Leonard Cohen in Afrikaans- Koos van der Merwe

 

Vertaalde musiek is ‘n euwel

Dit is die mening van baie liefhebbers van Afrikaanse musiek van hoogstaande gehalte, en jy sal ook nie sommer sien dat kunstenaars soos Theuns Jordaan, Valiant Swart of Dewald Wasserfall sommer ‘n liedjie sal sing wat nie oorspronklik Afrikaans is nie.

Dit gebeur egter soms dat ‘n album vrygestel word wat hierdie tipe denkrigting bevraagteken. Koos van der Merwe het bekendheid verwerf as  ‘n lid van die Christelike sangpaar Prophet, en hy het seker die eerste Christelike Afrikaanse “luisterliedjie”, Houtkruis geskryf. Nou het Koos iets heeltemal anders gedoen; hy het besluit om Leonard Cohen se musiek in Afrikaans te vertaal.  Hy het dit met Cohen se volle goedkeuring gedoen, wat die puriste tevrede sal stel, maar die vraag is of dit heiligskennis is en of hy eerder Cohen se musiek eer aandoen.

Die eerste snit, Dans my na die liefde toe is die Afrikaanse weergawe van een van Cohen se heel mooiste liedjies, Dance me to the end of love. Die voorwaarde waarop hierdie projek goedgekeur is, is dat die lirieke so na as moontlik aan die oorspronklikes moes wees. Dit het Koos hier baie goed reggekry sonder om dit na ‘n vertaling te klink. Babilon is die Afrikaanse weergawe van By the rivers dark, en hier kom ‘n mens agter dat Cohen se musiek baie goed by Koos se stem pas. Sy lae register op hiedie snit klink baie goed.

Een  van Cohen se heel mooiste liedjies is Famous blue raincoat, en weer eens is die lirieke van Beroemde blou reënjas baie naby aan dié van die oorspronklike liedjie. As U dit so wil is nog ‘n pragtige snit, en die agtergrondstemme klink baie soos dié op die oorspronklike opname. Seker die heel bekendste Leonard Cohen-komposisie is Halleluja, wat al deur verskeie kunstenaars opgeneem is.  Sover ek weet, is Koos se Afrikaanse vertaling ook nie die eerste een nie, maar dit klink beter as enige opname wat tot dusver deur enige ander plaaslike kunstenaar gemaak is.  Omdat die oorspronklike weergawe so bekend is, sal hierdie snit sekerlik een van die treffers vanaf hierdie album wees.

Hey that’s no way to say goodbye was nog een van Cohen se heel bekendste komposisies, en Dis nie hoe ons tot siens moet sê is ‘n baie goeie Afrikaanse weergawe daarvan.  Slaapliedjie, die Afrikaanse weergawe van Lullaby, is nog ‘n pragtige snit, hoewel party mense sal dink “slapies” is effens argaïes.  Koos het met hiedie album die versoeking weerstaan om deurmekaar taal te gebruik, maar die uitsondering is op Die gypsy se vrou. Die woord “sigeneur” sou sekerlik nie ingepas het nie, en daarom kan ‘n mens dit vergewe. Ballade van die wegloopmerrie is iets besonders, omdat Koos dit aanvanklik a capella sing, en die musikale verwerking , wat deur Mathys Maree gedoen is, veral op hierdie snit baie goed is.

Suzanne was en van Cohen se vroeëkomposisies, en Herman van Veen het dit selfs al in Nederlands vertaal. Dis net snaaks dat Koos die naam in Engels eerder Afrikaans uitspreek. Nogtans is dit ‘n pragtige snit wat dalk ook radiolugtyd verdien. Die voorlaaste snit is Almal weet dit wel, die Afrikaanse weergawe van Everybody knows., en weer eens is dit ‘n uitstekende snit. Die album word afgesluit met ‘n herhaling van Halleluja.

Daar is ‘n paar snitte wat miskien ook nog ingesluit kon word, veral Take this waltz, maar hierdie album is ‘n goeie manier vir diegene wat Cohen se musiek dalk nie ken nie, om daarmee kennis te maak. Koos het lank al bekendheid verwerf as ‘n woordkunstenaar in die ware sin van die woord, en daarom het ‘n mens niks minder as uitstekende lirieke verwag nie. Gewoonlik behoort vertaalde musiek met minagting bejeën te word, maar hierdie album is ‘n uitsondering op die reël. Dit kan baie sterk aanbeveel word vir diegene wat op soek is na musiek wat meer om die lyf het as die kommersiële gemors wat in musiekliefhebbers se keelgate afgedruk word. Die feit dat dit reeds baie gewild is, is ‘n bewys dat goeie musiek wat die toets van die tyd sal deurstaan, ook wyd byval kan vind. As dié album se gewildheid maak dat al hoe meer mense in Cohen se musiek belangstel, sal dit ook goed wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.