Leah se jongste musiekvideo: ‘As vroue moet ons onsself onthou’

Leah.

Die blondekop sangeres Leah wéét beslis hoe om pret te hê, en dit word weereens ten toon gestel met haar jongste enkelsnit “Girls Night”.

Die musiekvideo vir dié liedjie is vandag eerste op Maroela Media te sien.

Leah vertel die liedjie spreek die behoefte aan dat almal tyd moet neem om hulle batterye ʼn bietjie te herlaai en dat dit soms  frustrerend kan wees om al die balle gelyktydig in die lug te probeer hou.

“Of dit nou in die werksplek of by die huis as vrou en mamma is – soms moet ons ʼn bietjie terugstaan en net weer onsself onthou. Om ʼn bietjie af te skakel is baie belangrik en ons almal ken die gesegde dat as jy nie na jouself kyk of jouself tyd gun nie, gaan jy nie goed vir ander kan wees nie,” sê sy.

“Girls Night” het ’n opgewekte deuntjie wat geskryf is deur Johan Vorster. Die konsep vir die liedjie is deur Leah en die musikant en liedjieskrywer Appel geskep.

“Hierdie liedjie lê my sommer baie na aan die hart, want ons almal plaas soms te veel druk op onsself om perfek te wees,” sê Leah.

Ook in die musiekvideo beeld Leah en twee vriendinne die alledaagse lewe uit waar hulle probeer om kop bo water te hou met al die verpligtinge.

Nadat hulle die besluit geneem het om ʼn aandjie saam deur te bring word hulle voorkoms opgeknap en skielik verander hulle van afgemat na pragtige, borrelende vroue wat vir ʼn oomblik alle verantwoordelikhede opsy kan skuif.

Die video is in ʼn supermark naby Leah se huis in die Kaap geskiet en sy vertel dit is die meeste pret wat sy nog ooit op die stel van ʼn musiekvideo gehad het.

“Efraine van Heerden en Mia Liebenberg speel saam met my in die video. Hulle is twee van my beste vriendinne. Ons het ook by een van my vriende se kantore geskiet en sy twee seuns was ook in die video. So dit was werklik ʼn spanpoging,” sê Leah.

“Daar was net so ʼn ontspanne atmosfeer op die stel, omdat ons almal mekaar so goed ken en so gemaklik is met mekaar. Ek het regtig ongelooflike goeie vriende in my lewe vir wie ek só dankbaar is.”

Sy verklap dat sy haar nie laat stuit om tyd saam met haar vriendinne deur te bring tydens die algehele afsonderingstydperk wat in Suid-Afrika ingestel is nie.

“Die nuwe Houseparty-app is baie cool. Een van my vriendinne het verjaar en ons was so 13 meisies wat saam gesels en gekuier het deur middel van die app,” vertel sy.

“Girls Night” verskyn op Leah se jongste album, Kyk Na My, wat by uitgesoekte musiekhandelaars en digitaal beskikbaar is.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Dankie Leah; dat jy altyd so positief is.