Leon Gropp: ‘Ouma se briewe wek liefde vir Afrikaans’

Leon Gropp (Foto: Verskaf)

Leon Gropp, sanger, liedjieskrywer en televisieaanbieder, het in 2017 die Afrikaanse musieklandskap as solokunstenaar betree ná hy eers in die musiekgroep Hi-5 gesing het en later ʼn lid van die kitaarduo CH2 was. Gropp het in 2018 ook sy buiging op televisie gemaak toe hy by die Ontbytsake-span as aanbieder aangesluit het.

Gropp en sy vrou, Martelize, het pas hul derde kind ryker geword en tussendeur is hy besig om aan allerlei projekte agter die skerms te werk. Hy het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak om te gesels oor sy liefde vir Afrikaans, pa-wees en wat die toekoms vir hom inhou.

Sommer met die intrapslag vra hy om verskoning vir die oponthoud. “Ek het twee siek kinders by die huis en ons jongste is vandag amptelik drie weke oud,” verduidelik hy. Maar met ʼn propvol dag wat voorlê, is daar nie tyd om verlore slaap in te haal nie.

Gropp val weg met die storie oor sy ouma se briewe en hoe dít eintlik die saadjie vir sy liefde vir Afrikaans geplant het.

“As ek moet dink waar die saadjie geplant is, is dit definitief by my ouma (my pa se ma),” sê Gropp. “Sy was ʼn Afrikaansonderwyseres en ons het vandat ek kan onthou altyd vir mekaar briewe geskryf.”

Hy onthou sy ouma het dikwels bladsye met kwinkslae wat haar ma gesê het met hom gedeel. Dit is veral die aanhalings van bekende skrywers en digters, soos NP van Wyk Louw en Uys Krige, asook die manier waarop sy dit gedoen het, wat vir hom spesiaal is.

“My ouma het koerant- en tydskrifuitknipsels in my briewe geplak. Dit was gewoonlik aanhalings van bekendes of ander kere net iets moois wat sy raakgelees het.”

Jare later het Van wyk Louw se poësie op lukrake wyse weer oor Gropp se pad gekom. Trouens, dit het sy debuutalbum Rooidag geïnspireer. Toe Gropp in 2017 CH2 verlaat het, moes hy besluit watter rigting hy met sy sololoopbaan wou inslaan. ʼn Vriend het ʼn Van Wyk Louw-bundel in Gropp se hand gedruk en dit was spreekwoordelik musiek in sy ore.

Leon Gropp (Foto: Verskaf)

“Toe ek op daardie dag ‘Ons liefde is ʼn uur se ydelheid’ lees, het ek byna onmiddellik musiek saam met die woorde gehoor en geweet dit is iets waarmee ek kon werk,” vertel Gropp. Hy het daarna weggespring en binne ʼn bestek van drie maande 13 van Van Wyk Louw se gedigte getoonset en opgeneem.

“Dit was ʼn ongelooflik organiese proses,” sê hy. “Om in Afrikaans te skep gebeur vir my net só natuurlik en daarom hou ek aan om dit te doen.”

Gropp het vroeër vanjaar sy enkelsnit “Digters in die donker” uitgereik. Dié snit is later in Duits vertaal deur prof. Gunther Pakendorf.

“Dit was ook so ʼn lukrake gebeurtenis, soos baie ander dinge in my lewe,” skerts hy. “Ek het deur Daniel Hugo by prof. Pakendorf uitgekom, wat toe ʼn besondere vertaling van die lied gedoen het.” Gropp meen dit het só goed gewerk dat hy in die toekoms van sy ander musiek ook sal laat vertaal.

So van die toekoms gepraat, Gropp is agter die skerms met verskeie projekte besig.

“Die jaar het sy uitdagings gehad en ek voel as jy aan die einde nog staan, al is dit wankelrig, het jy regtig goed gevaar,” meen hy.

Hoewel hy nog nie te veel wil sê nie, laat hy oor een projek die aap uit die mou.

“Ek is saam met Charl Lamprecht, my kitaaronderwyser en seun van die bekende Chris Lamprecht, besig om ʼn program vir aanlyn kitaar- en ukelele-onderrig te ontwikkel,” verklap hy. Hulle fokus veral op ʼn stelsel wat snare met bepaalde kleure verbind. “Ek is verskriklik opgewonde en kan nie wag om dit volgende jaar aan te bied nie.”

Gropp gesels ook oor die rol as pa en gesinsman. Hy meen hul spannetjie is nóú lekker vol. “Ons het gedink ons is klaar ná twee dogters, maar toe maak dié mannetjie sy opwagting,” sê Gropp laggend.

Hoewel hulle tans min slaap en daar vele uitdagings is, is dit vir Gropp ʼn ongelooflike ervaring. Hy meen dit is wonderlik om elke dag soveel van homself deur sy kinders te leer en hy sien uit na dié opwindende fase in hul lewe.

Gropp is op 14 November in die Atterbury-teater by Kuns en klank, ʼn Maroela Media-produksie, te sien. Aanhangers kan uitsien na ʼn uitstalling van Lidi de Waal en Anna Davel se kunswerk voordat Gropp, Jannie Moolman, Saarkie, Lizanne Barnard en Anna Davel gehore met hul musiek gaan bekoor. Die nimlike Lizz Meiring is die gasvrou. Die deure maak om 18:00 oop vir die kunsuitstalling en die vertoning begin om 19:00. Die vertoning is 90 minute lank. Kaartjies kos R195 per persoon en is aanlyn by iTickets beskikbaar.

  • Luister hierbo na die volledige onderhoud met Leon Gropp. Hy het met Maroela Media gesels oor sy liefde vir Afrikaans, pa-wees en wat die toekoms vir hom inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.