Lied vir die vrou – Kurt Darren

Kurt-Darren-se-Lied-vir-die-Vrou

Kurt Darren se nuutste album, Lied vir die Vrou. Foto: Argief.

Dit is seker al twintig jaar sedert Kurt Darren sy debuut op Noot vir Noot gemaak het met ‘n keurspel van Elton John se musiek.

Sedertdien het hy seker Suid-Afrika se mees suksesvolle kunstenaar geword, en die en treffer na die ander opgelewer. Kurt se aanhangers (en kritici) kon ook tot dusver seker wees dat hy elke jaar in Oktober ‘n nuwe album sou vrystel.

Dit het dan ook verlede jaar gebeur; Kurt se jongste album, Lied vir die vrou, het in Oktober verlede jaar verskyn, en nog nie heeltemal so goed gevaar soos sommige van sy vorige vrystellings nie. Die vraag is: Moet hierdie album nog sy volle potensiaal bereik, of het die publiek moeg geword vir hom?

Die titelsnit is ‘n Europese melodie waarvoor daar Afrikaanse lirieke geskryf is. Daar is al van Kurt se treffers wat in Nederlands vertaal is, en met hierdie snit gebeur die teenoorgestelde. Kurt het Cowboys en crooks saam met Emil Struwig geskryf. Dit was die eerste enkelsnit vanaf die album, maar dit was nie ‘n groot treffer nie. Dit is moeilik om te verstaan hoekom. Die jongste treffer is Dans op die tafels, waarin Kurt terugkeer na die oppervlakkige dansmusiek waarvoor hy bekendheid (of is dit berugtheid?) verwerf het.

Emil Struwig was ook verantwoordelik vir die pragtige snit, ‘n Man het ook ‘n hart. Hierdie snit verskil radikaal van iets soos Dans op die tafels, en daarom is dit te betwyfel of dit radiolugtyd sal kry. As dit die geval is, sal dit niks anders as ‘n skande wees nie. Kurt en Emil het Saggies praat saam geskryf; dit gaan die volgende treffer wees. Dit is seker een van die beste snitte vanaf die album. Dans behoort nog ‘n treffer te wees. Laat die poppe dans is ‘n lekker snit wat beslis verdien om gewild te word.

Emil Struwig het die volgende snit, Hart van glas, geskryf. Hierop wys Kurt dat hy ook ballades kan sing en die lirieke laat ‘n mens boonop ook dink. Kurt het die Afrikaanse lirieke vir Ek is jou skaduwee geskryf; dit is ‘n goeie snit wat ook speeltyd verdien. Op Dieselfde sing Kurt van die vooruitgang van die samelewing, en hy sê tereg dat dit nie noodwendig ‘n goeie ding is nie. Kurt gee sy ouderdom weg met die snit Ruiter in swart, wat handel oor die hoofkarakter van die gelyknamige fotoverhaal-karakter. Ooh la la het ‘n lekker ritme, maar die lirieke sal dalk eerder by jonger luisteraars byval vind. Die volgende snit is ‘n keurspel wat bestaan uit Bicycle sonder slot, Kruidjie-roer-my-nie, Klein bietjie wyn en Stuur groete aan Mannetjies Roux. Die laaste snit op die album is Dimpels; gelukkig nie dieselfde liedjie waarmee Gerhard Steyn ‘n treffer gehad het nie. Weer eens is dit ‘n komposisie van Kurt saam met Emil Struwig.

Hoewel hierdie album net so goed soos die meeste van Kurt se voriges is, kry ‘n mens die indruk dat dit voortydig vrygestel is. Daar is twee redes hoekom ek dit sê: eerstens is ‘n snit vanaf sy vorige album, naamlik Beautiful, steeds op die trefferslys van ‘n aantal radiostasies en dit lyk asof dié snit nie gou sal uitsak nie. Daarby was Cowboys en crooks nie juis gewild nie en Dans op die tafels is nou eers besig om ‘n treffer te word. As die vrystelling van dié album tot omtrent Februarie of Maart vanjaar uitgestel is, sou dit dalk ‘n groter indruk op die publiek gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae