Legendariese sanger kondig uittrede aan

Paul Simon (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse sanger en liedjieskrywer Paul Simon het vandeesweek sy uittrede uit die musiekbedryf aangekondig.

Simon het dié nuus in ʼn verklaring op sosiale media bevestig. “Ek het al dikwels gewonder oor hoe dit sou voel om ʼn punt te bereik waar ek dit sou oorweeg om my loopbaan af te sluit. Nou weet ek: Dit voel ʼn bietjie senutergend, ʼn bietjie opwindend en ietwat van ʼn verligting,” het hy in die verklaring gesê.

Talle gerugte het sedert Desember verlede jaar die ronde gedoen dat die sanger sy uittrede sou aankondig ná die dood van sy vriend Vincent N’guini, Simon se hoofkitaarspeler. N’guini is in Desember dood.

Die 76-jarige sanger het in die verklaring gesê hoewel N’guini se dood vir hom ʼn terugslag was, is dit nie die enigste rede waarom hy besluit het om sy uittrede aan te kondig nie.

“Die primêre redenasie agter my besluit gaan meestal daaroor dat die reise wat met toere gepaard gaan en my wegvat van my vrou en familie ʼn tol eis en afbreuk doen aan my vreugde om op die verhoog te wees,” het hy gesê.

Simon het gesê hy beoog om sy huidige toer, wat nog tot middel Junie vanjaar voortduur, te voltooi voordat hy ʼn vaarwelkonsert sal aanbied.

“Ek beoog daarna om af en toe nog optredes te doen in (hopelik) akoestiese sale. Ek sal dan die opbrengs aan verskeie filantropiese organisasies skenk – veral diegene met die missie om die wêreld te beskerm en te red.”

Die sanger het elke aanhanger bedank wat oor die laaste 50 jaar sy konserte bygewoon het en sy musiek ondersteun het. “Dankie aan elkeen dwarsoor die wêreld wat my konserte kom ondersteun het. Ek is baie dankbaar vir ʼn vervullende loopbaan, en natuurlik die meeste van alles, oor elke aanhanger wat iets in my musiek gehoor het wat hul harte aangeraak het.”

Simon se loopbaan het begin saam met sy vriend Art Garfunkel in die musiekgroep Simon & Garfunkel – een van die gewildste musiekgroepe van die 1960’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Joe Hall ·

Dankie aan Paul Simon.
Jy en Art Garfunkel het vir my pelle en myself groot plesier gedurende die sewentiger en latere jare verskaf.
In die liga van ander ysters soos Elvis, Kristofferson, Leonard Cohen, Satchmo, ens ens …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.