangrikste lied in my lewe is ‘Dankie’. Dit het my hele lewe verander.”

Lance James voeg sy handtekening by dié van talle ander bekendes op Maroela Media se ateljeemuur. (Foto: Maroela Media)

James het “Dankie” in 1967 in Johannesburg opgeneem. Dit was oorspronklik in Duits en op dieselfde dag dat dit in Afrikaans vertaal is, is die opname sommer ook gedoen.

Saam met immergroen treffers soos “Ahoy, Madagaskar Ahoy!” en “Vicki”, bly “Dankie” een van aanhangers se gunstelinge. Maar daar is báie gunstelinge, want James het in sy loopbaan al meer as 100 albums opgeneem.

Op amper 81 het hy pas sy jongste album, Swan Song, vrygestel en James hoop om met die wye verskeidenheid musiek daarop die aandag van ʼn selfs groter gehoor te trek.

Kunstenaars soos Elizma Theron, Nianell en Cindy Alter is net ván die stemme wat op Swan Song gehoor kan word.

Hoewel James insette gegee het oor die keuse van snitte, het hy dit grootliks in die hande van regisseur Benjy Mudie gelaat. Mudie en mederegisseur Matthew Fink het gesorg vir die samestelling van ʼn oorspronklike, unieke en sielvolle album wat baie van James se aanhangers waarskynlik as ʼn versamelstuk gaan beskou.

“Daar is country, gospel, swing. Daar is soul. Dit was baie spesiaal,” sê James oor die album.

“Ek hoop dit gaan ʼn goue plaat dié wees, en al die tekens is reeds daar. Ek hou styf duim vas.”

Een van die snitte wat egter uitsluitlik sy eie keuse was, is “Don’t let the Old Man In”, ʼn lied geskryf deur Toby Keith en wat later gebruik is in die Clint Eastwood-rolprent, The Mule.

James sê talle mense, van oor die wêreld, het die opname van die lied aan hom gestuur. Daar was dus uiteindelik vir hom eintlik geen ander keuse as om dit sy eie te maak nie. Dis iets wat James uitstekend doen – ʼn lied sy eie maak.

Sy raad aan jong kunstenaars wat ʼn deurbraak in die musiekbedryf wil maak, is dan ook dít: wees jouself.

“As iemand my kom vra, dan sê ek vir hulle: doen wat jy kan, doen die beste wat jy kan, wanneer jy kan en vir wie jy kan.

“Probeer om jouself te wees. Ek sien dit – en dis ʼn groot jammerte – dat sommige van die jong kunstenaars mense wat hulle helde is, na-aap. Luister en leer by hulle wat jy kan, maar probeer om jouself te wees.”

En daai kenmerkende stetsons? Waar kom húlle vandaan?

Op 80-jarige ouderdom het Lance James pas sy jongste album, Swan Song, vrygestel. (Foto: Maroela Media)

“Ek het ʼn hele kamer vol hoede en stewels,” sê James, die meeste daarvan gekoop in Nashville, Tennessee, wat hy jare lank elke jaar getrou besoek het vir konferensies en om meer oor die musiekbedryf te leer.

Nog iets waarvan hy amper ʼn hele kamer vol het, is modelmotors, veral Amerikaanse V8’s.

Vir te veel stilsit het James egter nie tyd nie.

“Ek hou my baie, baie besig. Om niks te doen in ʼn dag nie, gebeur nooit nie. Ek is altyd besig met dinge en as daar niks is nie, dan vind ek iets.”

Die album is dalk getiteld Swan Song, maar dit klink nog lank nie soos die einde vir James nie.

“Ek is geëerd dat mense ná al die jare nog steeds na my luister. Ek dink my heel eerste opname was in 1961, dis nou 2019. Dis absoluut wonderlik en ek sê dankie aan die Here, elke dag, en natuurlik aan die publiek wat ons elke dag ondersteun. Ek sê ons, dis nie net ek nie, ek praat van al my kollegas, alle Suid-Afrikaanse kunstenaars.

“Ek sê dankie aan die Here en dankie aan die mense wat ons ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pensioenaris ·

Ai wat n wonderlike sanger en mens. Bewonder hom al vir jare, en so n plat op die aarde mens. Hoop jy sal vir ons vir baie jare nog gelukkig hou.

Cherokee ·

Hallo Lance, onwaarskynlik dat jy dit sal onthou maar dekades gelede het jy tydens ‘n kaas en wyn geleentheid in Carletonville, op my aandrang ‘Vicky’ gesing. Ek het steeds die snit. Mag jy geseënd wees vorentoe.

Net ek ·

Daar kom n tyd in mens se loopbaan wat jy nie meer topformaat is nie. Dan is dit tyd om uit te tree.

W Benade ·

Daar is immergroen kunstenaars en probeer kunstenaars. Probeer om deur die mure van die bedryf te kom. Die immergroenes het dit gedoen. In talle ander lande word baie aan dag aan hul kunstenaars gegee as hulle oud word. Daarom eer ek vir Lance met ‘n
groot dank solank mense jou CDs koop, sing vir hulle! Almal word onkeerbaar oud
en dan wil jy geag en bemin word as die kragte afneem. Die jonges sal ook daar kom.

Pop ·

Gelukkig verskil smaak. Hy is baie gaaf, maar sing die kan hy nie. Is meer gepraat met musiek.

Catherine ·

Wat het geword van goeie maniere. As jy nie iets goeds kan sê nie, bly liewer stil. Op 81 nog so betrokke. Wonderlik. Hulle wat niks goeds te sê het. Pasop vir jul oudag vol krankhede en pyne. Mag die Here jul help om jul lewe te verander.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.