Liedjie vra na wat regtig belangrik is op troudag

In Christiaan Baartman se jongste snit “My vrou” sing hy oor ʼn troudag vanuit ʼn man se perspektief. (Foto: Pink Flower Productions)

Christiaan Baartman, die talentvolle sanger en liedjieskrywer met sy diep rasperstem, het pas ’n hartroerende nuwe enkelsnit en musiekvideo “My vrou” uitgereik, wat na ʼn troudag kyk vanuit ʼn man se perspektief.

Dié volwasse kontemporêre snit uit die pen van Baartman en Jattie de Beer is ’n liefdesverklaring van ’n man aan sy vrou. “Dit is maklik om te vergeet wat regtig belangrik is op jou troudag, omdat dit ’n gejaag is om alles klaar te kry,” verduidelik Baartman. “Baie keer gee die man dan ’n tree terug en help waar hy kan. Maar dit is vir hom ook belangrik – hy gee sy lewe op om een te word met sy vrou.”

Volgens die sanger praat die liedjie vir diegene wat nie weet hoe om hulle gevoelens oor te dra nie. Dit dien as spreekbuis vir mans wat soms sukkel om te sê hoe hulle voel.

“Alles wat ek doen het dieper betekenis – soms is dit ’n fluistering en ander kere skree ek dit van die dakke af. Laasgenoemde is wat hierdie liedjie is,” sê hy.

“Sowat 50% van Suid-Afrikaanse huwelike eindig in egskeiding. Dit is belangrik dat mans, of enigiemand wat besluit om te trou, verantwoordelikheid hiervoor neem. Hulle moet alles insit om hul huwelike te laat werk.”

Baartman is al byna twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik toe hy 19 was. In 2009 het hy ’n Huisgenoot Tempo-toekenning gewen vir liedjieskrywer van die jaar en sedertdien het hy 12 no. 1-liedjies geskryf, waarvan sewe in sy tweede album, Huppel in my stap (2012), verskyn het. Hierdie veelsydige ster het ook in 2016 ’n Ghoema verower. Verder het hy saam met Johnny Late opgetree as die Bearded Man Band.

 “My ma was ’n musiekonderwyser en ek het langs die klavier groot geword. Daarom kon ek harmoniseer voordat ek behoorlik kon praat. Musiek was nog altyd my passie, vandat ek baie jonk was. Dit is my lewe,” sê hy.

Baartman put baie van sy inspirasie uit die lewe. “Die lewe is ’n reis wat soveel liedjies en stories bied. Dit is ons werk as liedjieskrywers om hierdie liedjies op papier te sit,” sê hy.

Hy het groot bewondering vir kunstenaars soos Coenie de Villiers, Christa Steyn, Joshua na die Reën en Douvoordag. “Ek sal graag nog eendag saam met Appel en Jo Black wil werk. Ek dink ons praat dieselfde taal.”

Hy reis gereeld om op hoogte te bly van die jongste musiektendense en een van sy gunsteling-bestemmings is beslis Nashville. “Ek is mal oor Nashville. Ek probeer een keer per jaar daar uitkom om te kuier, te leer en te groei. Vanjaar se kuier is ongelukkig kortgeknip, maar ek glo en hoop dat ek nog ’n geleentheid sal kry om te gaan.”

Die musiekbedryf het vir Baartman geleer dat aanhouer wen. “Die lewe loop in sirkels en voordat jy jou oë kan uitvee, is dit weer jou beurt,” sê hy.

“Hoewel musiek my passie is, studeer ek tans ook om ’n pastorale berader te word –iets wat wat my al sedert my tienerjare na aan die hart lê. Ek is disleksies en het ook aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (AAHS) en hulle het gesê dat ek nooit behoorlik sou kon lees of skryf nie. Nou is ek al besig met my sewende diploma.”

Van sy loopbaanhoogtepunte sluit in die vervaardiging van ’n kinderalbum saam met die Sama-bekroonde musikant Leon Jonkman, om die finale rondte van Idols SA in 2006 te bereik, om vir Smokie in 2012 te open, sy optrede by Huisgenoot Skouspel in 2007 asook konserte by verskeie casino’s in Gauteng.

“Ek het ook tydens die afsonderingstydperk elke aand regstreeks gestroom op Facebook. Dit het my so lief gemaak vir die video-wêreld dat ek begin werk het aan ’n kletsprogram saam met Leon Gropp. Ek is ook besig om my videoredigeringsvaardighede op te skerp.”

Baartman glo daaraan om musiek met betekenis te maak. “Musiek is mooi en kom in verskillende vorme en groottes, net soos mense. Enige mooi wysie of liriek trek my aan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae