Lira op herstelpad na beroerte

Lira se onlangse Instagram-plasing oor haar gesondheid. (Foto: skermgreep/Lira/Instagram)

Die bekroonde Suid-Afrikaanse jazz-sangeres, Lira, is op die herstelpad nadat sy in April vanjaar ’n beroerte gehad het terwyl sy in Duitsland was vir ’n optrede.

In ’n onlangse plasing op Instagram het sy vir die eerste keer sedert die beroerte oor die voorval gesels.

“Dankie vir julle oorweldigende liefde, ondersteuning en gebede. Ek herstel goed. Fisiek is ek ongedeerd, ek is sterk en gesond.”

Sy erken egter dat haar spraak deur die beroerte aangetas is.

“Ek maak elke dag baie vordering. Ek sal tyd afstaan om op my herstel te fokus. Hou asseblief aan met julle gebede, ek kan nie wag om binnekort terug te wees nie,” het die plasing gelui.

In die aanvanklike plasing wat deur die 43-jarige sangeres se familie op haar Facebook- en Instagram-bladsye gemaak is, word daar verduidelik dat sy nie binnekort weer op die verhoog te sien sal wees nie.

“Sy ondergaan behandeling in Suid-Afrika. Sy is onder die sorg van die beste mediese span. Sy is opgeruimd en word deur haar liefdevolle familie en goeie vriende ondersteun,” lui die boodskap.

Lira, ook bekend as Lerato Moipone Molapo, het sowat 16 jaar gelede opslae in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak met haar liedjie “Feel Good”. Dié liedjie het haar ʼn bekende stem op radiostasies gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.