Lied vereer Suid-Afrikaanse vrouehelde

leandie-brasler-racheltjie-de-beer

‘n Skermskoot uit die Leandie Lombaard Brasler se eerste musiekvideo.

Krag van Bo het oor jou kom rus en jou toegevou in ʼn kleed van liefde. Nou sal ons jou naam vir altyd onthou.”

Dit is van die lirieke uit Leandie Lombaard Bräsler se eerste enkelsnit “Racheltjie de Beer” wat Vrydagoggend in samewerking met Dapper Media en Forum Films ter viering van Vrouemaand direk op YouTube uitgereik is.

Bräsler, AfriForum se koördineerder van leierkapsontwikkeling, sê sy wou met dié lied erkenning gee aan die rol wat vrouehelde soos Susanna Smit, Emily Hobhouse, Nonnie de la Rey en Racheltjie de Beer in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel het.

Sy het dié lied as student sewe jaar gelede neergepen nadat sy gehoor het daar is sprake daarvan om ʼn fliek oor Racheltjie de Beer se verhaal te maak.

“Om die lied en ʼn musiekvideo nou daar buite te hê is nog effens onwerklik vir my,” vertel Bräsler.

Sy sê die hele proses daarvan om die liedjie te skryf tot by die vervaardiging van ʼn musiekvideo het haar baie van geduld geleer.

“As daar een ding is wat ek met hierdie lied op die hart gedruk is, is dat die Here se tyd nie altyd ons tyd is nie. Ek besef nou sewe jaar gelede sou ons dit net nie kon doen soos wat dit nou gedoen is nie.”

Sy is ook betrokke by Bid en Braaf‑bediening waar daar op jong vroue gefokus word. Bräsler glo die verhale van vrouehelde, soos dié van Racheltjie de Beer, is juis van die waardes waarmee dié bediening vroue wil inspireer en bemoedig.

Bräsler sê sy weet Racheltjie de Beer se verhaal is fiktief, maar glo die kernboodskap daarvan is iets waarmee mense kan vereenselwig.

“Racheltjie de Beer is vir my so ʼn mooi beeld van ’n jong meisie wat rein van hart is. Iemand wat die moeilike weg gekies het, maar iemand wat ’n dapper besluit moes neem. ’n Ware heldin.”

Sy vertel dat dié lied vir haar nog altyd bly uitstaan tussen al die musiek wat sy sedert haar skooldae geskryf het. “Ek het al talle liedjies geskryf, maar jy weet ’n lied praat met jou hart as die musiek en lirieke sonder huiwering en twyfel na jou toe kom. Ek het aanhou hoop dat hierdie lied wel eendag op die regte tyd en wyse gebruik sal word.”

Volgens Bräsler is die lied deur haar geloof, familie en sterk vrouens geïnspireer. “Vrouens soos Susanna Smit, wat gesê het dat sy kaalvoet oor die Drakensberg sal loop, het geglo en geweet dat die pad na hoop nie altyd maklik is nie. Almal gaan deur hulle eie moeilike tye, maar deur vas te staan in verdrukking en te volhard in gebed maak jou braaf,” meen sy.

Die lied sal ook gebruik word in AfriForum en Loopgraaf Films se opkomende projek, Kaalvoethelde, wat ’n reeks kortverhale oor kinderhelde soos Dirkie Uys en Japie Greyling is en ook die verhale van Racheltjie de Beer en Antjie Somers vertel.

Die enkelsnit kan aanlyn by musiekstromingsdienste soos Itunes, Spotify en Joox afgelaai word.

  • Kyk ook hier na die musiekvideo van die lied wat vanoggend uitgereik is:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.