Liedjieboer vier 70 jaar

Anton-Goosen

Anton Goosen. Foto: Youtube.com

Deur Daantjie Dinamiet

Die bekende Afrikaanse liedjieskrywer en sanger Anton Goosen, wat alombekend staan as die Liedjieboer, vier op 5 Maart vanjaar sy 70ste verjaardag.

Nadat hy in die onderwys gestudeer het, het hy die musiekrubriek van die tydskrif Huisgenoot onder die skuilnaam Jantjie Blom behartig. In 1975 het Sonja Herholdt tot Springbok Radio se Top-20 toegetree met “Ek verlang na jou’’, en Anton het die opdrag gekry om ’n onderhoud met Sonja vir dié tydskrif te voer. Sonja noem toe aan Anton dat sy op soek was na materiaal vir haar debuutalbum waarmee sy besig was, en toe vertel Anton haar dat hy ’n liedjieskrywer is. Hulle het besluit om mekaar weer te sien, en Anton het ’n lêer saamgeneem met liedjies wat hy in daardie stadium geskryf het. Sonja het besluit om “Jantjie” in te sluit, en dit was die begin van ’n lang en suksesvolle tydperk van samewerking tussen hulle.

In 1977 het Anton sukses behaal met twee liedjies waarvan hy die medeskrywer was. Hy en Tinus Esterhuizen het saamgespan en “Tot siens auf wiedersehen” vir Vicki du Preez geskryf. Vicki het in daardie jaar die twaalfde plek op Springbok Radio se Top-20 met hierdie snit gehaal. Teen die einde van die jaar was Sonja Herholdt se treffer “Mooi Griekeland”, waarvoor Anton die Afrikaanse woorde geskryf het, die algehele treffer van die jaar op die radioprogram Afrikaanse treffers.  Hierdie snit het voorgekom op Sonja se tweede album, Sonja Herholdt, wat ook die komposisies “Umfaan”, “Jy is my lewe” en “Hanoverstraat” ingesluit het.  In 1978 was Carike Keuzenkamp op Springbok Radio se Top-20 met Anton se komposisie “Hoeka toeka”. Anton se groot deurbraak het egter in 1979 gekom.

In daardie jaar het Anton besluit om as sanger tot die musiekbedryf toe te tree, en hy het die eerste kunstenaar geword wat die musiek en liriek van elke snit op ’n Afrikaanse album geskryf het. Dit was egter nie sonder omstredenheid nie. Die titelsnit van Anton se debuutalbum, Boy van die suburbs, is summier deur die SAUK verbied, blykbaar omdat dit die Afrikaner as platvloers uitgebeeld het. Dit het nogtans ’n treffer geword en is glo geïnspireer deur Anton se destydse skoonfamilie. Nog ’n snit wat verbied is, was “Begrafnistyd in Zeerust”. Anton het egter tot Springbok Radio se Top-20 toegetree met “Kruidjie-roer-my-nie”, wat die tiende plek gehaal het en 16 weke lank op dié trefferslys was.

Gedurende die 1980’s was Anton seker ons land se mees produktiewe en gewildste liedjieskrywer, en veral Sonja Herholdt en Laurika Rauch het van sy komposisies opgeneem, onder meer “Harlekyn”, “Straattroebadoere’’ en “Silver de Lange”.  Hy het ook sukses as sanger behaal met treffers soos “Klein bietjie wyn”, “My Stellenbosse nonnatjie”,  “Geelperskereën” en “Pas getroud”.

In 1989 het Anton ’n nuwe rigting in sy loopbaan ingeslaan met die stigting van Anton Goosen se Kommissie van Ondersoek. Lucas Maree, Karlien van Niekerk en Helena Hettema was saam met hom lede van dié groep. Hul debuutalbum, Winde van verandering, het daardie jaar verskyn, en het treffers soos “Huis toe met ʼn waitress”, “Kalbassies” en “Rabbedoe” opgelewer. Die groep het egter gou ontbind, blykbaar omdat Lucas nie van die politieke strekking van sommige snitte gehou het nie.

Die volgende jaar het Anton by die Houtstok-musiekfees opgetree, en die verhoog met legendes soos Herbie en Spence en tant Sannie Briel gedeel. In 1992 het hy en die reggae-sanger Lucky Dube saamgespan vir “Dancer”, die eerste Engelse komposisie wat vir hom ’n treffer geword het. Hierdie snit het selfs radiolugtyd op 5FM gekry, en sy musiek aan ’n groter gehoor blootgestel. Hoewel Anton nog die hele tyd in Afrikaans geskryf het, en dit steeds doen, het hy al meer Engelse snitte ook begin skryf, soos “Sibongile” en “Freewheeling”, waarop die baskitaarspeler Gito Baloyi saam met hom gespeel het.

In 2003 is die konsert Anton Goosen en Vriende in die Staatsteater opgeneem, en gaskunstenaars soos André Swiegers, Alta Joubert, Theuns Jordaan en Sonja Herholdt het saam met hom opgetree.

In 2013 het Anton ’n huldeblykalbum aan oudpres. Nelson Mandela vrygestel; die snit “Viva Madiba” is in nege tale opgeneem, en gaskunstenaars soos Helena Hettema, Dozi, Manuel Escorcio en Gloria Bosman kan op hierdie album gehoor word.

Toe Jeanne Goosen se boek ’n Paw paw vir my darling verfilm is, is Anton genader om die temaliedjie te komponeer en te sing. Daarby is sy musiek van vroeër jare ook nou weer beskikbaar, want twee versamelings waarop sy eerste agt albums volledig verskyn, is pas uitgereik. Dit beteken dat diegene wat sy musiek eers onlangs ontdek het, of jare lank al sukkel om dit op CD te kry, dit nou by hul versamelings kan voeg.

Anton kan as ’n ware legende van Afrikaanse musiek beskou word. Hy kan enige soort liedjie skryf, en die sukses wat Afrikaanse musiek tans behaal, is aan liedjieskrywers en kunstenaars soos hy te danke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.