Liefde by die Dam-fees gaan Namib toe

Namibiërs kan vanjaar vir die eerste keer deel in die pret van een van Suid-Afrika se grootste opelugmusiekfeeste, Liefde by die Dam.

Dié fees, wat ook in Johannesburg en Kaapstad aangebied word, word nou ook in Windhoek aangebied en heet Liefde by die Nam.

Kaartjies vir die fees by die Emmarentia-dam in Johannesburg het verlede week in ʼn rekordtyd van sowat twee ure uitverkoop terwyl daar ook nog net etlike kaartjies vir die Kaapstad-fees beskikbaar is.

Dié gewilde musiekfees is bekend vir sy reeks kunstenaars wat die Afrikaanse pop- en alternatiewe klanke van die Suid-Afrikaanse musieklandskap verteenwoordig.

Die Heuwels Fantasies, Francois van Coke, Appel, Bobby van Jaarsveld, Tasché, Early B, Snotkop, Robbie Wessels, Riana Nel, Barto, Justin Vega en Namibië se eie Sagarias Tsam, Riaan Smit en Lin-Mari sal op 9 September by die Windhoek Hoërskool (WHS) Vegkop-stadion in Windhoek op die verhoog te sien wees.

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties, en ook een van die hooforganiseerders van die Liefde-konsertreeks, vertel Die Heuwels Fantasties tree sedert 2009 gereeld in Namibië op.

“Ons het deur die jare baie vriende hier gemaak en vind dat daar ʼn lekker samesyn en groot waardering vir die musiek is. Ons het daaroor begin gesels om Liefde by die Dam moontlik in Windhoek aan te bied en ons is baie trots daarop dat dit nou sy eie gestalte as Liefde by die Nam kry.”

Hy sê Vegkop is een van die mees ikoniese venues in die land en WHS is een van die gesogste skole.

“As individue reis ons ook graag Namibië toe vir vakansies en het regtig jare gelede al ʼn liefde en ʼn hart vir die plek ontwikkel. Ons sien uit daarna om saam met die mense van Namibië ʼn goeie tyd te hê.”

Early B is een van die kunstenaars wat gereeld op die Liefde by die Dam-verhoog te sien is, en vanjaar is hy by al drie die konserte te sien.

“Dit is altyd ʼn eer om selfs by een op te tree, maar om hierdie keer dit te in al die verskillende stede en veral ook in Namibië te ervaar, is nogal groot vir my hoor,” sê die kletsrymer.

Francois van Coke sê hy sien ook uit daarna om by Liefde-konsert in Windhoek op te tree.

“Liefde by die Dam kry altyd die line-up reg. Daar is altyd iets nuuts; altyd iets oud. Altyd iets aan die pop kant en altyd iets aan die alternatiewe kant, so ek dink dis ʼn goeie mengsel van wat op die oomblik in Afrikaans aan die gang is.

“Ek dink die Liefde-span vat dit altyd reg vas vir die spesifieke jare en die fees gaan oor die liefde, en dis ʼn lekker tema. Dis altyd ʼn goeie tyd daar.”

Sagarias Tsam. (Foto: verskaf)

Sagarias Tsam sê dat hy opgewonde is om deel te wees van die heel eerste Liefde by die Nam.

“Ek sien uit om my liedjies in my moedertaal met die gehoor te deel, en ek dink ek gaan sommer ook spesiaal ʼn nuwe liedjie skryf om vir die eerste keer hier te speel.”

Kaartjies vir Liefde by die Nam en meer inligting oor die fees is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.