Laurika Rauch oor haar 40 jaar in die bedryf

Laurika Rauch vier vanjaar 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. (Foto: Verskaf)

Laurika Rauch vier vanjaar 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. (Foto: Verskaf)

Bitter min Suid-Afrikaners van verskillende generasies ken nié die naam Laurika Rauch nie. Neurie jy die deuntjie van die liedjie “Kinders van die wind”, die Koos du Plessis-lied wat in 1978 deur Rauch ʼn treffer gemaak is en sedertdien volksbesit geraak het, neurie die hele geselskap dit saam.

Rauch is in die oë van talle Suid-Afrikaners en selfs buitelandse musiekliefhebbers ʼn ikoon in die Afrikaanse musiekbedryf en dié gevierde en bekroonde sangeres  vier vanjaar 40 jaar in die bedryf.

Rauch se solosangloopbaan het in 1977 afgeskop toe sy haar eerste televisie-optrede gedoen het op ʼn program met die naam Fyn net van die woord. Hoewel sy voet by stuk hou dat dit moeilik is om hoogtepunte van haar 40 jaar lange loopbaan uit te lig, kies sy dié gebeurtenis, saam met ʼn rits ander, as een daarvan.

“Dit voel asof my hele 40 jaar hoogtepunte was,” sê die sangeres in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Die regisseur van die program was Stephan Bouwer en hy het onder meer vir my gedigte gegee om te toonset. Ek het kitaar gespeel en my kitaarspeler, Colin Drew, het my begelei en dan het mense soos Sandra Prinsloo en Jana Cilliers onder andere ook gedigte voorgelees,” onthou sy.

Sy tel haar huwelik met Christopher Torr, skrywer van haar grootste treffers soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Stille Waters”, “Die gang”, “Kyk hoe glinster die maan”, “Op Blouberg se strand”, “Die mense op die bus”, “Hot gates” en nog vele meer, en die geboorte van hulle twee kinders as haar grootste hoogtepunte.

“In die laat 1980’s was ek al ʼn paar jaar getroud met Chris en het nie geweet hy kan liedjies skryf nie,” verklap Rauch.

“Die eerste liedjie wat hy ooit vir my geskryf het, was ‘Op Blouberg se strand’. Chris is natuurlik Engelssprekend en dit was vir my so ontroerend om hierdie woorde te lees en te besef my Engelse man skryf Afrikaans soos wat dit gepraat word. Dit was net so ʼn voorreg om dit te ontvang van hom,” vertel sy.

Rauch was in die laat 1980’s deel van die Jacques Brel-vertonings, The best of Brel en Encore Brel. Dié vertonings is in die Chelsea-teater in Hillbrow, aan die eindpunt van Rissikstraat, gehou. “In daardie dae was Hillbrow nog ʼn veilige plek en ek kon vroualleen laatnag in die strate loop. Dit was ʼn groot ervaring vir my gewees,” sê Rauch oor dié vertonings.

Laurika Rauch vier vanjaar 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. (Foto: Verskaf)

Laurika Rauch vier vanjaar 40 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf. (Foto: Verskaf)

Sy het dwarsdeur haar loopbaan met van die grootste name van die tyd saamgewerk en het ook meer onlangs saam met meer eietydse kunstenaars, soos Loki Rothman en Die Heuwels Fantasties kragte saamgesnoer. Rothman het saam met Rauch nuwe lewe geblaas in haar treffer, “Blou”, en hulle het uiteindelik saam getoer met ʼn gelyknamige musiekteaterproduksie. Sy het ook saam met Die Heuwels Fantasties hul gewilde snit, “Klein Tambotieboom”, opgeneem en uitgevoer tydens die Afrikaans is Groot-konsertreeks.

Volgens Rauch is sy totaal old school wat perfeksie en voorbereiding vir vertonings betref en is daar geen verskil in die werksetiek van die jonger garde wat uitstaan in die musiekbedryf nie. “Ek is grootgemaak in die teater en op die verhoog en die enigste ding wat miskien verskil, is die styl. Dit is meer eietyds en dit is vir my heerlik om daarby aan te pas en te sien hoe dit uitdrukking vind.”

Rauch onthou haar oorsese optredes en reise soos die dag van gister. “Met die drie UKkasie-vertonings, waarvan een by die Wembley-stadion in Stevenage, en een by die Royal Albert Hall in Londen gehou is, het ek saam met my orkes wat destyds vir my gespeel het, gereis.” vertel sy.

Aan die begin van die 1990’s het sy in Utrecht in Holland opgetree by die Prins van Oranjehal. “Dis ʼn 15 000 seater waar ek saam met die Metropole Orkest opgetree het. Dit is ʼn fantastiese hoogtepunt en ʼn ongelooflike geleentheid. Ek het ook twee keer opgetree in Praag – my hart se punt. Ek en Chris het die voorreg gehad om later die kinders soontoe te neem en ons het dit saam beleef. Dit is vir my ʼn wonderlike stad.”

Wat egter vir haar ook veral uitstaan, was die geleentheid om tydens ʼn toer na Australië ʼn koalabeertjie te kon vashou – iets wat nog altyd op haar emmerskoplysie was. “Hulle is ru en wild en ruik wild. Jy moet hulle ook net op ʼn sekere manier vashou. Jy moet jou hande so voor jou lyf sit en dan sit hulle die beertjie so in jou hand en dan wys die gesiggie so na jou toe. Dit is die dierbaarste ding,” vertel Rauch.

“My meer onlangse toer na Amsterdam was ook iets baie besonders. Dit was heerlik om bietjie rond te kyk en dit te beleef en Loki het my daar ook begelei,” voeg sy by.

Die 'Laurika Rauch - 40 jaar'-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Die ‘Laurika Rauch – 40 jaar’-versamelstel. (Foto: Roux Wedding Photography)

Oor die Laurika Rauch – 40 jaar-versamelstel, waarvan ʼn oplaag van 1 000 eksemplare onlangs bekendgestel is, is sy baie passievol en dit was vir haar baie belangrik om ʼn onberispelike stel vir haar aanhangers beskikbaar te maak om haar vier veelbewoë en heerlike dekades in die bedryf te vier.

Vir die versamelstel het sy 14 albums uit haar omvattende katalogus gekies wat sy glo haar loopbaan die beste verteenwoordig. Sy het egter gevoel daar is ʼn hele paar liedjies wat nie op dié albums ingesluit is nie, maar wat ook vra om gehoor te word en het dus ʼn 15de album, ʼn Versameling, spesiaal by die versamelstel ingesluit.

Met hierdie 15 albums sal aanhangers bykans elke liedjie wat Rauch oor haar 40 jaar in die bedryf opgeneem het as ʼn versamelstuk kan bewaar.

“Daar was vreeslik baie stadiums van die proses om die boksies bymekaar te sit en dit was hoegenaamd nie net ʼn kwessie van maak ʼn paar oproepe en dit word gelewer nie. Ek moes heel dikwels na die drukkers in Johannesburg ry en ontwerpers moes soms dinge aanpas.

“Ek het egter die mees merkwaardige hulp gekry van die hele span by Coleske Artists en dan ook die wonderlike mense by Solidariteit Helpende Hand wat vir my al die versamelstelle help pak het in boksies, een-een. In die proses het ek elke boekie geteken en genommer met baie liefde van my,” vertel Rauch trots.

“Jy kan lankal nie meer van die eerste albums wat nou deel is van die stel, soos Debuut en ʼn Jaar in my lewe en Jy is te dierbaar, van die rakke af koop nie. Dít was vir my ʼn liefdestaak en dit is die manier waarop ek my 40 jaar in die bedryf wou gedenk.”

Sy lag daaroor dat mense na haar verwys as ʼn legende en ikoon. “Ek waardeer dit,” sê sy. “Ek weet wat hulle bedoel daarmee, maar ek dink, as hulle wil, moet hulle dit liewer hou vir nadat ek dood is.”

  • Die versamelstel is eksklusief op Maroela Media se aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Die koste beloop R1 265 per stel. Die bedrag sluit BTW en hanteringskoste, maar nie posgeld in nie. Die verkope van die versamelstel ondersteun ook die Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-veldtog. Daar is slegs ʼn beperkte hoeveelheid van die spesiale versamelstel oor. Koop dit hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerboel ·

Baie dankie vir jou mooi musiek in Afrikaans.sterte vir jou. Hoop daar kom nog baie. Jou musiek is baie goed. Baie dankie.

Elsa Labuschagne ·

sjoe maar sy is n mooi vrou, en dan kan sy nog boonop sing ook. Ek is mal oor haar musiek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.