Laurika Rauch ontvang nóg ʼn lewensbydrae-toekenning

Laurika Rauch ontvang haar toekenning van die FAK se besturende direkteur, Dr. Danie Langner (Foto: Verskaf)

Laurika Rauch ontvang haar toekenning van die FAK se besturende direkteur, dr. Danie Langner (Foto: Verskaf)

Die geliefde Afrikaanse sangeres Laurika Rauch is die afgelope week met ’n Prestige-toekenning vir besondere kultuurprestasie vir haar lewenslange bydrae tot die bevordering van Afrikaanse musiek vereer.

Dié toekenning is die afgelope Vrydag deur die FAK (Ferderasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) tydens die Cantare Kinderkoor se konsert in Alberton aan haar toegeken.

Verskeie kunstenaars en kore, onder andere Coert Grobbelaar, Cantare Kinderkoor, Harmonia Meisieskoor en skoolkore van Leeuwenhof Akademie en die Laerskole Dalmonder, Randhart en Elspark, het tydens dié geleentheid bekende liedjies van die sangeres gesing om hulde aan haar te bring.

Laurika het aan eNuus vertel hoewel sy al menige toekennings ontvang het, bly elkeen vir haar ʼn eer en voorreg.

“Dit was ongelooflik gewees. Ek het net teruggesit en dit het oor my gespoel. Daar is so baie gedagtes wat by jou opkom, maar die grootste gedagte is een van dankbaarheid om soveel erkenning te kry vir iets waarvoor jy die liefste is om te doen. Dis ʼn baie groot voorreg,” het sy vertel.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê dié toekenning is aan die sangeres gemaak omdat musiek soos hare kuns is wat betekenis aan die lewe gee. “Miskien is dit nodig om by ’n huldigingskonsert soos vanaand eerder Laurika Rauch se bydrae tot Afrikaanse musiek nie net te beoordeel aan die hand van haar loopbaan nie, maar eerder aan die hand van haar plek in ons Afrikaanse musiekstorie wat strek oor bietjie meer as ’n eeu,” het Langner gesê.

Langner meen ook ander sangers soos Sias Reinecke, Koos du Plessis, Jannie du Toit, Lucas Maree, David Kramer en Anton Goosen het klem op die taal en die gehalte van hul musiek geplaas, en was die pioniers wat momentum verleen het aan die ideaal van outentieke Afrikaanse musiek.

“Hierdie kunstenaars se baanbrekerswerk het die grondslag gelê vir die ontwikkeling van die moderne Afrikaanse musiekbedryf soos ons dit vandag ken. Hulle het die deur oopgestoot vir die veelvoud Afrikaanse sangers wat vandag van sang ’n loopbaan maak. Om dié rede is vanaand se oorkonde nie net nog ’n toekenning nie, maar eerder ’n beskeie dankie aan een van ons grootste musieklegendes,” het hy bygevoeg.

Laurika is ook vroeër vanjaar met die presidensiële Orde van Ikhamanga (brons) vereer. Dit is een van die hoogste toekennings in Suid-Afrika wat die sanger se bydrae tot die kunste vereer.

Die insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk eNuus elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.