Lied van Gé se lewe

ge-korsten

Gé Korsten. Foto: Chessaleeinlondon.wordpress.com

Op 29 September 1999 het die Afrikaanse musiekbedryf ʼn legende verloor toe Gé Korsten in die ouderdom van 71 jaar oorlede is.

Gé is op 6 Desember 1927 in Rotterdam, Nederland, gebore en het op sewejarige ouderdom saam met sy gesin na Suid-Afrika geïmmigreer. Aanvanklik het Gé hom as elektrisiën bekwaam, en eers in 1952 met sangstudie aan die SA Musiekkollege in Kaapstad begin.

In 1965 het Gé se eerste album, Gé Korsten sing uit die hart, verskyn; dit was ʼn Christelike album met begeleiding deur Pieter de Villiers en die Cantare-koor. Dié album is opgeneem om geld vir die Abraham Kriel-kinderhuis in te samel, maar dit was die begin van een van die langste en suksesvolste loopbane van enige Afrikaanse kunstenaar. Dit is natuurlik onmoontlik om elke album of treffer wat Gé opgeneem het hier te noem; daarom gaan ek net op enkele hoogtepunte van sy loopbaan fokus.

Gé se groot deurbraak in ligte Afrikaanse musiek het in 1966 plaasgevind met die vrystelling van die album Gé Korsten sing Erika. Benewens die titelsnit het hy onder meer ook bekende snitte soos “My hart verlang na die Boland”, “Verre lande” en “Ou Karooland” ingesluit. In dieselfde jaar maak Gé sy buiging as akteur in die rolprent Die Kruger-miljoene, waarin hy teenoor Min Shaw speel. In  Desember 1967 word een van die suksesvolste Afrikaanse rolprente tot nog toe vrygestel. Hoor my lied stel rekords by die loket op, en in hierdie rolprent speel Gé teenoor Helga van Wyk, Min Shaw, Martin Pols en die destydse kinderster Lindie Roux. Een belangrike rede vir dié rolprent se sukses was die klankbaan, waarop treffers soos “Die ABC” (saam met Lindie Roux), “Die heidelied” (saam met Min Shaw), “Onse vader” en “Hear my song” voorgekom het.

Skaars vier maande later verskyn die album Seeman; die titelsnit was die Afrikaanse weergawe van Petula Clark se treffer “Sailor”, waarvoor Virginia Lee die Afrikaanse woorde geskryf het. Hoewel sy dit oorspronklik opgeneem het, was dit Gé wat groot sukses daarmee sou behaal. Daar word gesê dat Gé daarop aangedring het dat elke album wat hy daarna sou opneem, van dieselfde goeie gehalte moes wees. Dis maklik om te verstaan hoekom; dit was een van sy gewildste en beste albums. Gé behaal verdere sukses die volgende jaar met nog ʼn trefferalbum, Sing, seeman, sing.

Intussen verskyn Gé in nóg rolprente, onder meer A new life, saam met Leonore Veenemans, Lied in my hart, saam met die voormalige Mej. SA, Mitsi Stander, wat op ʼn jong ouderdom in ʼn motorongeluk oorlede is, en Lokval in Venesië saam met Diane Ridler, June Seymour en Maudie Adendorff. Laasgenoemde rolprent lewer twee groot treffers op, naamlik “Reën”, wat hy eintlik twee jaar tevore op die album In my seemanshart ingesluit het, asook “Hier is ʼn mens”. Dit was ook die titelsnit van nog ʼn suksesvolle album, wat ook die klankbaan van Lokval in Venesië was.

Later daardie jaar verskyn sy volgende album, met moontlik sy grootste treffer, “Liefling”, as titelsnit. Dit was die Afrikaanse weergawe van “Peace hymn”, wat oorspronklik gesing is deur Peter Maffay, wat kort tevore ʼn reusetreffer in Suid-Afrika met “You” gehad het. Nog een van Gé se grootste treffers was “Ek kyk graag so diep in jou oë”, wat in 1978 die Treffer van die Jaar op die musiekprogram Afrikaanse treffers geword het.

In dieselfde jaar het Gé dit gewaag om ʼn pop-album op te neem; iets wat hy nooit tevore of daarna gedoen het nie. ABBA se treffer, “Thank you for the music”, was die titelsnit, en op dié album is ook ander destydse treffers soos “Love is in the air” van John Paul Young, “Can’t smile without you” van Barry Manilow en “My broken souvenirs” van Pussycat opgeneem.

Hoewel Gé in daardie stadium nie in rolprente te sien was nie, het hy die aanbieder van die televisieprogram, Gé sing, geword. Ná ʼn lang stilte reik hy in 1988 die album Ek hou van jou uit, met die titelsnit en “Mooi ou Kaapland” as treffersnitte. Hy sou egter nog groter sukses behaal met sy album Gé Korsten 1990, wat nog ʼn reusetreffer, “Lied van die lewe”, opgelewer het. Twee jaar later verskyn sy trefferversameling Gé se 20 treffers, wat bestaan uit sy grootste treffers wat hy in daardie stadium nog gereeld gesing het. Gé het gereeld saam met Rina Hugo opgetree, en hul duet-album, Rina en Gé, het die reusetreffer, “Ek mis jou elke dag ʼn bietjie meer”, opgelewer.

Gedurende sy sangloopbaan, wat oor meer as 30 jaar gestrek het, het Gé meer as 50 albums uitgereik en meer as 800 liedjies opgeneem. Hy kon feitlik enige musiekgenre baasraak; jazz en country was omtrent al wat hy nie gesing het nie. Hy was een van die min kunstenaars wat sukses met ligte en ernstige musiek kon behaal en daarom kan hy met reg as een van ons land se grootste kunstenaars tot nog toe beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nico ·

Dit is vreemd dat die liedjie, Liefling, nie in sy album van die rolprent, Lokvak in Veniesië, verskyn nie. Liefling was tog die groot treffer in daardie rolprent.

Coleen ·

Gé Korsten was ‘n sanger wat van opera tot ligte liedjies kon sing. ‘n Stem wat stil geword het, maar nog op CDs voortleef.
Hoor my lied was my gunsteling rolprent en as klein dogtertjie het ek die rolprent baie geniet en kan ek nog goed onthou in watter teater ek die rolprent gesien het. My gunsteling liedjie van Gé Seeman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.