Lig jou glas- Blackie Swart

Lig jou glasHoewel die Suid-Afrikaanse musiekbedryf eers omtrent vyftien jaar gelede van Blackie Swart kennis geneem het toe Liewe Lulu ‘n groot treffer geword het, maak hy al baie langer as dit musiek.
Sedertdien het hy homself gevestig as ‘n veelsydige en talentvolle musikant en het hy nie minder nie as veertien albums vrygestel. Vir die eerste keer in baie jare het hy besluit om ‘n trefferversameling vry te stel, maar daar is ook ‘n paar nuwe snitte op hierdie album.
Die titelsnit is die eerste daarvan. Dit is ‘n huldeblyk aan sy pa, en die lirieke laat ‘n mens dink. Dis maklik om te verstaan hoekom dit al ‘n treffer op sommige radiostasies is. Pappot is nog ‘n lekker snit wat enige partytjie aan die gang sal kry. Blackie is seker een van ons land se voorste kitaarspelers, soos wat ‘n mens op Armgat kan hoor. Daarby sing hy van die lewe sonder geld, wat al hoe meer mense se voorland in vandag se ekonomiese omstandighede gaan word. Hy sê ook dat dit nie saakmaak as ‘n mens nie geld het nie. Sit af jou foon is die volgende nuwe snit op die album, en nog ‘n moontlike treffer. Die volgende snit is die een wat hom ‘n ster gemaak het; daar is ‘n nuwe weergawe van Liewe Lulu hier ingesluit. Saam met die wind is nie eintlik ‘n nuwe snit nie; hy het dit saam met die Johnny Black Band, waarvan hy die hoofsanger is, opgeneem. Pers kombers was die titelsnit van een van Blackie se suksesvolste albums tot dusver. Die boodskap van Kerkstraat is eintlik ironies; baie dorpe en stede het ‘n Kerkstraat, maar nie almal is kerkmense nie. Dit laat ‘n mens nogal dink. Valerie is ‘n lekker dans-treffer en dis lekker om ‘n mandolien hierop te hoor. Volgende is ‘n keurspel wat bestaan uit Visvang, Gysie, Toe word ons dors en Stupid liedjie. Dankie tog laasgenoemde twee is nie in hul geheel ingsluit nie! Op Windgat bakkie spot hy met mense wat maak asof hulle geld het en die bank se geld mors op voertuie wat hulle nie kan bekostig nie. Daar word nie gesê of Wynand Nel op ‘n ware verhaal gebaseer is nie, maar Blackie vertel met groot deernis van hom. Dis winter is nog een van Blackie se eie komposisies wat meer om die lyf het as sommige van die partytjie-liedjies wat groot treffers vir hom geword het. Een voorbeeld daarvan is die volgende snit, Laat hy val, wat byval sal vind by diegene wat elke naweek “hard kuier.” Twee ander snitte wat in dieselfde kategorie val, is Is daar nog wyn en Daar’s lewe na vyf. Die laaste snit, In Afrika, is iets besonders en bewys dat Blackie musiek met inhoud kan skryf as hy wil.
Blackie het met hierdie album gewys dat hy ‘n uiters talentvolle sanger, liedjieskrywer en kitaarspeler is, maar ‘n mens wens dat hy meer gereeld “ernstige” liedjies sal skryf en opneem. Vir diegene wat nog al die jare van sy musiek gehou het, is hierdie versameling egter die moeite werd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.