Lianie May: ‘Ná 10 jaar is ek steeds ʼn plaasmeisie’


Lianie May (Foto: Facbeook)

Tien jaar gelede was sy gereed om die handdoek in te gooi, vertel ʼn opgewekte Lianie May tydens ʼn onderhoud in die Maroela Media-ateljee. Sy het aan honderd deure geklop met die hoop dat selfs net ʼn enkele een sou oopmaak en haar die geleentheid sou gun om te sing. Maar elke deur het toe gebly – tot op ʼn dag tydens ʼn Eden-konsert op Oranjeville in die Vrystaat.

Ja, die storie oor hoe haar loopbaan tydens ʼn oudisie in die kleedkamer van ʼn Vrystaatse skool begin het, is wél waar, sê sy. “Ek wou ná ʼn lang gesukkel die stryd gewonne gee – in ʼn stadium raak ʼn mens moedeloos om voor toe deure te staan te kom. Maar dié deure het wel geopen net voordat ek finaal moed opgegee het. Op ʼn dag het [die musiekgroep] Eden by Oranjeville Primêr kom optree en ek het dit as ʼn nuwe geleentheid beskou. ʼn Vriendin het my aangepor en gesê ek het niks om te verloor as ek hulle minstens net vir ʼn kontak in die musiekbedryf of vir ʼn rigtingwyser vra nie.

“Daardie tyd het ek my demo al duisend keer vir agente gestuur en niks het daarvan gekom nie. Toe hulle besig was om klank op te slaan, het ek na Sean Else [ʼn lid van die groep] gestap en hom gevra vir kontakte. Sy vraag aan my was reguit: ‘Kan jy ooit sing?’ Ek sê toe: ‘Almal se smaak verskil, maar ek kan sing.’ Ek het hom gevra of ek sommer net daar en dan vir hom ʼn oudisie kon doen. Dit was raserig waar ons gestaan het en hy het Johan Vorster gaan roep voordat ek my oudisie in die seunskleedkamer afgelê het. Ek het ʼn klomp liedjies waaronder ‘Chiquitita’ van Abba en ‘Ek kom huis toe’ gesing. Die res is geskiedenis,” vertel sy.

Die sangeres se jongste album, Iemand om lief te hê, vier haar 10 jaar in die musiekbedryf. Sy vertel sy het besluit om met dié album terug te keer na haar wortels: dié van ʼn Vrystaatse plaasmeisie met haar hart op haar mou en wat stories het waarmee talle kan assosieer.

“Mense vra my dikwels wat verander het in die tien jaar wat ek sing, maar vir my voel dit nog steeds net presies dieselfde. Ek is steeds die plaasmeisie van Oranjeville. Ek is steeds nederig en elke oomblik van elke dag steeds dankbaar dat ek nog kan sing. Aanhangers sal baie van die musiek op die album herken as my ‘ouer styl’. Ons wou met dié album terugkeer na liedjies soos ‘Vergeet my nie’ en ‘Pretoria’. Ons wou weer ʼn nostalgiese element deel maak van die musiek – die plaashuis en die skaapboud en hoe die kinders buite gespeel het.”

Lianie, wat onlangs ná ʼn tien jaar verlowing aan Barry Lubbe uiteindelik afgehaak het, vertel sy en haar man verdeel deesdae hulle tyd tussen die plaas op die Vrystaat en die stad. Die egpaar boer nou al vir twee jaar lank saam nadat hulle die plaas geërf het. Hulle is “een week op die plaas waar hulle draad span en voer aanry” – soos Lianie daarna verwys – en een week in die stad waar sy aan haar musiekloopbaan werk.

Sy vertel die liedjie “Iemand om lief te hê”, wat reeds op radiostasies landwyd gehoor kan word, lê haar na aan die hart. Dit vertel ʼn verhaal van liefde – een wat geld vir haar en Barry, maar ook vir ander mense wat liefhet.

Lianie May (Foto: Facbeook)

“Johan [Vorster] het vir Appel [Christoph Kotzé] opdrag gegee om ʼn liedjie te skryf wat met mense se harte sal praat. Ek sê altyd my werk is gedoen wanneer iemand na my toe kom en sê ‘dáárdie liedjie praat met my’ – en dís presies wat met die liedjie gebeur. Ons almal kort iemand om lief te hê en dan ook iemand wat jou terug liefhet. In vandag se lewe is daar juis soveel rede om die liefde net altyd eerste te stel. As jy iemand in jou lewe het, waardeer en koester dit.”

Die sangeres en Jay du Plessis is as’t ware “duetlieflinge” in Suid-Afrikaners se oë. Hoewel dié album nie duette bevat nie, sê sy haar pad saam met Jay is nog lank nie verby nie. “Dit het toevallig gebeur dat ons saam begin musiek maak het. Sy platemaatskappy het met die liedjie ‘Knieë lam’ opgemerk dat iets in ons stemme saam werk. Nadat ons ‘In a moment like this’ en ‘Toe stop my hart’ gesing het, het aanhangers aangedring op ʼn duetalbum. Ons is wonderlike vriende en ons geniet mekaar se energie op die verhoog. Ons moet dankie sê vir die mense – dis deur hulle toedoen dat ons as duetpaar ook suksesvol is.”

Aanhangers kan “waarskynlik” uitsien na ʼn twee Platteland-fliek in 2018, sê sy. Volgens die sangeres was daar reeds besprekings rondom die moontlikheid, maar daar is nog nie enige formele planne nie.

“Dit was ontsettend harde werk om die fliek te maak, maar dit was seker een van die lekkerste dinge wat ek in my lewe gedoen het. Ek moes amper 30 melkterte – almal wat volgens die resep gebak is – na Bok [Van Blerk, wat teenoor haar gespeel het] gegooi het. Dit was twee maande van hope pret, en ons hoop dat ons in 2018 wéér so projek kan aanpak.”

Vir meer inligting oor haar jongste album, besoek Lianie se Facebook-blad en webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chris Ws ·

Ek en my vrou hou baie van haar en al haar liedjies.My gunsteling is Bel-bel-bel omdat ons dogter en skoonseun pas getroud was en ‘n Volla gery het daai tyd!

Su-an ·

Welgedaan Cyril! Jy kan maar ‘n Omroeper ook word, jou ATKVeer!

Mooi rooi soentjie ·

Hou nie van die “e n g e l s” tog so maklik sing suiwer ..afrikaans of engels!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.