LIG-konsert: Stories van hoop

lig-konsert.jpgDeur Chandré Oosthuizen

Solidariteit Helpende Hand het in 2021 Sing, Hoop, Weerklink, ʼn konsert vir mense met gestremdhede, aangebied. Dit was ʼn groot voorreg om daarby betrokke te wees en te help met die organisering. Die geleentheid verlede jaar was ʼn groot sukses met meer as 700 konsertgangers. Ek is steeds verstom oor hoe mense saamstaan vir liefde in gestremdheid. Dis die mense wat ons help en waar my liefde lê!

Die LIG-konsert word vanjaar op 3 September by die Soltech-kampus aangebied.

Die sanger Drihan du Plessis, bekend as Prop, het in 2021 met Hannes Noeth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, kom gesels oor sy droom. Van die afskopslag af was ek opgewonde oor die projek. Ek het ʼn liefde vir mense met gestremdhede en dit is ʼn groot voorreg om deel te kan wees van dié projek. Drihan werk as ʼn uitstekende argitek en is ʼn man met groot drome.

Drihan het ʼn lieflike stem en talent om te skryf en wou in 2021 deur Sing, Hoop, Weerklink sy droom bewaarheid. Weens my liefde vir mense met gestremdhede het ek verskeie gesprekke met hulle gehad en wil graag hul standpunte deel.

Drihan is ook gestremd, maar ondanks al die hekkies in sy lewe het hy besluit om vorentoe te stap en te sê: “As ek kan, kan jy. Wat is jou verskoning?” Drihan het sy hele lewe lank aanpassings gemaak om in hierdie besige wêreld sukses te behaal.

Vandag is Solidariteit Helpende Hand dankbaar dat die konsert steeds binne hierdie droom vir ʼn tweede jaar kan voortleef. Solidariteit Helpende Hand poog om om te sien na die fisieke, kulturele, geestelike en sosio-emosionele welsyn van ons bejaardes, kleuters, gesinne en mense met gestremdhede. Ons werk saam in ons sterk strukture om seker te maak ons kyk nie net na die holistiese welsyn van hierdie groepe nie, maar saai ook hoop met elke kans wat ons kry.

Die samelewing is gou om mense as “anders” te klassifiseer en sommer net uit te sluit net omdat hulle anders lyk, dink of praat. Met hierdie konsert wys dit net weer dat almal kan, maak nie saak of jy anders lyk of optree nie. Die konsert is weereens ʼn hoop-saai-konsert. Dis ʼn simboliese tree van hoop wat mense met gestremdhede vat en hardop sê – as ek kan, kan jy ook!

Vernon Barnard (Foto: Verskaf)

Dis juis uit hierdie konsert waar ons ons LIG-studiefonds begin het en vir ʼn student met ʼn gestremdheid ʼn geleentheid wil bied in ons samelewing. Die LIG-studiefonds staan vir Liefde in Gestremdheid. Deur die konsert wil ons ook moontlike donateurs of mense betrokke kry by ons hartsprojek.

Toe ek met Vernon Barnard gesels oor die konsert en sy gestremdheid het hy die volgende genoem: “As ʼn verteenwoordiger van die gestremde gemeenskap was dit vir my ʼn voorreg om deel van die afspringkonsert van hierdie wonderlike inisiatief te kon wees. Die Sing, Hoop, Weerklink-konsert was ʼn platform wat die skeiding tussen mense se andersheid kon oorbrug en uitwys dat daardie andersheid, ondanks uitdagings, geen teken van swakheid hoef te wees nie, maar eerder van oorwinning. Terselfdertyd was dit ʼn motivering van die oortuiging dat dit wat ons verenig, gevind word in universele konsepte, soos ʼn liefde vir musiek; iets wat almal saam kan geniet. Ek is dankbaar om ʼn spreekbuis vir Liefde in Gestremdheid te kan wees en sien verskriklik uit na hierdie jaar se geleentheid.”

suzette-van-rooyen-en-haar-boetie-clinton-002.jpg

Suzette van Rooyen en haar boetie, Clinton. (foto verskaf)

Dit was ook so besonders om met een van my kollegas, Suzette van Rooyen, te gesels. Suzette het twee gestremde boeties en sy het grootgeword in die leefwêreld van ʼn gestremde. Sy verduidelik dat sy nog altyd gevoel het dat die samelewing haar boeties sien as ʼn gebreekte skakel en hulle anders hanteer. Met die LIG-konsert voel sy dat dit nou ʼn ruimte vir bewusmaking van mense met gestremdhede skep, asook ʼn veilige platform vir die kwesbare groep. Sy beklemtoon ook dat hulle nie noodwendig ʼn swak skakel is nie, maar eerder gesien moet word as ʼn unieke skakel.

Kunstenaars wat gaan optree, is die immergewilde Ruhan du Toit, Mathys Roets, Vernon Barnard, Monique Steyn en Drihan du Plessis. Koop jou kaartjies en kom kuier saam by die LIG-konsert.

Kom koop nou jou kaartjie!

Om meer te lees oor die konsert of om jou kaartjies te koop, besoek vandag nog  www.ligkonsert.co.za.

Indien jy nie die vertoning kan bywoon nie, maar steeds ʼn bydrae wil maak, SMS die woord LIG na 45763 en ons sal jou laat weet hoe jy ʼn volhoubare verskil in hierdie gemeenskap kan maak.

Dit sou nie moontlik wees sonder ons borge nie. Ons bedank graag die volgende borge:

Chandré Oosthuizen is by Solidariteit Helpende Hand ʼn maatskaplike werker: Gemeenskapsentrums & Bemagtig ʼn kind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.