Liefdesverhale- Anders

LiefdesverhaleSoms gebeur dit dat ‘n kunstenaar of groep eers werklik gewild word nadat hulle hul tweede album vrygestel het.

Wynand en Lindi Delport het omtrent twee jaar gelede die sangpaar Anders gevorm, en hoewel hul weergawe van Juanita du Plessis se treffer Ons Koning kom radiolugtyd gekry het en ‘n musiekvideo daarvan gemaak is, het hul debuutalbum nie heeltemal so gewild geword as wat ‘n mens sou verwag nie.

Nou is hulle egter terug met hul tweede album, Liefdesverhale, en die vraag is of die publiek hierdie keer kennis van hulle sal neem.Die eerste snit vanaf die album, Mooi vir my, is reeds ‘n treffer op verskeie radiostasies. Hierin sê hulle dat wie iemand is, net so belangrik as uiterlike skoonheid is, indien nie meer nie.  In die volgende snit, Geel rok, sing hulle van twee mense wat al baie jare lank getroud is en terugdink aan hul eerste ontmoeting. Die tweede treffersnit vanaf die album, Die pad, is ingesluit by die klankbaan van die rolprent Vrou soek boer, en die musiekvideo word al hoe meer gereeld gespeel. Dit is maklik om te verstaan hoekom, want dit is ‘n envoudig maar treffende liedjie. Jy is die een is effens rustiger as die ander snitte op die album tot dusver, maar dit is ‘n pragtige snit. Alles gaan verby is ‘n moontlike treffer, en hierin sing hulle van die lewe wat verbygaan, maar dat liefde die een ding is wat bly staan. Enigiemand wat dit moeilik vind om te praat, en eerder musiek gebruik om gevoelens uit te druk, sal van Liedjie oor jou hou. Hier is nog ‘n snit wat ‘n treffer kan word.  In Klop sing hulle van huweliksmaats wat daar behoort te wees vir mekaar as dit moeilik gaan. Net na jou sluit hierby aan; baie mense kan identifiseer met die gedagte dat hulle niks in die lewe bereik het nie en net ouer word. Sonder jou is, soos die res van die album, ‘n komposisie van Wynand en Lindi, en hierin sing hulle van huweliksmaats wat eintlik afhanklik van mekaar is.

Lindi sing  voor op Meer van die tipiese man wat na ‘n meisie vry, maar sodra hy haar kry, is hy dadelik op soek na iemand anders.  In Hart van staal sing hulle dat daar iemand is wat sal ontdek wie jy regtig is, al probeer jy om iemand anders te wees.  Enigiemand wat van iemand hou, maar nie seker is of daardie persoon dieselfde hou nie, sal met In my drome, waarop Lindi voorsing, kan identifiseer.  Ver is die laaste snit op die album, en aansienlik rustiger as die res van die album. Dit is ‘n pragtige snit; dalk nie ‘n radiotreffer nie, maar dit maak nie saak nie.

Gewoonlik is ‘n album vol liefdesliedjies ‘n bietjie moeilik om te verteer, maar Anders het ‘n manier om iets besonders daarvan te maak. Hulle sing van feitlik elke faset van die liefde en die meeste mense sal hulle daarmee kan vereenselwig. Daarby is die musiek ook baie goed, en hulle het die versoeking weerstaan om té “kommersieel” te probeer wees. Daarom behoort hierdie album die toets van die tyd te deurstaan en sal jy nie sommer gou moeg word daarvoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.