Lexus- en Toyota-eienaars kan Classics 2020 gratis kyk

Ruhan du Toit. (Foto: Verskaf.)

Die Lexus Classics-konsert verbreek dié naweek die stilte met sy eie nuwe digitale weergawe van die gewilde konsertreeks.

Die Classics-konsert het aanhangers die afgelope vyf jaar op hulle voete gehad in die Sun Arena in Menlyn, Pretoria. Vanjaar is daar egter ʼn demper geplaas op alle musiekvertonings met die Covid-19-pandemie, maar aanhangers het nou die kans om Vrydag die 2020-weergawe van die konsert in hulle eie sitkamer te geniet.

ʼn Mini-simfonie-orkes sal sangers soos Corlea, Demi Lee Moore, Monique Steyn en Ruhan du Toit, Timothy Moloi, Boki en Siki Jo-An vergesel terwyl hulle van die grootste treffers van alle tye sing.

“Dit gaan wonderlik wees. Dit is net soos die oorspronklike Lexus Classics, net in ʼn digitale weergawe. Ons gaan weer die grootste treffers van al die legendariese kunstenaars sing,” het Demi Lee met ʼn onlangse opname gesê.

Monique Steyn. (Foto: Verskaf.)

Ruhan sal ʼn bykomende tikkie klas by die Lexus Classics voeg wanneer hy sy weergawe van die Simon & Garfunkel-treffer “Sound of Silence” vir dié konsert sing.

Konsertgangers wat Vrydag op die digitale konsert inskakel, kan ook uitsien na ander klassieke treffers soos “Wicked Games” gesing deur Corlea, asook Adele se “Hello” wat deur Demi Lee uitgevoer word. Daar is ook ʼn heerlike Abba-medley wat die kykers tuis op hulle voete gaan kry om behoorlik te dans.

Kaartjies is by Computicket beskikbaar by stayin.computicket.com teen R120. Lexus- en Toyota-eienaars kan onderskeidelik die app MyLexus of MyToyota aflaai en die vertoning gratis geniet. Navigeer na Social in die app en gebruik die skakel wat daar vir toegang tot die konsert gelaai is.

Coleske Artists is die vervaardigers van die Lexus Classics-konsert in 2020, wat einde April 2020 hulle stromingsdiens op Computicket met die StayIN/INbly-konserte van stapel gestuur het. Meer as 40 suksesvolle konserte is al deur meer as 120 000 mense wêreldwyd in die gemak van hulle eie huise met die nuwe diens gekyk.

“Ons is verheug oor die goeie reaksie wat ons stayIN/INbly-konserte geniet,” sê Barry Pretorius, regisseur en vervaardiger van Lexus Classics.

“Dit het begin as ʼn inisiatief om kunstenaars te help in hierdie tyd van nood, en ons is dankbaar dat konsertgangers graag tuis konserte geniet en die musiekbedryf op hierdie manier ondersteun.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Hahah, sit Steve in die mix en niemand mag gratis kyk nie. Die klomp rassiste van Toyota sal onttrek.