Leon Schuster skerts oor maskers in nuwe liedjie

Leon Shuster in die musiekvideo vir ‘Masker’.

Ja, gee die bekende grapjas-akteur Leon Schuster toe, hy háát dit om die verpligte maskers te dra wat as voorsorgmaatreël dien om die verspreiding van die koronavirus (Covid-19) te help bekamp.

Maar, sê hy streng, dit is ʼn belangrike voorsorgmaatreël wat elke landsburger behoort te volg. Daarom het hy die tong-in-die-kies-bewusmakingsliedjie “Masker” geskryf tydens die algehele afsonderingtydperk.

“Dit is ʼn noodsaaklike euwel,” sê Schuster in ʼn onderhoud met Maroela Media oor die dra van ʼn masker in die openbaar. “Dit is nie lekker om daai ding te dra nie. Ek is kloustrofobies en kan dit nie langer as ʼn halfuur dra voor ek voel ek kry nie asem nie.”

Hy sê ten spyte van die ongemak daarvan wil hy steeds mense bewus maak hoe belangrik dit is om ʼn masker te dra. “Dit lyk asof dit die koronavirus uit jou lyf hou en ek wou my boodskap op ʼn komiese manier oordra. Mense lag in elk geval vir my as ek op ʼn ernstige wyse probeer sing.”

Die rolprentmaker wat flieks soos Panic Mechanic en Mr. Bones gemaak het, sê hy het die liedjie in ʼn klein ateljee wat hy tuis opgestel het, opgeneem.

“Dit is maar ʼn klein ateljee, so ek kon nie vreeslik baie doen nie. Ek het egter nie ʼn keuse gehad nie, want in die tydperk toe ek dit geskryf het, mag ons glad nie rondgeloop het nie.”

Hy vertel ʼn kameraman wat ʼn vriend is en in dieselfde buurt as hy woon in Johannesburg, het hom gehelp om die musiekvideo vir “Masker” te skiet. Die video het reeds bykans 20 000 trefslae op YouTube.

Leon Schuster in die musiekvideo vir ‘Masker’.

“Dit was ʼn lekker ervaring om die liedjie te skryf en op te neem. Ek voel ons moet alles doen wat ons kan om die koronavirus ʼn bietjie gas te gee. Die wêreldwye dodetal as gevolg van dié virus is skrikwekkend en dit maak ʼn ou bang. Ek voel jammer vir die mense wat siek word en die mense wat agterbly. Ons besef nie aldag hoe groot hierdie tragedie is nie,” sê Schuster (69).

Binnekort word dié en ander liedjies weer opgeneem, dié keer in ʼn vriend se ateljee. “Hy het ʼn pragtige ateljee met al die nodige instrumente. Nou het ek die kans om ʼn bietjie mooier musiek te maak as wat ek met my beperkte ruimte kon doen met ‘Masker’.”

Schuster sê hy het tydens die inperking die meeste van die tyd agter sy skootrekenaar deurgebring om sy kop besig te hou met skryfwerk.

“Ek het nou twee liedjies klaar geskryf. Die een is oor Nkosazana Dlamini-Zuma en die ander een oor my prostaatklier wat ek onlangs laat verwyder het. Dit was ʼn baie scary storie, hoor, maar ook ʼn snaakse storie en daarom het ek ʼn snaakse liedjie daaroor geskryf.”

Kyk die video hier.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Dit het tyd geword vir Shuster om aan te beweeg met sy laaste politieke korrekte films is hy besig om die nagedagtenis aan hom te vertroebel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.