‘Lekker verrassing’ wag by Virseker Geesfees

Corlea Botha (Foto verskaf)

Corlea Botha sien so baie daarna uit om weer by ʼn groot kunstefees op te tree, sy sê dit is soos om terug te gaan na ʼn mens se ouerhuis.

Sy is een van die land se vooraanstaande Afrikaanse kunstenaars wat die komende langnaweek by die heel eerste Virseker Geesfees gaan optree. Die fees word van 18 tot 20 Maart 2022 by die Lekwena Privaat Wildreservaat buite Potchefstroom in Noordwes aangebied en is ten bate van Solidariteit Helpende Hand se #StopHonger-voedingskema.

Ander kunstenaars wat gedurende hierdie drie dae lange buitelugfees gaan optree, sluit in Adam Tas, Ricus Nel, Willem van der Ryst, Ichnus, Jay en Lianie May, Irene-Louise, Jannie Moolman en Ruhan du Toit.

Volgens Corlea is sy baie opgewonde om weer in die pad te kan val en Potchefstroom toe te gaan. “Ek is so bly mense kan weer begin saamkom. Ons was lank in ons huise vasgegrendel en ontneem van alle sosiale geleenthede. Ons mense is uitgehonger vir konserte en ons kunstenaars is honger om op te tree, en daarom is ek opgewonde om te weet dat ek met hierdie konsert honger op verskeie vlakke kan stop. En dit is presies waaroor die Geesfees gaan – voedsel vir die siel en fisiese voedsel vir honger kinders,” sê sy.

Corlea tree Sondag 20 Maart saam met Jannie Moolman en Ruhan du Toit op. “Ek is net so opgewonde om weer vir Jannie en Ruhan te sien en saam met hulle te kuier. Hierdie is ʼn eerste groot kunstefees in ʼn baie lang tyd, so ons sal sorg vir ʼn verrassing,” sê sy sonder om die aap uit die mou te laat.

Buiten goeie musiek, gaan daar daagliks verskeie aktiwiteite vir oud en jonk op die feesterrein aangebied word. Daar sal vermaak vir die hele gesin wees en sowat 100 uitstallers met onder andere kosstalletjies en Agri-uitstallers. Koöperasie Kroeg & Kos gaan die kuiertuin behartig. Kyk hier na die volledige program.

Hekke open elke oggend om 07:00 en sluit saans teen 22:00. Sondag sluit die hekke om 17:00.

Kaartjiepryse beloop soos volg:

  • Kinders 0-6 jaar: gratis
  • Kinders 7-13 jaar: R100 per dag of R200 vir die naweek
  • Volwassenes: R150 per dag of R300 vir die naweek

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by http://geesfeespotch.co.za, by Koöperasie Kroeg & Kos in Potchefstroom en kan ook by die hekke gekoop word.

KYK: Corlea kuier op Helpende Hand se kletsprogram Stroom

*Helpende Hand bedank graag die volgende borge: Virseker, Pretoria FM, Lekwena Privaat Wildreservaat, Koöperasie Kroeg en Kos, ALS Group, Castle Lite, Buffelsfontein Brandewyn, Belgravia, WASP, Solidariteit, AfriForum en JVD Digital Marketing Design and Advertising

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.