Laurika vanjaar op Aardklop

Foto: Facebook

Foto: Facebook

As jy drie generasies in een kar laai, is die kans goed dat daar ’n gestryery gaan wees oor die musiek. Ouma wil na Jim Reeves luister, ma brand om Michael Bublé se jongste album te hoor en die jongste van die drie is spyt dat sy nie haar oorfone ingepak het nie. Speel jy nou Laurika Rauch, dan is dit asof daar ’n vrede oor die kar neerdaal. Haar musiek het die vermoë om mense van verskeie oorde saam te bring. Laurika sê sy is nie seker wat die rede hiervoor is nie, maar dat sy nog altyd musiek wou maak wat die toets van tyd sal deurstaan. “Ek gaan meer vir universele musiek wat tot my spreek. Dit moet iets wees wat in enige era, in enige tyd relevant kan wees.”

Musiekliefhebbers sal vir jou sê dat ʼn kunstenaar eintlik eers haar sout werd is, as sy goed op die verhoog óók klink. Laurika Rauch se vertonings wys nie net haar sangtalent nie, maar daar is ook ʼn soort grasie en gemaklikheid by haar – so asof sy tuis is op die verhoog. Sy vertel hoe die res van die wêreld vergete raak sodra sy op die verhoog is – amper soos ʼn kokon. “Dis ʼn illustrasie van die psige van ʼn kunstenaar, dink ek. Dis ʼn baie spesifieke samestelling wat ’n mens het as jy optree.”

Mense wat vanjaar Aardklop toe gaan, sal bly wees om te hoor dat Laurika twee vertonings op dié fees sal hê – die eerste keer in nege jaar. Sy sê dat daar nooit eintlik ʼn spesifieke rede was nie, behalwe vir die feit dat sy by ʼn ander produksie betrokke was en dat sy eerder haar fokus op een vertoning wou sit.  “Aardklop was maar net altyd in die middel van Skouspel en vanjaar is ek beskikbaar vir Aardklop – dis lekker.”

Haar produksie, Nie as ek sing nie, wat op 7 en 8 Oktober plaasvind, word deurweef met teks en bevat ook biografiese elemente. “Ek gaan nie die gehoor op ʼn reis vat vanwaar ek begin het tot nou toe nie. Die narratief gaan glad nie liniêr wees nie.” Sy verduidelik hoe sy ʼn raamwerk geskep het en liedjies gekies het wat binne dié raamwerk pas. “Daar is liedjies wat vir jare nie gehoor is nie soos ‘Die gang’ en ‘Nalekokers’, maar hulle sal inpas in die konteks van die vertoning. Daar sal definitief ook nuwe materiaal wees.”

Luister na die podsending om te hoor hoe Laurika haar produksie se naam gekies het.

Besoek gerus Clover Aardklop se se webtuiste vir meer besonderhede oor Laurika se vertoning.

Laurika se vyf moets vir Aardklop:

  1. ʼn Oop kop en ʼn behoefte om te beleef.
  2. Antihistamien vir mense met hooikoors.
  3. ʼn Gereedheid om wonderlike mense te ontmoet.
  4. Beproef alles van musiek tot teater.
  5. Besoek en ondersteun die stalletjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.