Liedjieskrywer vereer in FAK-Liedjietuin

“Rembrandt” word deur Piet van Wyk de Vries en dr. Danie Langner onthul

Hy het al liedjies vir Mathys Roets, Dozi en Ricus Nel, om net ʼn paar te noem, geskryf en word gereken as een van die beste Afrikaanse liedjieskrywers.

Piet van Wyk de Vries is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer met die hoogste eerbetoning wat die FAK aan ’n kunstenaar kan gee – ’n liedjiebord in die Afrikaanse Liedjietuin.

“Rembrandt”, een van De Vries se mooiste liedere, staan nou trots in dié kultuurorganisasie se rosetuin, vir generasies wat kom ter herinnering aan ’n fantastiese man wat deurentyd die Afrikaanse kunste bevorder het.

Mathys Roets het ook die funksie bygewoon. Baie van De Vries se liedere het deur Roets se diep fluweelstem bekendheid verwerf. “Piet skryf liedjies wat jou hart raak,” sê Roets en verduidelik dat sy musiek jou uitkyk op die lewe kan verander.

’n Stampvol Liedjietuin, gevul met familie en geliefdes van De Vries, het die spoggeleentheid bygewoon.

“Rembrandt” is in die Liedjietuin vasgesement

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het De Vries bedank vir die diep spore wat hy in Afrikaanse musiek getrap het.

“Afrikaanse musiek is lewend en so lewenskragtig, dáárom die lewende tuin. Dit is vir ons ’n ongelooflike voorreg om die 52ste liedjiebord in ons tuin te onthul.”

Afrikaanse kunstenaars word vir tien jaar in die Liedjietuin vereer en die FAK is trots op dié jongste toevoeging.

De Vries se loopbaan was aanvanklik nie in die Afrikaanse musiekbedryf nie, maar hy het uiteindelik groot sukses behaal met woorde wat waarlik die hart aanraak.

“My pa het my gevat vir ’n FAK-liedjieskrywerswerksessie. Ek het nog steeds die sertifikaat, geteken deur Christa Steyn, Jannie du Toit, Lucas Maree en Johan van der Walt. Dit hang nou nog in my huis,” het De Vries vertel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.