Leeslus is lewendig, wys suksesvolle BoekeJol en FilmRol

boekejol-2016

Sonja Janse van Rensburg, Dia van Staden, Paulette Reyneke en Zahn Hulme. Foto: Atterburytrust.org.

Daar is gedebatteer, jagstories vertel, resensies ontleed, boeke in diepte bespreek, sosiale media beloer, gekook, geklets, gesing en gelag. Kortom, die tweede jaarlikse BoekeJol en FilmRolfees was ’n dawerende sukses, skryf die Atterbury Trust.

“Ons het beslis gesien dat daar groot leeslus vir Afrikaanse werk is, wat onderstreep dat die fees ’n belangrike rol het om te speel,” sê feesorganiseerder Dia van Staden.

Altesaam 41 boeke is vanjaar vir al die aktuele gesprekke en boekbesprekings ingesluit, en het uithaler-boekbesprekings gelewer wat baie uiteenlopende temas aangeraak het. Van die hoogtepunte het skrywer Piet van Rooyen en Koos Marais se geselsie met Pierre Breytenbach oor hul Namibiëgeskiedenis en Nama-kennis ingesluit. Carla van der Spuy het die moeilike verhaal van Amor van der Westhuyzen, die dogter van Joey Haarhoff, in boekvorm vervat, en die gesprek hieroor met forensiese sielkundige Henk Swanepoel by City Lodge was baie roerend en interessant. Pienkes du Plessis is bekend vir sy jagstories, en hy en Bertus van den Heever het jag- en kampstories in Safari & Outdoor se sitkamer gesels.

Atterbury Teater was vir vier unieke boek-en-musiek-kombinasie-aanbiedings die gasheer deur die loop van die fees, en hoewel so iets nog nooit voorheen aangepak is nie, was dit ’n groot sukses. Dit was omtrent ’n lekkerte om Afrikaanse topmusici Chris Chameleon, Joshua na die Reën, Lize Beekman en Anna Davel se musikale insette te geniet saam met interessante besprekings oor trefferboeke soos ikoniese skrywer Deon Meyer se Koors.

Daar was ’n lekker interaktiewe geleentheid vir ywerige lesers wat ook graag skryf. Lede van die publiek is genooi om ’n inlei-paragraaf vir ’n misdaadverhaal, ’n rubriek of ’n roman te skryf, wat vir die “Skryf-’n-storie”-sessie by Graffiti-boekwinkel deur gesoute skrywers in stories omtower is, terwyl taalkundige Gerda Taljaard-Gilson die proses verduidelik het.

Vir diegene met belangstelling in aktuele sake was die gesprek oor kwotas versus kwaliteit in sport ’n moenie-mis-nie-afspraak, en mense met musiekliefde het hulle verluister aan Coenie de Villiers se gesprek oor die musikale brein.

’n Belangrike oogmerk van die fees, aldus Atterbury se Zahn Hulme, was om leeslus aan te wakker, en die skoolbesoeke van Esta Steyn, Christien Neser en Alet Venter, asook die aanbieding vir kleuters by Alkantrant se biblioteek, het beslis hierin geslaag. “Met Atterbury Trust se hoofdoelstelling van opvoeding, was skoolbesoeke ononderhandelbaar deel van die fees,” sê Zahn.

En dit was nie alles net oor boeke nie … die fotografiegespreksessies met professionele fotograwe het gewys dat daar groot belangstelling in lenstegnieke is. So ook met die baie gewilde Omroeperswerksessie, wat groot pret en baie leersaam was. “Ons wil beslis volgende keer meer tyd maak sodat daar ook praktiese opleiding verskaf kan word in albei hierdie dissiplines,” sê Dia.

Individuele lesers en boekklubs steun almal swaar op die menings van boekresensente wanneer dit kom by die besluit van wat om te koop. Die sessie wat prof. Thys Human van die Universiteit van Potchefstroom met ’n groep resensente gehou het, was dus nog ’n treffer-aanbieding. Daar is geredeneer, verskil en saamgestem oor die gehalte van Afrikaanse boeke, skrywers en die manier hoe resensies gedoen moet word, wat vir ’n baie stimulerende oggend gesorg het.

Net een rolprent is op die fees vertoon, maar dit kon nie beter gekies gewees het nie, aangesien Dis koue kos, skat gebaseer is op die sensitiewe roman deur voorste skrywer Marita van der Vyver. Die gehoor, wat sterre soos Deon Meyer, Elsabé Zietzman en Angelique Gerber ingesluit het, het geskater en gehuil.

Een ding is seker, en dit is dat die BoekeJol sy voetspore nou in Pretoria gevestig het, en dat dit hierna net sal groei. Dia is baie dankbaar vir al die ondersteuning wat haar droom waar gemaak het. “Ek wil so ’n groot dankie sê vir ons borge, Atterbury Trust en Afrikaforum, wat dit alles moontlik gemaak het. Ek het groot waardering vir die skrywers, musikante en aktuele kenners wat vanjaar se program ingekleur het, en natuurlik die boekejol-buddies op die grond. Dankie, Atterbury Trust en Atterburyteater, vir julle groot bydrae – finansieel en andersins. Mag ons saam leesfiks word tot ons in Augustus 2017 herenig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.