Leah: ‘Ek is wie ek is, vat dit of laat staan dit’

Die omslag van Leah se album “Kyk na my”. (Foto: Willem Botha)

Die sprankelende blondekop en blouoog-sangeres Leah is al deur diep waters in haar lewe, maar dié tye het haar net laat besef sy is wel “genoeg” nes sy is en hoef vir niemand te verander nie.

Leah het pas haar eerste album in drie jaar genaamd Kyk na my bekendgestel. Dié album se naam kom van ʼn liedjie wat juis daaroor gaan om jouself te aanvaar nes jy is.

“Die boodskap van ‘Kyk na my’ is dat jy elke dag moet kan opstaan en sê: ‘Kyk na my, ek is genoeg’,” vertel Leah aan Maroela Media.

“Maak nie saak waardeur jy gaan nie, al is jy op jou laagste laagtepunt, jy is wie jy is en daar is altyd hoop; daar is altyd nog iets om voor te leef en iets om op te bou. Reik uit, praat met mense, daar is geen skaamte daarin om in ʼn donker tyd te wees nie. Ons almal gaan deur moeilike tye en ons hoef nie skaam te wees om daaroor te praat nie,” sê sy.

Leah sê sy was al self deur moeilike tye in haar lewe en soms voel sy steeds asof sy nie uit die bed wil opstaan nie.

Dié moeilike tye maak egter dat sy altyd haar kenmerkende glimlag op haar gesig het. Dan sê sy vir haarself: “Staan op, jy is genoeg, jy kán dit doen.”

“Die moeilike tye het gemaak dat ek wil positief bly en vorentoe kyk. Daar is genoeg hartseer, ons almal huil genoeg. As jy op daardie oomblik kan, hoekom sal jy nie maar net ʼn glimlag op jou gesig sit en die lewe voluit leef nie? Die moeilike tye het regtig gevorm wie en wat ek vandag is,” vertel sy.

Leah beskryf Kyk na my as ʼn album wat wys wie sy is omdat dit vir haar so belangrik is om seker te wees wie jy is en op te staan vir waarin jy glo.

Leah (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

“Partykeer bring jy ʼn album uit, want jy het ʼn idee van die soort musiek wat jy daarvoor wil skep. Maar hierdie album was letterlik vir my ʼn album vir die mense, vir my aanhangers. My hart en siel is in elke liedjie.”

Sy sê daar is positiewe, opbouende liedjies, ʼn ballade én ʼn paar danstreffers op dié album.

“Ek het so ʼn bietjie meer risiko’s gewaag met die danstreffers dié keer – dit is so effens meer popmusiek, en dan is daar ook liedjies wat nie is nie. Dit is regtig iets van alles, en ek is só trots daarop,” sê sy.

“Kyk na my” is geskryf deur Karen Zoid en Johan Vorster. Leah sê dít op sigself was ʼn groot oomblik vir haar.

“Dink jou net in: jy hoor ʼn demo-liedjie waar Johan Vorster op die klavier speel en Karen Zoid sing. Dit is nogal iets ongeloofliks. Ek het dadelik aanklank gevind by die liedjie, dit was vir my emosioneel om daaraan te werk.”

Die boodskap agter “Kyk na my” verbind mooi met die grootste les wat Leah al in die musiekbedryf geleer het.

“Moenie verander vir enigiemand nie. Die mark en die bedryf vorm ʼn mens en hulle het ʼn soort mens wat hulle wil hê jy moet wees, maar wees net jouself. Dís wie ek is, take it or leave it. Ek kan nie verander nie,” sê sy.

Leah is ook tans te sien in Boer soek ʼn vrou, waar sy haar lyf aanbieder hou. Sy moes die liedjies vir Kyk na my opneem tussendeur verfilming van dié gewilde maatsoekprogram.

Leah sal graag in nog ʼn rolprent wil speel, nadat sy verlede jaar die rol van Leksie in Susters vertolk het. Sy wil ook meer aanbiedingswerk doen en moontlik in ʼn televisieprogram speel, maar vir eers fokus Leah op haar musiek en haar allernuutste album.

Kyk na my is op alle digitale platforms en in musiekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

AmY ·

‘n Pragtige en sprankelende mens.
Sy gaan nog gróót hoogtes bereik.

hercu ·

bly een van my gunsteling mense, sangeres, tv aanbiedster en daarby is sy baie mooi :-)

EO ·

Ou Rinkhals, Hou maar jou radio en kommentaar af, ASB. Klink my jy is ook een van daai negatiewe mense wat NIKS goeds en mooi vir enige iemand anders kan sê nie. Ek kry jou familie en vriende maar jammer.

EO ·

Mooi so Leah, Hou aan om so positief te wees, en hou aan sing. Jy sing pragtig, en jy is ook pragtig. Ek hou van positiewe mense. Ons land is geneig om mens negatief te maak, maar ons moet vas op ons voete op die aarde staan.

Ronell ·

Leah jy is ‘n pragtige mens. Ons geniet Boer soek ‘n vrou en die manier wat jy dit aanbied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.