Liefdesoorlog- Gerhard Steyn en Anaïs

 

LiefdesoorlogHoewel Gerhard Steyn vanjaar tien jaar in die musiekbedryf is, het sy gewildheid eintlik eers begin toeneem nadat hy sy derde album, Breekbaar, vrygestel het. Hierdie album het die treffer Baby tjoklits bevat en daarna het die Suid-Afrikaanse publiek deeglik kennis van hom geneem.

Gerhard se eerste Christelike album, Nuwe krag, was nie die sukses wat ‘n mens sou verwag dit sou wees nie en sy daaropvolgende album, Brood en melk het net een treffer opgelewer, naamlik Parfuum. Nou is hy egter terug met Liefdesoorlog, ‘n album waarop die skitterende nuweling Anaïs saam met hom sing. Die vraag is nou of Gerhard sy gewildheid sal kan herwin.

Wie’t gesê die liefde is blind is ‘n spanpoging van Gerhard en  die vervaardiger van die album, Stass, wie se eie solo-album verlede jaar vrygestel is. Gerhard en Anaïs klink baie goed saam, en hierdie snit kan verseker ‘n treffer word. Twee lede van die groep Adam, Hugo Ludik en Reynhardt Hugo het Een man army, wat Gerhard alleen sing, geskryf. Hierdie liedjie is die eerste treffersnit vanaf die album.  Duidelik soos daglig is Gerhard se eie komposisie, maar Anaïs sing. Hierdie snit is goed genoeg om ‘n radiotreffer te word; dalk is dit haar deurbraak. Vrydagaand is ‘n lekker snit wat hulle saam sing en beslis ‘n treffer kan word. In vir ‘n pond in vir ‘n pennie is ‘n baie goeie snit wat Gerhard saam met Stass geskryf het. Gerhard het die titelsnit geskryf, en weer eens is dit ‘n uitstekende snit wat ‘n treffer behoort te word. Bietjie meer as soen is nie ‘n nuwe liedjie nie. Gerhard het dit geskryf en dit was die titelsnit van Anel Botha se eerste album. Anaïs sing dit op dié album, en dit klink baie beter as Anel se weergawe. Dit het trouens die potensiaal om vir die eerste keer ‘n groot treffer te word. Hier is my hart is nog ‘n goeie snit wat Gerhard geskryf het en alleen sing. Gerhard wys op die pragtige snit My koningin dat hy ook ‘n ballade kan sing. Miskien moet hierdie liedjie gereelde radiolugtyd kry; dalk sal dit sy kritici twee keer laat dink.

Gerhard het sy eie komposisie, Druppeltjies, al voorheen opgeneem, maar Anaïs se weergawe is beter. Harte van glas is die laaste snit wat Gerhard en Anaïs saam sing; weer eens is dit ‘n moontlike treffer. Ken jy my is nog een van Gerhard se komposisies; Anaïs sing dit en jy kan hier agterkom dat sy ongelooflik talentvol is.

Soms gebeur dit dat een trefferliedjie so deel van ‘n kunstenaar se beeld word dat dit onmoontlik is om daardie beeld af te skud. Sedert Baby tjoklits ‘n treffer vir Gerhard Steyn was, het mense begin dink dat hy niks beter kan doen nie, en ‘n mens moet eerlik wees: hy het nog nie regtig weer soveel sukses met ‘n liedjie gehad nie. Op hierdie album kom ‘n mens agter dat Gerhard tot baie beter as dit in staat is; nie net as sanger nie maar ook as liedjieskrywer. Dit was darby ook ‘n baie goeie idee om Anaïs deel van hierdie album te maak. Die liedjies wat sy alleen en saam met Gerhard sing het almal trefferpotensiaal, en dit sal hopelik maak dat sy ooi die erkenning as kunstenaar kry wat sy verdien.  Daar is nie een swak snit op hierdie album nie, en daarom kan dit baie sterk aanbeveel word..

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.