Leah sê dankie met Deluxe-weergawe van ‘Wonderwerk’

leah-deluxe-wonderwerk

Leah spog met ‘n nuwe enkelsnit en ‘n delux-weergawe van haar album. Foto: Leah/Facebook.

2016 is beslis ’n wonderlike jaar vir Leah. Nie net moes sy plek maak vir ’n Ghoema en drie Huisgenoot Tempo-toekennings in haar huis nie, maar sy moet ook bontstaan om ’n besige toerskedule na te kom.

Nie dat sy omgee nie – dis haar manier om bewonderaars te bedank vir hul ondersteuning en wat net as ’n ongelooflike begin van haar sangloopbaan bestempel kan word. So, ná Beste Nuweling, Beste Liedjie en Beste Musiekvideo word Leah se debuutalbum Wonderwerk heruitgereik met vier nuwe snitte op.

Benewens die treffers wat reeds op radio gehoor kon word en wat aan Leah al die toekennings besorg het, sal die Deluxe-album treffers soos “Volmaan” en ’n nuwe weergawe van “Meer as niks” bevat. En met ’n nuwe weergawe van “Met jou klere aan”, beantwoord Leah ook daardie tergende vraag wat bewonderaars nou al ’n rukkie aan die raai het: “Wat is die lekkerste ding om te doen met jou klere aan?” Vir die antwoord, sal jy maar die Wonderwerk Deluxe-album moet aanskaf.

Jy kry dan sommer vier splinternuwe liedjies op die koop toe! Daar is “Jou liefde”, C’est la vie”, “Maak my dag” en ’n Engelse duet met nuwe kunstenaar Roan van As met die titel “Photograph”.

“Jou liefde” is natuurlik ook die nuwe enkelsnit van hierdie album.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.