Len Muller skryf liefdesbrief aan die Weskus

Len Muller. (Foto: Len Muller/Facebook)

“Dit is ʼn plek om jou kop stil te kry, om jou siel te voed. Die tyd staan stil op die Weskus.”

Dit is hoe Len Muller die Weskus beskryf, ʼn Suid-Afrikaanse streek waaraan hy ʼn ode lewer met sy jongste liedjie “Weskus Wyn”.

Die Weskus het jare gelede reeds Len se hart gesteel, en toe dit eindelik sy vrou se hart ook verower, was sy noue verbintenis met dié Suid-Afrikaanse streek uit klip gekap.

“Hierdie is my liefdesbrief aan die Weskus.

“Dit is ongerep, weg van die stadslewe. Die mense is toeganklik en plat op die aarde, sonder enige tierlantyntjies, en, jy weet, die mense maak of breek gewoonlik ʼn plek.”

Len was besig om ʼn musiekvideo in die Weskus te skiet toe hy “Weskus Wyn” geskryf het. Die woorde het maklik gekom, sê Len, die liedjie het op ʼn organiese wyse ontwikkel tot waar dit vandag is.

Dit is op die Weskus waar Len sy vrou aan die Kaap voorgestel het, dit was ook in die Weskus waar die egpaar eindelik besluit het om die stadsgeraas vir die kus te verruil.

“Ek het nog altyd geweet dat ek see toe wil trek, ek moes haar net oortuig. Ons het daar vakansie gehou ʼn paar jaar gelede, en toe steel dit haar hart,” het dié 40-jarige sanger aan Maroela Media vertel.

Len herroep ʼn tydperk in sy lewe waartydens hy nog in Gauteng gebly het. Dit was ʼn moeilike tyd vir hom en het ʼn negatiewe uitwerking op sy geestesgesondheid gehad, erken hy.

Hy hoop dat wanneer mense na “Weskus Wyn” luister, dit ʼn dankbaarheid vir familie, vriende en kosbare tye sal meebring.

“Eerstens hoop ek dat die liedjie mense na die Weskus sal lok,” sê Len.

“En tweedens hoop ek dat mense hul familie, en tyd saam met hul familie, sal waardeer. Dit is so kosbaar. Ons aanvaar dit as vanselfsprekend. Maar op plekke soos die Weskus, waar die tyd stilstaan, besef ʼn mens wat belangrik in die lewe is.”

Kyk die musiekvideo van “Weskus Wyn” hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.