Liani Reynolds se ‘Ligsoom’ ʼn ‘unieke, kontemporêre’ album

Liani Reynolds. (Foto: Facebook via Liani Reynolds)

Liani Reynolds. (Foto: Facebook via Liani Reynolds)

As ma van vyf seuns op die klein dorpie Trompsburg in die Karoo, het die sangeres en liedjieskrywer Liani Reynolds haar op haar huwelik en ouerskap toegespits voordat sy sowat twee jaar gelede op aanmoediging van Ronel Brink, die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma en bestuurder, besluit het om haar musiektalent te ontgin.

Reynolds is nou al vir twee jaar professioneel met musiek besig en nadat haar paadjie met dié van musikant Joshua na die Reën gekruis het, by wie sy dadelik aanklank gevind het, is haar debuutsolo-album, Ligsoom, nou op die rakke.

Ligsoom word beskryf as ʼn unieke kontemporêre musiekalbum, “wat jou soos ʼn sprokiesverhaal sal vergesel op ʼn baie persoonlike reis deur die sangeres se lewe”.

“Die album is saamgestel uit liedjies oor persoonlike belewenisse en odes aan geliefdes. Mense wat in my lewe baie vir my beteken het. Die titel is ʼn samevattende konsep van ʼn tema waaroor byna al die snitte handel,” vertel Reynolds.

“Ons het almal in ons kop ʼn idee van hoe ons wil hê dit moet lyk as iets goed is. Nie aangeplak goed of versier met allerhande blinkers nie, net vry. Soos wat dit nog altyd bedoel was om te wees. Party mense noem dit die lig of hemel, maar vir my is daardie plek die ‘ligsoom’.”

Agt van die elf snitte op die album is oorspronklike Afrikaanse werke uit haar eie pen, wat elkeen sorgvuldig aanmekaargeweef is met die mooiste klanke en lirieke om uit die staanspoor gehore se harte vas te vang. ʼn Duet saam met Joshua na die Reën, “Vlieërs”, kan ook op dié album gehoor word, asook “Pelgrimsgebed” deur Amanda Strydom en “Gewoond” deur die groep Bittereinder se Jaco van der Merwe.

“Die liedjies is stories. Ek kan maar net hoop dat die storie vir iemand iets sal beteken wat daarna luister. Met die uiteensetting van die volgorde het ek probeer dat die storie begin en afsluit met die twee snitte wat albei verwys na ʼn gebeurtenis in die ‘ligsoom’, die gebeurtenis waar mens aanhou soek na die lig wat weggesteek is in die realiteit van nou.

“Verder is snitte wat die luisteraar vat na ʼn stiller plek saamgegroepeer met ander wat hierdie atmosfeer steun. Die samestelling was eintlik maklik, aangesien, as jy mooi kyk, jy die tema van die weggesteekte lig oral vind binne elke lied se lirieke,” verduidelik sy.

As jy haar vra watter liedjies op die komende album haar gunsteling is, sê sy: “Dis so moeilik vir my om net een enkele snit as my gunsteling uit te sonder, want elke liedjie het sy eie storie in my hart en sentiment. Die liedjies wat baie naby aan my hart lê, is ‘Mossie’, ‘Groen’, ‘Herontmoeting’, ‘Skuiling’ en ‘Vlieërs’. Ons het almal maar net ons stories. Ek hoop hierdie album moedig elkeen wat daarna luister aan om ook hulle stories te skryf en te deel.”

Sy vertel haar grootwordjare as die jongste van drie kinders op Piet Plessis, ʼn klein dorpie in die Noordwes sowat 60 km suid van die Botswana-grens, het ʼn groot rol gespeel in wie sy is en hoe sy haar musiek skep.

Na skool het Reynolds arbeidsterapie aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Deesdae woon sy saam met haar man en vyf seuns, Percy, Wihann, Izak, Kalla-Dabar en Miga, op Trompsburg, en is sy ook lief vir enigiets wat kreatief is – van mosaïek tot skilder en geniet sy dit om tyd in die buitelug deur te bring.

Reynolds het ook ʼn baie sagte plekkie vir kinders. “Ek is baie lief vir kinders van enige ouderdom. Ek het ʼn groot passie om met babas en nuwe mammas te werk en hulle by te staan wanneer hulle sukkel, omdat ek self baie geleer het met my kinders en dit met my studies as arbeidsterapeut oorvleuel,” sê sy.

Die kunstenaar volg haar hart en luister graag na musiek met ʼn opregte boodskap wat met klanke eksperimenteer. “Ek bewonder musikante wat die moed het om te wees wie hulle is. ʼn Liedjie wat vir ʼn spesifieke persoon geskryf is, of uit ʼn sekere situasie, laat my altyd weer ʼn keer daarna wil luister. Die lirieke kom lê dan sommer in my hart en ek kan beleef wat die liriekskrywer gevoel het toe hy dit neergepen het,” vertel sy.

“Nie een van die snitte op Ligsoom is gekies om mense te probeer oortuig om van my en die musiek te hou nie. Dit is maar net wat dit is. Ek dink almal kan uitsien na lirieke wat ʼn prentjie in jou kop skilder en wat jou sal meesleur as deel van die storie. Ek hoop dat mense wat daarna luister met ʼn ligter gemoed sal wegstap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae